![]() |
| Etienne van Heerden |
|
1. Bedelaar
|
|
Bedelaar Uit die halflyf op sement skarrel kraphande na afvalkos: die krom garnaal van 'n halwe sigaret, die sagte wit skulp van 'n hand of soms die bruin seegras van 'n Rand. 'n Rooi robot keer my voor hom vas: hy kyk na my, sy oë stip, twee seeluise wat oor my hande glip, en agter hom, in houdings van reklame staan poppe in klerewinkels se rame. Op die hoek voor die Barclays-gebou gryp sy hande na my skene en hou, toe hy my het, begin hy bene groei, mý bene syne, ek sit laag in half gesny en hy loop weg en lag na my... Die middag, op die klam sweetkol van sy onderlyf, sit ek halflyf in sement en kyk na kuite; die stil gespot van winkelpop na winkelpop en om my hou verdiepingbusse dop. En met die vyfuur-klap van hakke teen teer, die skarnier van kuit in skeen in enkel is dit ek wat op sý sitplek vyfuur op die hoek tussen al die bene na my beste voete soek. (terug) |
| © Kopiereg - Karel Ark, Alle regte voorbehou. Etienne van Heerden hou die kopiereg van die gedigte op hierdie bladsy. |