In onsigbare rye onder die grond
wagtend, wetend sluimer die dood.
Tussen my en die basis, blink en rond
plant ek die woede gevul met lood.
Met my eie hande en eie mond
het ek die veilige vesting verstoot.
Peinsend lê ek in 'n diep-diep sloot.
Dan die flits, die slag, die wond.
Die onskuldige hart van 'n kind ontbloot
deur skrapnel van 'n verbreekte verbond.
Die beloftes van vrede eenkant gestoot,
trane en bloed meng in die grond.
Diep in die nag bewaak ek die front
maar agter, in die koue verstoot
kruip die gewonde nog angstig rond,
kreunend en vegtend teen die dood.
Vir oulaas vee ek die bloed uit my mond
dis skaars die begin, en ek moet voort.