My Geliefde

My geliefde is ‘n skugter skadu
wat skuil in die gange van my hart.
Haar sagte fluister roer my wakker
uit droomskadus geverf in swart.

My geliefde is die nagwind
wat saggies oor my streel.
Haar vingers verdeel my lippe
om ‘n stukkie liefde te steel.

My geliefde is die maanlig
wat my oë binnedring.
Sy hou my in hipnose
as sy haar lippe nader bring.

My geliefde sug soos die see
die liefdeswens in my oor.
Haar sagte lippe blom
as my passie haar deurboor.
 

 

 

© Kopiereg - Karel Ark, Alle regte voorbehou