Storm

Jou lyf is heuwels goue gras in die son,
‘n begeelike en vrugbare landskap.

En van tyd-tot-tyd bou die storm in my op:
die wit wolkkastele en blougrys kolomme,
die silwer blitse, die donder wat dreun,
wat my begeerte verraai,
om oor jou heuwels te reën.

In die skadu’s roer die boodskapper,
die fluisterstem van die wind,
wat woorde en gedagtes
in die reuk van die reën toevou,
as ons swerwerharte mekaar vind.

Dan, in die skemer, val die eerste warm druppels
om die wolke en heuwels in mekaar te verbind.

 

 

 

© Kopiereg - Karel Ark, Alle regte voorbehou