|
|
Leë Huis
Vandag het ek ons huis gepak.
Die besittings wat lovers bymekaarmaak:
die bed met die wit duvet – effens ingeduik,
twee wit kamerjasse – ongebruik,
‘n koffiemaker, kurktrekker, donkersjokolade,
en in die yskas ‘n wynbottel – halfvol.
Uit die kaste pak ek die
klein bewyse van die liefde.
Koeverte, kaartjies, ‘n digbundel,
‘n sakkie La Perla lingerie met Chantilly lace – ongebruik,
gekoop by La Fayette in Parys.
‘n Buisie tandepasta – halfleeg.
Toe die lorrie opdaag vir die trek
haal ek die ongeleesde briefie van die yskas af
en ek lieg vir die drywer dat ek oorsee gaan werk.
|