Voete Was

 

Stofpad, bergpad, kronkelpad
wie sal die wee van die voete verklaar?
Alleenpad, weenpad, huppelpad
wie sal kan sê: “Ek was ook daar.”
Al die stories deur voete vergaar
soms met ʼn doring wat daarin kleef
Al harder word die voete jaar-na-jaar
Gelukkig is die voete wat die reis oorleef

Opdraandpad, afdraaipad, verdwaalpad
die fynste voete word nie gespaar
Vernielpad, hartseerpad, vergifnispad
dis die hart wat die liefde bewaar
wat die trap van die voet laat bedaar
Geseënd is die spoor wat na vrede streef
die voete wat verenig met nog ʼn paar
Gelukkig is die voete wat die reis oorleef

Sagtepad, reguitpad, huistoepad
ʼn duisend paaie se stof vergaar
Liefdespad, gelukspad, saamweespad
laat water en hande jou voete bewaar
uit hierdie ritueel word voete gebaar
wat nooit na die klippad sal streef
en nooit weer alleen hoef te vaar
Gelukkig is die voete wat die reis oorleef

envoi
  Saam maak die spore nou net een paar
  met die sagste sand wat daaraan kleef
  Wie sal die liefde dan ooit verklaar?
  Gelukkig is die voete wat die reis oorleef

 

 

© Kopiereg - Karel Ark, Alle regte voorbehou