![]() |
| Wilma Stockenström |
|
1. Huurling
|
|
Huurling Aansoeke word ingewag om die betrekking van huursoldaat vir 'n nog te beplande oorlog. Vervoer kosteloos. Besoldiging so-so. Vereiste kwalifikasies: diverse littekens, vliesige herinnerings aan Kuba en Kataga en op die voorkop die Biafraanse Kaïnsmerk. Jong, hier's hy, kranige kolpolteur van die dood met jou vossnorretjie, jou blaasvlamblou ogies meneer raapskraap, meneer koelsmoel! Komaan! Man, ou pang, ou afgetrede oud-alles, tuis pure drel, maar boeta, sit hom tussen vlerke! Komaan! Afgetakelde hiperheld, daar's 'n stryd te stry! 'n Stryd te stry, inderdaad, om die bladlose woude van Suidoos-Asie waar stronke van bome verrys bo laagliggende gasse, 'n stryd om die melaatse ruïnes in Rotterdam, Dresden, Hirosjima. Kyk hoe netjies roof ons held se geoefende hande sy klein profyt in die groot gemanipuleerde profyt! Toe komaan! Julle paens van poenskoppies! Julle opgeruimde middeljarige adolessente, ramkat, oooo, die bieliebaasloodse met die strokiesprentglimlag en die plunderende blik! Hier's jou kans, hier, verrimpelde Boy Scout, hinkend op jou bene slepend swaar van sjrapnel. Slaggereed die ereksies van projektiele, strategies opgestel, en slaggereed en verseël die duikbote, elegant in grys, net vir geval die kolletjies ooloë, hier, daar, oraloor soos velkanker sprei en sluit oor die verwese gesig, en om die sku oë, van die eerste mens (terug) |
| © Kopiereg - Karel Ark, Alle regte voorbehou. Wilma Stockenström hou die kopiereg van die gedigte op hierdie bladsy. |