Bankrothart
vir mevrou Ark

 

Die meubels in my hart se huis
word deesdae gereeld geskuif.

Die riempiesbank was eers op die stoep,
maar staan nou in die voorkamer.
Die eetkamertafel moes uit,
en staan nou in die oorvol kelder.

So skuif-skuif ek die plek,
want die dag as die balju
my bankrothart kom opskryf,
moet dit hom ʼn jaar neem
om alles uit te kry,
en met sy lykswa weg te ry.


 

 

 

 

© Kopiereg - Karel Ark, Alle regte voorbehou