|
|
Ek het van jou gedroom
Ek het van jou
gedroom gisteraand,
want vanoggend was my kussing
nog gedimpel met jou gesig.
Ons was op die strand gewees,
want tussen die lakens op my bed,
was daar sand by die voetenent.
Ons het hande vasgehou,
want my palm was nog warm
en my vingers gevorm soos jou hand.
In my droom moes ons gesoen het,
want my lippe was klam,
soos jou smaak in my mond opdam.
Ons het saam aan die slaap geraak,
want my rug was koud,
maar my voorlyf warm ge-lepel.
In die droom wou ek nog iets vir jou fluister,
jou met ‘n laaste gedagte toevou,
want op my tong ontdek ek drie woorde:
Ek en Lief en Jou.
|