|
|
Mynbou
My lewe is ʼn
grondstof -
rou erts gemyn uit ʼn oop wond
in die sy van die aarde
losgeskiet om ʼn volk
se onbevredigbare behoefte
na welvaart te bevredig.
Elke dag word ek gemyn –
goedkoop verkwansel en
weggery op stofpaaie,
gevlieg na vreemde lande.
waar hulle my maal en smelt
en terugverskeep in kiste.
Maar in hul drif het die geoloë
die rif te diep gemeet;
die afsetsel se gehalte oorskat.
Want stukkies rooigrond
slaan plek-plek reeds deur
om die produk te kontamineer.
|