Koos van der Merwe
1. Optelwoorde

2. Opstaan



Optelwoorde
tussen dwaaldistels en doringspore
in die soekloop op die verwegpad
soos genadelig lê daar optelwoorde
wat 'n wegloopsiel weer huistoe kan vat
optelwoorde
vir 'n valkind
optelwoorde
wat verloormense vind
in die skaduweelaagtes
diep gaan haal
en huistoe bring
na die optelkraal

(terug)


Opstaan

mag jy mooi wees as die lelik verby is
en sag kyk na elke harde tyd
mag jy bly wees as die huil verby is
en vrede hê na die stryd

verkeerde goed kom môre weer reg
en die wyn is soet na die bitter en sleg

mag jy opstaan as jy seer geval het
en jou vrae verdwyn as die antwoord kom
mag jy huistoe kom as jy klaar verdwaal het
en die winter los vir die son

en mag jy droom, mag jy ook vergeet
en op plekke woon wat van horisonne weet

jy kan opstaan as jy seer geval het
en jou vrae verdwyn as die antwoord kom
jy kan huistoe kom as jy klaar verdwaal het
en die winter los vir die son

(terug)