![]() |
| Lina Spies |
|
1. 'n Paternoster vir Suid-Afrika
|
|
'n Paternoster vir Suid-Afrika Here, laat die name geheilig word van al die kinders van die land - van hulle wat modderkoekies gebak het uit sy aarde, dassies skrikgemaak het in sy klowe, wol getrap het in sy krale. Ek het asemloos toegekyk: swart bolywe geboë oor magtelose diere en skerp skêre wat my laat wag het, bang vir die glip slag, die bloed, die pyn. Maar die swart versigtige hande het selde dieper as die wit geknip en ek kon die lootjies uitdeel want die arbeider was sy loon waardig volgens die aantal wat hy vrygemaak het om ligvoets teen die somerheuwels uit te wei. Maar die bale is lankal toegewerk en weggestuur, die wololie van my voete afgewas, my bene nie meer lam getrap nie. Vergewe ons, die vergeetagtiges, die uitgerustes, soos ons hulle vergewe, die luidrugtiges wat nooit binne die kraal was nie, wat nooit rietperd gery en kaalvoet geloop het nie, en Here, sien ons hande aan: Kyk, om my wit pols is armband van gras; my donker speelmaat het dit kunstig gevleg soos ek nooit kon nie ... Aan U behoort die land en die son en die skape van sy weiding Gee ons liefdevolle hande, Heer, en sny U self versigtig aan die belemmerende kleed dat daar nie onnodig bloed verspil nie en deel U self die lootjies uit (terug) |
| © Kopiereg - Karel Ark, Alle regte voorbehou. Lina Spies hou die kopiereg van die gedigte op hierdie bladsy. |