![]() |
| S.J. Pretorius |
|
1. Die Kranksinnige
|
|
Die Kranksinnige In hierdie sel agter die grense van die vel en die hoë vensters van die oë is twee mense: die een is gek, die ander, ek. Dis hy wat kerm en gil maar ek is bang en stil. In elke klein uur van die nag veg ek teen hom met minder krag en as hy wen dan skree hy uit sy wrok teen God en wêreld uit. In hierdie klein vertrek van vlees en been, is twee. Die een is gek, die ander, Ek. (terug) Leeu in die dieretuin Sy sien die maanhaar op die grou beton, sy ore stomp, sy lang stert spitsgekwas, geel flikkerende oë in die son, en wonder of hy soms nie in die gras waar Pappie Sondag ry graag sou wou speel: ho wreed om tussen mure ingeperk te ly...mens voel asof jy hom moet streel en argloos vat sy aan die traliewerk. Toe storm hy met donderende gebrul en gryp die vinger styf van vrees gekrul en byt deur senings sonder mededoë en skeur die vleis en been totdat die bloed 'n kabbelende stroom word en ver, soet groen vlaktes opdans voor sy droewe oë. (terug) |
| © Kopiereg - Karel Ark, Alle regte voorbehou. S.J. Pretorius hou die kopiereg van die gedigte op hierdie bladsy. |