Geveg vir Jou


In die boord, net langs die koppie
waar die olywe dofgroen staan
het ek, daardie middag in September,
my laer opgeslaan.

Hý was reeds op die koppie,
na ‘n lang dag van bloedig veg.
Saam met hom was daar nog twee,
een ‘n rower, een ‘n kneg.

My strategie vir die kragmeting
was lank reeds goed bewaak,
om hierdie gebied in te neem
sou ek jou hart moes skaak.

Maar teen drie-uur was daar donder
en die lug met swael gevul,
op die koppie hoor ek hoewe klop
toe die duister ons omhul.

Dan sien ek hom op die skimmel,
wapenloos, in sy hand die trofee.
Nog voor ‘n swaard getrek was,
het jy jou hart vir hom gegéé.


 

 

 

© Kopiereg - Karel Ark, Alle regte voorbehou