Jou oë

Ek vra jou oor jou oë se kleur.
Die dun draadjies van jou iris,
gevleg tot ‘n volmaakte patroon,
oor en kruis en heen en weer,
soos die wortels van ‘n vyeboom.

Jy sê dis hazel, maar ek sien meer:
die sagte groen van die buitekring
verander geleidelik tot herfsbruin
en val dan deur die swart pupil
waar dit diep in jou siel verdwyn.

Dis die geheime van jou siel
waaroor ek wonder vanaand.
Ons gesprek oor drome wat beswyk,
oor liefde, oor alleenwees,
terwyl ek diep-diep in jou oë inkyk.

 

 

 

 

 

 

© Kopiereg - Karel Ark, Alle regte voorbehou