|
|
As 'n Hart Sterf
My hart is ‘n donker plek vol onrus
‘n diep nag sonder die belofte van ‘n skemer.
Ek drink van die onsekerheid
wat kook uit die potte wantrou,
en gee myself dan ook nóg om te drink.
Dan struikel ek in die gitswart gange rond,
tastend na ‘n teken van jou.
Maar ek val telkemaal oor my eie gedagtes
of strompel deur ‘n poel hartseer
wat my met taai vingers probeer intrek.
So is dan my lot:
van pot tot pot,
van gang tot gang,
van stof tot stof,
terwyl my hart, sterwend,
aanhou na jou verlang.
|