|
Net Woorde
In woorde het ons die
droom gebou.
Met struikelende woorde uit jou vingers
het jy geskryf: “Ek is lief vir jou.”
Met huiwerende woorde het ons
aan haar geboorte gegee,
haar lyfie teen ons vasgehou.
Dieselfde woorde het een lentemiddag
blitsend die storm aangekondig
waaruit letters vir weke sou reën
en wegsink in die sagte grond,
sonder om in
poeletjies te versamel
waaruit ons sinne kon leen.
Ons liefde was geweef met woorde,
‘n skadu van wat ons harte wou:
maar steeds was dit net woorde.
|