![]() |
| Totius (J.D. du Toit) |
|
1. Die tarentaal
|
|
Die tarentaal Die kruiwawiel se skreeugeluid kerm hy droefgeestig uit terwyl die skeemring vinnig daal, die tarentaal. Hy soek - en dit is ook al laat - vir hom 'n kameraad, om in 'n boom die eensaamheid en nag te slyt. Sáám sal hul in 'n blinkblaarboom half slaap, half waak, half droom, en by die naadring van verderf, alléén nie sterf. * Ek het gemik, en met die knal het een dood neergeval; die ander vlieg met wilde krag wèg in die nag! (terug) Die Godsbesluit Voor die onheilswoning en tussen die skaars-beblaarde soetdorings staan, in droë aarde maar lowergroen en blink van blad, die wag-'n-bietjie langs die pad. Wanneer ek naderkom dan sien ek dorings krom en reg; 'k sien takke inmekaar gevleg. En wil ek in die blare gryp of aan die takke breek, dan tas ek in 'n doringnes wat vreeslik haak en steek. Bo al u donker bome, o Heer, groei my 'n enk'le reusboom uit: dit is die wag-'n-bietjie-bos van u besluit. Van vers so skoon, so groen, so blink... maar hoe verward wanneer ek dieper kyk en dink as wat 'n sondaar pas. En steek ek dan my hande uit na u besluit, dan gryp ek in die dorings vas. (terug) O die Pyn-gedagte O Die pyn-gedagte: My kind is dood!... dit brand soos 'n pyl in my. Die mense sien daar niks nie van, en die Here alleen die weet wat ek ly. Die dae kom en die nagte gaan; die skadu's word lank en weer kort; die drywerstem van my werk weerklink, en ek gaan op my kruisweg vort. Maar daar skiet aldeur 'n pyn in my hart, só, dat my lewe se glans verdwyn: Jou kind is dood met 'n vreeslike dood! en - ek gryp my bors van die pyn. O die bliksemgedagte!...Ja, lieflingskind, één straal het jou skone liggaam verskroei, maar bliksemstrale sonder tal laat my binneste brand en bloei. Sy was so teer soos 'n vlindertjie, sy't lugtig omheen geswerf; 'n asempie wind kon haar vlerkies breek en - kyk watter dood moes sy sterf! Hoe weinig die kinders wat so moet sterf, dis één uit die tienduisend-tal. en ag! dat dit sy was en ek moes sien dat sy dood in my arms val! O die pyn-gedagte: My kind is dood!... dit brand soos 'n pyl in my; die mense die sien daar niks nie van, en die Here alleen die weet wat ek ly. (terug) Vergewe en Vergeet Dat gij niet vergeet de dingen die uwe ogen gezien hebben. (Deut 4:9). Daar het 'n doringboompie vlak by die pad gestaan, waar lange ossespanne met sware vragte gaan. En eendag kom daarlanges 'n ossewa verby, wat met sy sware wiele dwars-oor die boompie ry. "Jy het mos, doringstruikie, my ander dag gekrap; en daarom het my wiele jou kroontjie platgetrap." Die ossewa verdwyn weer agter 'n heuweltop, en langsaam buig die boompie sy stammetjie weer op. Sy skoonheid was geskonde; sy bassies was geskeur; op een plek was die stammetjie so amper middeldeur. Maar tog het daardie boompie weer stadig reggekom, want oor sy wonde druppel die salf van eie gom. Ook het die loop van jare die wonde weggewis - net een plek bly 'n teken wat onuitwisbaar is. Die wonde word gesond weer as jare kom en gaan, maar daardie merk word groter en groei maar aldeur aan. (terug) Psalm 23 Net soos ’n herder uittrek met sy skape en hul laat neerlê in die veld van milde groen, met sagte hand hul lei langs stille waters — so is die Heer, so het Hy ook aan my gedoen: Hy laaf my siel en lei my swakke skrede in vaste spoor van sy geregtighede. (terug) |
| © Kopiereg - Karel Ark, Alle regte voorbehou. Totius (J.D. du Toit) hou die kopiereg van die gedigte op hierdie bladsy. |