Tydloos

My uurwerk is gestem om tyd in te haal.
Tien jaar reeds jaag ek elke sekonde
om 25-uur dae op te maak:
die vonnis vir my sonde.

Want een nag, tien jaar gelede
het ek van jou tyd gesteel
en met ‘n vreemdeling het ek
dit wat heilig was gedeel.

En nou, ‘n dekade later,
is my ratte weggeslyt en verweer,
die veer te styf gedraai,
en plek-plek roes die wysers deur.

Maar al die jare het ek vir elke uur
slegs ‘n halfuur afbetaal,
want kort voor my vonnis, blyk dit nou,
het jy ook een nag afgedwaal.
 

 

 

 

 

 

 

© Kopiereg - Karel Ark, Alle regte voorbehou