|
|
Charles Darwin
Op die voordek van
die Beagle
staan ‘n skraal man deur die son verweer.
Sy oë tuur afwaarts in die blou water
wyl hy die ewolusie-spoor beredeneer:
“Eers was daar die vinne,
toe kom daar ‘n sleepsel,
en later was daar ‘n hoef.”
Met baie soek en peins
het hy by implikasie bewys,
as jy die spoor kan volg,
sou die primaat daaruit verrys.
En later, eers dof, dan duideliker,
tot hy dit self moes glo,
die groot geheim van die lewe:
daar’s mensebloed in die spoor.
Darwin,
as jy maar geweet het van al die vinne,
toe die land en see met een woord skei,
of die sleepsel in die paradys,
of die donkie waarop Hy moes ry;
dan sou jy opgekyk het van die spoor,
en die voete wat dit maak gewaar,
wat steeds die bloed in spore drup
en die stem wat fluister: “Ek was nog altyd daar.”
|