Skeiding

 

Ek dink deesdae nie gereeld aan God nie -
dis ‘n rou plek in my gemoed,
geskaaf deur my eie sonde,
teleurstellings, vrese, en verwyte.

Maar vandag het ek aan Hom gedink.
Ek het gewonder of Sy hart oor my voel,
soos myne oor Hom.
Want in hierdie skeisaak het ek geveg
vir primere sorg oor my,
en Hy het slegs enkele naweke gekry.

Dit het ek gedink toe ek jou speelgoedslak
met die rooi mus en die groen oë in my bed kry
waar jy vanoggend by my kom inkruip het.
En my hart krimp gedagtig aan vanmiddag se afskeid,
en my verwydering van my eie bloed,
elke keer as ek jou klein lyfie moet groet.


 

 

 

© Kopiereg - Karel Ark, Alle regte voorbehou