![]() |
| ID Du Plessis |
|
1. Rietfontein
|
|
Rietfontein By Rietfontein se leidam, as die reier staan en droom, En gepluimde peerboomtakke bloeisels sprinkel oor die stroom, Word op maanverligte nagte nog ‘n sombere tafereel Van haat en lus en liefde deur gestorwenes afgespeel. Wit is die water En blond is die maan, En bly is die paar Wat gearmd daar gaan, Versilwerde bome Ruis in die laan; Wit is die water En blond is die maan. ‘n Honderd jaar gelede het die buurt se mooiste blom So in die helder maanlig na die peerboomlaan gekom; Maar terwyl sy en haar minnaar in confettie-bloeisels staan, Het ‘n ander in die skaduwee langs die dam se wal gegaan. Wit is die water En bleek is die maan, Wie is dit wat daar so Geruisloos gaan? ‘n Huiwering trek Deur die bome in die laan; Wit is die water En bleek is die maan. O salig die verrukking wat die suiwere liefde bring, En vrolik het die harte van die paartjie daar gesing By Rietfontein se leidam, in die wit lig van die maan; Maar oorkant langs die peerboom het ‘n skaduwee gegaan. Wit is die water Maar bleker die maan, Wie is dit wat daar so Doelbewus gaan? Verdonkerde bome Bewe in die laan; Wit is die water Maar bleker die maan. Kortstondig soos die dou wat smôrens skitter op die roos, Kortstondig was die enkel uur van samesyn se troos, Op bloedbevlekte bloeisels lê die paartjie in die laan, Terwyl ‘n swart gestalte onder peerboomtakke staan. Bloed in die water En bloed in die laan, Wie is dit wat daar so Roerloos bly staan? Vormlose skaduwees Kruip oor die maan; Bloed in die water En bloed in die laan. By Rietfontein se leidam, as die reier staan en droom, En gepluimde peerboomtakke bloeisels sprinkel oor die stroom, Word op maan-verligte nagte nog ‘n sombere tafereel Van haat en lus en liefde deur gestorwenes afgespeel. Bloed in die water En bloed in die laan, Wie is dit wat daar so Skuldbewus gaan? Vormlose skaduwees Kruip oor die maan; Bloed in die water En bloed in die laan. (terug) Kaalvoet Klonkie Verflenterde kaalvoet klonkie Wat groente verkoop in die reën, Met jou lelike skurwe tone En jou lendelam hoepelbeen, Jy kom met jou venterliedjie Deur die mistige Kaapse straat En helder sing jy die woorde Op jou eie koddige maat: Lekka, lekka ywe, Laat die ghantang nader skywe! Tamaties en ywe vars van die Strand En baie kiri slam by die hys se kant! Jy kom uit ‘n deel van Kanaldorp Waar die dienders gewapend moet gaan En die weerlig van ‘n skeermeslem In ‘n donker hoek neer mag slaan. Miskien kon jy “Bismillah” sê Vanmôre, omdat in die kas Wat dae lank so leeg moet bly, Daar weer ’n broodjie was? Of dink jy aan Nuwejaar As die troepe deur Waalstraat stroom Van de Bo-Kaap na die Onder-Kaap Langs die stomp van die Slaweboom? Is dit wat jou so laat bokspring En dans op jou hoepelbeen, Verflenterde kaalvoet klonkie, As jy groete verkoop in die reën? En hou van die vrolike klanke Waarmee jy die winter tart. Sing jy hierdie ligte deuntjie Bo ‘n somberte in jou hart? En as jy óp na die Boereplein Met jou boepens-mandjie gaan, Dan trek jou parmantige liedjie Deur die strate agter jou aan: Lekka, lekka ywe, Laat die ghantang nader skywe! Tamaties en ywe vars van die Strand En baie kiri slam by die hys se kant! (terug) |
| © Kopiereg - Karel Ark, Alle regte voorbehou. ID Du Plessis hou die kopiereg van die gedigte op hierdie bladsy. |