![]() |
| Eugene Marais |
|
1. Sonder betaling 2. Wanneer dit reën op Rietfontein
|
|
Sonder betaling Dis kleine dingetjies wat meeste vreugde bring: van kindertjies wat speel, dié bly gelag; ‘n lewerik wat in wolke sing; die sag’ bedruis van druppels in die nag. Swart doringbome teen die Westegloed; die groen van wuiwend’ gras wat hoog die bult omsoom; lang lelies in die gras, nes druppels bloed; die dof’ gemurmel van ‘n waterstroom. ‘n Sware werk goed afgedaan; ‘n wandeling met ‘n vriend wat ons bemin; die eerste groen langs muur en laan; die gloed van uit ‘n liefdevolle huisgesin; die blydskap, uitgestort en vry, loop on op eensaam’ wege raak. Dit kos alleen die soek om te verkry: die dinge wat die Lewe ‘n vreugde maak. (terug) Wanneer dit reën op Rietfontein Wanneer dit reën op Rietfontein en deur die stof 'n straal van groen verskyn... dan sit oom Gysbert op die stoep alleen Hy adem sag die geur gemeng van stof en reën... Van agter uit die groot kombuis Kom daar aanhoudend die gesuis Van kole op die vuurherd aangeblaas Van pot en pan die klinkende geraas - Dis net so seker as die boek, Tant Malie bak nou pannekoek! (terug) Winternag O koud is die windjie en skraal En blink in die dof-lig en kaal, so wyd as die Heer se genade, le die velde in sterlig en skade. En hoog in die rande, versprei in die brande, is die grassaad aan roere soos winkende hande. O treurig die wysie op die ooswind se maat, soos die lied van 'n meisie in haar liefde verlaat. In elk' grashalm se vou blink 'n druppel van dou, en vinnig verbleek dit tot ryp in die kou. (terug) Mabalęl Vinnig langs die paadjie trippel Mabalęl; vrolik klink die liedjie wat die klingelinge van haar enkelringe vergesel. Op die voetpad sy alleen, met die skadu’s om haar heen; op haar kop die kruik gelig in gedienstig’ ewewig. Golwend kleur die hemelboog, stadig sterf die laaste lig, en van verre deur die skermmure winkend blink die eerste vure. Wydgestrek in eensaam’ vrede lę Rakwen’, die stille, brede; glansend in die westerpraal, met ‘n ceintuur in sy diepte van koraal. En die witgepluimde riet sing ‘n treurig’ wiegelied, en buigend vleg ‘n wilwersoom al om die diepgespieëlde hemelkom. Wag, wag, Mabelęl! Is daar niks wat jou vertel- is daar niks wat deur die duister bang en dringend in jou ore fluister van die vreeslike gesel wat jou vrolik’ lied beluister, wat jou spoor hou, Mabalęl? Word jy niks gewaar van 'n dreigende gevaar? Voel jy nog nie, kil en snood, Om jou hart die skadu van die dood? Ver benee die palmietstele in die bloue duister wag Lalele, kwintessens van alles boos, die Wreedheid self, meedoënloos; met lydsaamheid wat alles kan ontbeer, wat tyd en toeval kan trotseer; wat seker as die Noodlot van sy dag stil-wakker in die diepte op sy ure wag. Deur winterkou en somergloed, deur blankend’ droogte en swelgend’ vloed, deur al die kerende taf’rele, in sy diepte wag Lalele. As die straaltjie in die sand deur 'n vlam-geskroeide land tussen walle dor en vaal skaars die rotse van Rakwena haal, en die hulsels van die riet 'n rouband bind van swart verdriet om die groenbedekte kuil waar die laaste water skuil en die sugtend’ wind versmag deur 'n woedend’ son verkrag, - roerloos by die skepplek hou Lalele wag! En wanneer in donker nagte rasend losbreek al die magte van geweld en storm en vloed, en Rakwen’ omring van angsgeskreeu, smagtend sig nog eens te wreek, soos 'n swaar gekweste leeu swart en brullend deur die bome breek; - blinkend uit die donker kolk, - vlieg 'n vlammend’ dolk, - wat deur stormbanke dig 'n węreld van verwoeste loof verlig – ongeroer deur al die groot krakele in sy diepte wag Lalele! Droom sy op die kantjie, Mabalęl, tot haar hart verlangend swel; in haar peinse ongedeer, staar sy in die diepte neer, staar sy in die spieëlgewelf met die donker reeds omsoom – tot sy, dromend, self deel word van ‘n salig’ droom; uit die węreld omgekeer lokkend lag haar beeldjie weer. Stadig deur die rietpensele opwaarts uit die diepte rys Lalele. Skud jou wakker, Mabalęl! Sien jy nie die skadu opwaarts wel? Naar die hoogwal, Mabalęl! Hou jou mymering vir later – nooit had vyg of wilg in water so 'n gespieëlde metgesel! Nooit 'n skrikbeeld uit die holte van die nag, wat die dromer sug doen na die dag; nooit onheilige gedaante uit die diepte van die hel half so dreigend, half so fel as dié skadu, Mabalęl, as dié skadu, wat benee jou uit die diepte opwaarts wel. Voor jou voete, Mabalęl, deur die westergloor verhel, waar jy onbedagsaam staar, sonder ooit gedagte van gevaar, uit die stroomweg stadig dryf 'n halfverdrinkte blaar. Had jy spiere van 'n tier, of die vlerke van 'n gier, meidjie, niks sou dit jou baar, want te lank het jy gewag – te laat! Uit die spieëlvlak omhoog bars 'n skuimend’ waterboog; Oor Rakwena, kalm en breed, Galm 'n enkel angsvol’ kreet; en dan saggies weer oor alles sak die stilte neer. Winkend deur die skermmure helder blink die voornagvure. Uit die donker stilte, skel, klink geroep na Mabalęl en die rotse antwoord weer; maar terugkom sal sy ... nimmermeer. Stadig deur die rietpensele naar die diepte sak Lalele. (terug) Skoppensboer I 'n Druppel gal is in die soetste wyn; 'n traan is op elk' vrolik' snaar, in elke lag 'n sug van pyn, in elke roos 'n dowwe blaar. Die een wat deur die nag ons pret beloer en laaste lag is Skoppensboer. II Gewis en seker is die woord: die skatte wat ons opvergaar, ondanks die sterkste slot en koord word net vir mot en roes bewaar. Net pagters ons van stof en dons om oor te voer aan Skoppensboer. III Die heerlikheid van vlees en bloed; die hare wat die sonlig vang en weergee in 'n goue gloed: die dagbreek op elk' sagte wang en oge vol van sterreprag is weerloos teen sy groter mag. Alreeds begint die rimpel sny; oor alles hou die wurm wag en stof en as is al wat bly: Want swart en droef, die hoogste troef oor al wat roer, is Skoppensboer. IV L'Envoi Gewis is alles net 'n grap! Ons speel in die komedie mee geblinddoek met 'n lamfer-lap wat selfs die son 'n skadu gee. Wat treur ons tog? Viool en fluit maak nog geluid: en lank die nag wat voorlę nog. Al kan ons nooit volmaaktheid raak, nog blink die oog en gloei die huid wat heel die winter blomtyd maak. Dus onverlee lag ons maar mee met elke toer van Skoppensboer! (terug) Dans van die reën O, die dans van ons Suster! Eers oor die bergtop loer sy skelm, en haar oge is skaam; en sy lag saggies, En van ver af wink sy met die een hand; haar armbande blink en haar krale skitter; saggies roep sy, Sy vertel die winde van die dans en sy nooi hulle uit, want die werf is wyd en die bruilof is groot. Die grootwild jaag uit die vlakte, hulle dam op die bulttop, wyd rek hulle die neusgate en hulle sluk die wind; en hulle buk, om haar fyn spore in die sand te sien. Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep van haar voete, en hulle kruip nader en sing saggies; "Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!" En haar krale skud, en haar koperringe blink in die wegraak van die son. Op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier; sy trap af van die hoogte; sy sprei die vaal karos met altwee arms uit; die asem van die wind raak weg. O, die dans van ons Suster! (terug) Die spinnerak-rokkie 'n Feetjie het vir haar uit spinnerak 'n doek vergaar; 'n rokkie wit as heuningwas het sy toe aanmekaargelas. Maar nouliks was dit om haar lyf, toe kom 'n windjie, vlug en styf, en met die uiting van sy sug daar trek ons Feetjie deur die lug! Haar maatjies staar haar treurig aan, hoe sy hoog oor die bome gaan, tot sy met heel haar rokkie fyn daar in die verte glad verdwyn! As jy 'n rokkie ooit besit van spinnerak of iets soos dit, pas op hoe jy jou dan verroer, 'n windjie mag jou glad vervoer! (terug) |
| © Kopiereg - Karel Ark, Alle regte voorbehou. Eugene Marais hou die kopiereg van die gedigte op hierdie bladsy. |