![]() |
| W.E.G Louw |
|
1. Ek sal opstaan 2. Ek Moet Nog Één Maal Weer Bemin
|
|
Ek sal opstaan Ek sal opstaan en na my vader gaan; opstaan uit my vodde en my vuil; opstaan en onder die volle maan wat geel streep oor die vleiland, gaan en huil aan sy breë skouer, en hóm saggies vra om alles te vergeet, en te vergewe die jongkrag van my hoon wat hy moes dra; dat ek weer soos 'n kindjie klein die lewe vol sonskyn voel, die vreugde van my werk in die wingerd waar pers die swaar korrels hang; dat ek weer voel my hande jonk en sterk, die voorjaarskoelte saggies teen my wang – Voorwaar, onmiddellik na my vader sal en moet ek gaan, en aan sy voete val. (terug) Ek Moet Nog Één Maal Weer Bemin Ek moet nog één maal weer bemin soos die seemeeu die see, snik oor die blink waters van 'n siel, en draai en draai oor die skaduskyn van my eie beeld in haar - Ek moet nog één maal weer bemin soos die son die blomme, en straal al die hitte en die brandgloed van my siel oor haar - nog één, net één maal die bloedbitterheid van 'n soen voel soos die dood, met trane eet my brood - (terug) Herdenking O my liefste, as die appelbloeisels weer tenger aan die takkies hang, moet ek dink aan jou en wonderlik stil in my hart verlang na daardie eerste laaiende liefdestyd toe jy vir my was my daelikse brood, die helder water wat ek drink in my bitter eenlingnood... (terug) |
| © Kopiereg - Karel Ark, Alle regte voorbehou. W.E.G Louw hou die kopiereg van die gedigte op hierdie bladsy. |