Toon van den Heever
1. Verlange

2. In die Hoëveld



Verlange
Die son daal in glorie; basuine
Steek op in die hemel van kleur
En knetter oor rotse en duine,
Wat die troos van sy taptoe verbeur;
Die klowe word pers en die hange,
Die bergtoppe bloos in hul' prag;
Die wind blus die gloed en maak gange
Van groen en smarag.

Maar gee my 'n dag op die Hoëveld,
Waar 'n wilkerboom druip oor 'n voor,
Waar die rooi vesels spoel in die water
En die vinkneste wiegel daaroor.
Ek wil douspore trap op die kweekvlak,
Ek wil groen sien en skoon asemhaal;
Ek is sat van die dal van Giloam,
Waar net knoetsige boom'graamtes praal.

(terug)


In die Hoëveld

In die Hoëveld, waar dit oop is en die hemel wyd daarbo,
Waar kuddes waaigras huppel oor die veld,
Waar 'n mens nog vry kan asemhaal en aan 'n God kan glo,
Staan my huisie, wat ek moes verlaat vir geld.

En as ek in die gange van die myn hier sit en droom
Van die winde op die Hoëveld, ruim en vry,
Dan hoor ek die geklinkel van my spore, saal en toom,
Sawens as ek bees- of skaap-toe ry.

Op die Hoëveld, waar dit wyd is, waar jy baie ver kan sien,
(Die ylblou bring 'n knop dan in jou keel)
Staan my huisie nog en wag vir my, wag al 'n jaar of tien,
Waar die bokkies op die lei-grafstene speel.
Maar as die tering kwaai word en ek hoor die laaste fluit,
Dan sweef ek na die Hoëveld op die wind
En soek dan in die maanlig al die mooiste plekkies uit
Waar ek kleiosse gemaak het as 'n kind.

(terug)