Ingrid Jonker
1. Kabouterliefde

2. Toemaar die donker man

3. Ontvlugting

4. As jy slaap

5. Verlore Stad

6. Korreltjie sand



Kabouterliefde
vir Simone

Die kabouter met die rooi-rooi pet
die kabouter met die geel hemp aan
het sy hart gisteraand vir my gegee
en sy hemp is vir die maan

Die hoepelronde blou-blou lug
het kadoemps op die grond geval
hy't dit blink-blou in sy hand gerol
toe speel on daarmee bal

Die sterre met hul wit ligte
het geknipoog toe ons lag
hul't rondom ons in 'n kring getrek
soos 'n laer in die nag

Die aandblom het sy trom-trompet
geblaas in die warrelwindkring
die kalkoentjies met hul rooi mondjies
het die sprinkaan-wals gesing

Die maan met sy geel lyfie
het gaan plat lê op sy rug
hy't gaan slaap by die gousblomme
met sy boepens in die lug

Die kabouter met die rooi-rooi hart
het dit self vir my gesê
hy't die aardbol oor sy kop gegooi
o dis hier waar die lê


(terug)


Toemaar die donker man
Op die groen voetpad
van die horison ver
om die aarde skat,
stap 'n ou man wat'
n oop maan dra in sy hare
Nagtegaal in sy hart
jasmyn gepluk vir sy oop knoopsgat
en 'n rug gebuk aan sy jare.

Wat maak hy, mammie?

Hy roep die kriekies
Hy roep die swart
stilte wat sing
soos die biesies, my hart
en die sterre wat klop
tok-tok liefling,
soos die klein toktokkies
in hul fyn-ver kring.

Wat is sy naam, mammie?

Sy naam is Sjuut
Sy naam is Slaap
Meneer Vergeet uit die land van Vaak
Sy naam is toe maar
hy heet, my lam
Toe maar, die donker man

(terug)


Ontvlugting
Uit hierdie Valkenburg het ek ontvlug
en dink my nou in Gordonsbaai terug:

Ek speel met paddavisse in 'n stroom
en kerf swatsikas in 'n rooikransboom

Ek is die hond wat op die strande draf
en dom-allenig teen die aandwind blaf

Ek is die seevoel wat verhongerd daal
en dooie nagte opdis as 'n maal

Die god wat jou geskep het uit die wind
sodat my smart in jou volmaaktheid vind:

My lyk le uitgespoel in wier en gras
op al die plekke waar ons eenmaal was.

(terug)


As jy slaap
As jy slaap en die verdriete
en selfs ons bitter liefde agterlaat,
is jy maar weer 'n argelose kind
met drome wind'rig oor jou mooi gelaat.

Ag, as die teer nag in jou arms le^,
en sterlig oor jou bors en hare skyn,
is jy maar weer 'n seuntjie weggedwaal
van huis en ouers en hul soete samesyn.

Ag, in jou slaap wil ek jou neem
en aan my bors hou tot die more wyd
oor al die heuwels breek - wil ek jou neem
en terugbring van jou eensaamheid.

(terug)


Verlore Stad
In die reën wat verby is
ver dag en verlore stad
van akkers van duiwe vol dagbreek

was my hande die ene eekhorinkie
vinnig sku maar voorbereid
ver dag en verlore stad

deur al die mense het jy gekom
met 'n eenvoudige glimag
soos van 'n lang reis

en die reën wat verby is
het hom verwarm aan my lyf
die reën van rook en oker

wat ruik na jou hande skoongewas
na warm duiwe en die oop
oranje papawer van die lug

(terug)


Korreltjie sand
Korreltjie korreltjie sand
klippie gerol in my hand
klippie gesteek in my sak
word korreltjie klein en plat

Sonnetjie groot in die blou
ek maak net 'n ogie van jou
blink in my korreltjie klippie
dit is genoeg vir die rukkie
Kindjie wat skreeu uit die skoot
niks in die wêreld is groot
stilletjies lag nou en praat
stilte in Doodloopstraat

Wêreldjie rond en aardblou
korreltjie maak ek van jou
huisie met deur en twee skrefies
tuintjie met blou madeliefies

Pyltjie geveer in verskiet
liefde verklein in die niet
Timmerman bou aan 'n kis
Ek maak my gereed vir die Niks

Korreltjie klein is my woord
korreltjie niks is my dood

(terug)