|
|
Doringboom
Jy, doringboom, groei
tussen die geil goue gras
op die vlaktes van my hart.
Jou silhoeëtte versier my oggende met purper skadu’s,
en my sonsondergange met geel, rooi, en oranje fresko’s.
In die vroegaand is die maan ‘n gekraakte pêrel
deur die takkies van jou ledemate.
In die laatnag flikker die Suiderkruis oor jou kroon,
en Orion se gordel hang los om jou lendene.
My siel is verkleef aan jou soos jou eie bas,
sonder jou sal ek uitdroog tot brandhout.
|