Koos du Plessis
1. Afskeid

2. Die goue ring

3. Wydingsdiens



Afskeid
Die uurglas het reeds leeg geloop,
die populierboom is gestroop
van elke goue blaar.
En ons, ons staan beteuterd rond
en tuur half skuinsweg op die grond -
soos vreemdes vir mekaar.

Ek weet jy wil nog met my praat,
maar onder in die donker straat
hoor ek die motor toet.
En vir die derde, vierde keer
sit ek my loodswaar koffer neer
om jou verlaas te groet.

(terug)


Die goue ring

O, die goue ring, die goue ring:
agtien karaat-versekering:
hoog heilig is die dubbelbed;
hoër heilig en geseënd die pret.

O, die goue ring, die goue ring
maak elke hoer 'n hemeling.

(terug)


Wydingsdiens

Ek hoor die vent bestempel
sy vet lyf as 'n tempel.
Voorwaar 'n onderskeiding!
Geen rede dus tot kommer;
die maaiers - sê 'n brommer -
sal dáár wees vir die weiding.

(terug)