Totius (J.D. du Toit)
1. Die tarentaal

2. Die Godsbesluit

3. O die Pyn-gedagte

4. Vergewe en Vergeet

5. Psalm 23



Die tarentaal
Die kruiwawiel se skreeugeluid
kerm hy droefgeestig uit
terwyl die skeemring vinnig daal,
die tarentaal.

Hy soek - en dit is ook al laat -
vir hom 'n kameraad,
om in 'n boom die eensaamheid
en nag te slyt.

Sáám sal hul in 'n blinkblaarboom
half slaap, half waak, half droom,
en by die naadring van verderf,
alléén nie sterf.

*

Ek het gemik, en met die knal
het een dood neergeval;
die ander vlieg met wilde krag
wèg in die nag!

(terug)


Die Godsbesluit
Voor die onheilswoning en
tussen die skaars-beblaarde
soetdorings staan, in droë aarde
maar lowergroen en blink van blad,
die wag-'n-bietjie langs die pad.

Wanneer ek naderkom dan sien
ek dorings krom en reg;
'k sien takke inmekaar gevleg.
En wil ek in die blare gryp
of aan die takke breek,
dan tas ek in 'n doringnes
wat vreeslik haak en steek.

Bo al u donker bome, o Heer,
groei my 'n enk'le reusboom uit:
dit is die wag-'n-bietjie-bos
van u besluit.
Van vers so skoon, so groen, so blink...
maar hoe verward
wanneer ek dieper kyk en dink
as wat 'n sondaar pas.
En steek ek dan my hande uit
na u besluit,
dan gryp ek in die dorings vas.

(terug)


O die Pyn-gedagte
O Die pyn-gedagte: My kind is dood!...
dit brand soos 'n pyl in my.
Die mense sien daar niks nie van,
en die Here alleen die weet wat ek ly.

Die dae kom en die nagte gaan;
die skadu's word lank en weer kort;
die drywerstem van my werk weerklink,
en ek gaan op my kruisweg vort.

Maar daar skiet aldeur 'n pyn in my hart,
só, dat my lewe se glans verdwyn:
Jou kind is dood met 'n vreeslike dood!
en - ek gryp my bors van die pyn.

O die bliksemgedagte!...Ja, lieflingskind,
één straal het jou skone liggaam verskroei,
maar bliksemstrale sonder tal
laat my binneste brand en bloei.

Sy was so teer soos 'n vlindertjie,
sy't lugtig omheen geswerf;
'n asempie wind kon haar vlerkies breek
en - kyk watter dood moes sy sterf!

Hoe weinig die kinders wat so moet sterf,
dis één uit die tienduisend-tal.
en ag! dat dit sy was en ek moes sien
dat sy dood in my arms val!

O die pyn-gedagte: My kind is dood!...
dit brand soos 'n pyl in my;
die mense die sien daar niks nie van,
en die Here alleen die weet wat ek ly.

(terug)


Vergewe en Vergeet
Dat gij niet vergeet de dingen die uwe
ogen gezien hebben. (Deut 4:9).

Daar het 'n doringboompie
vlak by die pad gestaan,
waar lange ossespanne
met sware vragte gaan.

En eendag kom daarlanges
'n ossewa verby,
wat met sy sware wiele
dwars-oor die boompie ry.

"Jy het mos, doringstruikie,
my ander dag gekrap;
en daarom het my wiele
jou kroontjie platgetrap."

Die ossewa verdwyn weer
agter 'n heuweltop,
en langsaam buig die boompie
sy stammetjie weer op.

Sy skoonheid was geskonde;
sy bassies was geskeur;
op een plek was die stammetjie
so amper middeldeur.

Maar tog het daardie boompie
weer stadig reggekom,
want oor sy wonde druppel
die salf van eie gom.

Ook het die loop van jare
die wonde weggewis -
net een plek bly 'n teken
wat onuitwisbaar is.

Die wonde word gesond weer
as jare kom en gaan,
maar daardie merk word groter
en groei maar aldeur aan.


(terug)


Psalm 23
Net soos ’n herder uittrek met sy skape
en hul laat neerlê in die veld van milde groen,
met sagte hand hul lei langs stille waters —
so is die Heer, so het Hy ook aan my gedoen:
Hy laaf my siel en lei my swakke skrede
in vaste spoor van sy geregtighede.

(terug)