Sal Ons Kan Bid?
 

In die Notre Dame het ek
telkemale op ‘n Sondag
gaan sit om te dink.

Ek het soms gedink aan God,
aan jou man,
aan my vrou:
aan ons sonde
soos deur die Gideonsbybel
op die kassie beskou.

Dan het ek gestaar na die hoë pilare,
die boë, die kerse, die vensters,
die altaar, die mense.

In my mymering het ek gewonder
of ons ooit saam sou wees.
En as dit sou gebeur,
hoe sal dit wees?
Sal ons saam kosmaak,
saam wakker word,
saam koffie drink,
saam boeklees,
dalk ‘n hond grootmaak;
sal ons saam bid?

Of sal God,
wat die bewaker van die huwelik is,
ons straf oor die wet van die huwelik,
omdat ons die geloof van die liefde,
bo die wet gekies het?


 

 

© Kopiereg - Karel Ark, Alle regte voorbehou