W.E.G Louw
1. Ek sal opstaan

2. Ek Moet Nog Één Maal Weer Bemin

3. Herdenking



Ek sal opstaan
Ek sal opstaan en na my vader gaan;
opstaan uit my vodde en my vuil;
opstaan en onder die volle maan
wat geel streep oor die vleiland, gaan en huil
aan sy breë skouer, en hóm saggies vra
om alles te vergeet, en te vergewe
die jongkrag van my hoon wat hy moes dra;
dat ek weer soos 'n kindjie klein die lewe
vol sonskyn voel, die vreugde van my werk
in die wingerd waar pers die swaar korrels hang;
dat ek weer voel my hande jonk en sterk,
die voorjaarskoelte saggies teen my wang –
Voorwaar, onmiddellik na my vader sal
en moet ek gaan, en aan sy voete val.

(terug)


Ek Moet Nog Één Maal Weer Bemin

Ek moet nog één maal weer bemin
soos die seemeeu die see,
snik oor die blink waters van 'n siel,
en draai en draai oor die skaduskyn
van my eie beeld in haar -
Ek moet nog één maal weer bemin
soos die son die blomme, en straal
al die hitte en die brandgloed
van my siel oor haar -
nog één, net één maal
die bloedbitterheid van 'n soen voel soos die dood,
met trane eet my brood -

(terug)


Herdenking

O my liefste, as die appelbloeisels
weer tenger aan die takkies hang,
moet ek dink aan jou en wonderlik
stil in my hart verlang
na daardie eerste laaiende liefdestyd
toe jy vir my was my daelikse brood,
die helder water wat ek drink
in my bitter eenlingnood...

(terug)