Die Afspraak

 

Die oerverhaal van goue skaal;

die jurie in die galery

Hul sal die uitkoms hier bepaal,

want alles moet van lewe skei

Die siekte waaraan almal ly,

die kwaal se naam is ouderdom

Vergeefs om teen sy gang te stry,

verken jou siel, die afspraak kom!

 

Die skemerson van tyd bepaal,

dat grys en plooi ons skadu bly

Voor tyd staan al wat vlees is kaal;

erosie van die Adams-klei

Dan, voor jy mens jou sin kan kry,

word jy geroep om op te som,

van wat jy was en hoe verkry,

bewaar jou siel, die afspraak kom!

 

Uit die stofrak word die boek gehaal,

dis swart op wit, daar’s min te stry.

Hier word daar net een ding bepaal,

aan wie het jy jouself gewy:

getoets in vuur, om kroon te kry,

of Lucifer se ritmedrom?

Besluit maar self teen wie jy stry;

deursoek jou siel, die afspraak kom!

 

 

 

 

 

 

© Kopiereg - Karel Ark, Alle regte voorbehou