|
|
Ons Verhaal
Jou woorde hang nog hier, blou,
soos rook in ‘n goedkoop hotel.
In die eeste oggendure,
dwaal die skadus van jou woede
steeds rigtingloos teen my mure.
Ons het baklei.
Ek sluk aan koue koffie,
wonder, skryf, wonder, skryf
oor die manier hoe verwyte gedy
en liefde oornag kan verrot
tot daar net droë bene oorbly.
Ons het gegroet.
So was dit ook met ons:
die lyne van liefde en haat
konvergeer tot ‘n dun spiraal
onskeidbaar gevleg in mekaar;
en so eindig ons verhaal.
|