N.P. van Wyk Louw
1. Nog in my laaste woorde

2. Suiwer Wiskunde

3. Afskeid

4. Die boodskap aan Maria

5. Winter

6. Die liefde in my

7. Nagreën

8. Vroegherfs

9. Dat alle liefde



Nog in my laaste woorde
Nog in my laaste woorde sal jy wees,
nog in die laaste skeemring van my dink
en weet, as ek alleen in die bitter vrees
van sterwe le, en al die mindre sink
in my deur vaal vergetelheid: veel haat,
veel liefde wat kon waag om min te vra,
ure wat rus geken't, of blote daad,
en nie die teken van jou onrus dra,
o jy wat vlam was: skoon en sterk en blind
vir smart; wat alles tot jou beeltnis brand;
wat als kon eis en nooit volkome vind
versadiging! Dan weet ek het jou hand
my jeug se oopgelate kring voltooi:
mooi is die lewe en die dood is mooi.

(terug)


Suiwer Wiskunde
Die uurwerk kantel. En die ligbruin by
hang roerloos voor die blom wat nooit bevrug
word, nooit saad salskiet, en nooit verby
hierdie verstarde uur sal groei. Die lug

het stil soos ys gaan staan, so wit en blou.
Die brander wat wou oorbuig, val, en skuim,
bly in sy ligte sirkels vasgehou
en moet sy see 'n ewigheid versuim.

(terug)


Afskeid
Jy't weggegaan en jy bewoon
'n silwer herberg in die sneeu
jou venster kyk nog elke nag
met drie blink oë na die plein
die plein is boom en wind en boom
en wind en wind
en wintermiddag voer daar iemand
die meeue krummels teen die wind

(terug)


Die boodskap aan Maria
Sy 't deur die skaduwee gegaan
in die soet lentenag,
skraal-wit en skemerig en nog sku
van naamlose verwag;
soos 'n groot nagblom oop
waaroor die motte bewend hang,
so was sy onder die sterre, in haar
onwetende verlang.
Maar toe Hy kom, het sy geweet.
Geen stem was daar,
net enkele sterre donkerder
en blydskap soos 'n tent óm haar;
en alle verlange buitekant
het trug- en tuisgekeer
tot innigheid, en rus gekry
soos waters in 'n donker meer,
en huiswaarts oor die paaie het sy
gepeins dat vreugde só kon wees:
vervuld en woordeloos, en stil
geglimlag oor haar verre vrees.

(terug)


Winter
Nou lê die aarde nagtelang en week
in die donker stil genade van die reën,
en skemer huise en takke daeliks bleek
deur die wit mistigheid en suising heen.
Dis alles ryk en rustig van die swaar
geheime wasdom wat sy paaie vind
deur warm aarde na elke skeut en blaar,
en ver en naby alles duister bind
in vog en vrugbaarheid en groot verlange;
tot ons ’n helder middag skielik sien
die gras blink, en die jong graan teen die hange,
en weet dat alle rus die lewe dien:
hoe kon ek dink dat somer ryker is
as hierdie groei se stil geheimenis?

(terug)


Die liefde in my
Dis altyd jy, net altyd jy,
die een gedagte bly my by
soos skadu's onder bome bly,
net altyd jy, net altyd jy.

Langs baie weë gaan my smart,
blind is my oë en verward,
is alle dinge in my hart.

Maar dit sal een en enkeld bly,
en aards en diep sy laafnis kry,
al staan dit winter, kaal in my,
die liefde in my, die liefde in my.

(terug)


Nagreën
Die reën skuifel deur die straat,
verby my venster, mensverlaat …
Soos ’n trossie narsings wat verkwyn,
flikker die druppels teen my vensterruit
waar die geel straatlig daardeur skyn;
en voel die wind
met bleek vingers, soos ’n kind,
aan die swaar gordyn, wat plooi
in die lamplig, teer en droef papawerrooi.

(terug)


Vroegherfs
Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rookvaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte môre witter staan.
O Heer, laat hierdie dae heilig word:
Laat alles val wat pronk en sieraad was
of enkel jeug, en ver was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat u wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.

(terug)


Dat alle liefde
Dat alle liefde moet verlore gaan
en wegwaai in die wye lug,
waar hierdie dooie ster sy norse vlug
neem deur die stiltes van sy baan –

dit is die vrees, dit is die eensaamheid
wat my, geboë, met die hande krom
rondom die kersie van ons liefde, stom
laat skuil in kleinlike verlatenheid.

(terug)