Gustav Preller
1. Hoe Lang?

2. Dis More!

3. O Land Van Sonlig en Van Sterre



Hoe Lang?
Daar ruis soms stemme in die nag,
wat fluister, eers gesmoor en bang,
maar luider straks, skoon altyd sag:
"Hoe lang?"

Hoe lang moet ons nog swerf en stry,
en stil-swaar worstel met die dwang,
en hoon en smaad en skimptaal ly;
"Hoe lang?"

Hoe lang verdra ons nog en wag,
en tel die trane op ons wang,
en duld en ly en treur en sang;
"Hoe lang?"

As volk, hoe lang sal ons nog kyf
eer ons deurgrond die dure drang
tot vry-wees wat ons almal dryf,
"Hoe lang?"

Van waar die lafaards wat daar meen
en ongestraf, met hom gebaar,
durf sê dat alles ydel was voorheen?
"Van waar?"

Van waar die arme siele kom
wat in g'n eie toekoms staar,
maar ons wil oplos in 'n vreemde drom;
"Van waar?"

Hoe lang sal ons nog spook en doen
en dwarstrek algar blind en bang,
en koers soek op die helderde noen:
"Hoe lang?"

En luid en luider styg die klag,
tot wanhoopstem en wanhoopsdwang
herhaal met onweerstaanb're krag:
"Hoe lang?"

(terug)


Dis More!

More pluk ons blomme - more
as die reën en mis eers oor is,
as die modder opgedroog is,
as die son ons toelag - more;
more pluk ons blomme, more!
More keer ons wat verkeerd is,
maak ons reg wat sleg is,
soek ons op wat weg is,
maak ons heel wat stuk is, more,
as die son maar skyn op more!

Maar al die mores was vandag,
en al die dae more;
al die blomme is verwelk al
op die stengels more.
Al die hande wat ons help
op more - is van gister.
Al wat weg is, sleg of stukkend,
is en bly dit nog vir more!
Die reën en mis en wolke
wat ons sou gekeer het gister,
keer ons maar vandag nog;
maar ons wag vir more!

Tog: die skuld van ál die mores,
die beloftes, hope, wense,
onvervuld aan ál die mense -
moet voldaan word op een more!

(terug)


O Land Van Sonlig en Van Sterre

O land van sonlig en van sterre,
van onbegrensde, wye velde -
o wilde wêreld van natuur,
o dierb're grond van Afrika,
waar twee geweldige oseane,
hul branders op die rotse donder,
en langs die breedgerekte kuste
die witte seesand bruis en sketter!

(terug)