Karel se Gedigte  ::  Afrikaanse Digters  ::  Ander Digters  ::  Boeke  ::  Skakels  :: Kontak  :: Tuis

 

"Dis die Winter wat ek haat, nie vir jou nie..." - Winter

'n Aantal van Petro Roosendaal se gedigte is in Julie opgevoer by Pretoria Universiteit se Krekvars kunstefees onder die titel Korrels van Deernis.

Die gedigte is voorgelees en uitgebeeld deur Abri le Roux van TUKS se dramadepartement en Wilmarie Pretorius.

Die gedigte, wat op Petro se bladsy op woorde.co.za gelees kan word, handel oor die verhouding tussen 'n man en 'n vrou en die verskeie fases van hulle verhouding.  Die uitbeelding deur Abri en Wilmarie is realisties en dra die gevoel van die gedigte uitstekend oor.

"Hierdie laaste uurtjie wat ons saam gedeel het, selfs net dit, hoe skamel ook al, is beter as niks..." - Jou Klipbeeld

Korrels van Deernis beeld die interaksie tussen geliefdes uit op 'n manier wat die leser laat voel asof hy of sy dit self beleef het.  Dit is gegiet in die woorde wat ons self soms soek om ons gevoel vir 'n ander mens te beskryf, maar dikwels nie kan vind nie.

 

"Ek het begin huil… ja… Ek skroom nie eers om te erken dat ek dwarsdeur jou liefkosing hartstogtelik in my binneste gegrens het, omdat dit elke opgekropte emosie van my menswees bevat het nie" - Hartstog

Sommige van die gedigte vertel van die opgehoopte opgewondenheid van 'n liefde wat die eerste keer gevind word.  Ander beskryf die afskeid van die geliefdes en die pyn wat daarmee gepaard gaan.  Petro se skryfstyl is gemaklik en ongekompliseerd.  Die storielyn is sinvol en duidelik, die taal eenvoudig, en die uitdrukkings van liefde, teleurstelling, en hartseer is ongeforseerd.  Dit is 'n stuk wat elke mens wat al ooit liefde ervaar het, en die hartseer wat soms daarmee saamgaan, sal meevoer.

 

Hierdie webblad is opgedateer op: 7 Augustus 2007

© Kopiereg - Karel Ark, Alle regte voorbehou