Elisabeth Eybers
1. Ouer word

2. Eerste liefde

3. Busrit in die Aand



Ouer word
'n Eindigheid sprei langsaam, ongevra,
'n stipter onderskeiding word van krag.
Wat ek verloor het suig my terug in drome,
hul nagtelike helende verwarring;
wat oorbly dwing my voorwaarts, stoot of dra
my onversetliker van dag tot dag
met afgepaste tydverdryf en werk.
Ek hul my heelheidshalwe in 'n huis
wat stuksgewyse toeslik tot 'n kluis.

Iets wat 'k onthou: eens was ek 'n beminde
kind, tintelend van hiernamaalse onkunde,
deur louter eindeloosheid ingeperk.

(terug)


Eerste liefde

Ons liefde het gesterf met die oggendstond,
En ons het haar begrawe, bleek en stom;
teer lentegras en geurige voorjaarsgrond
bedek haar, sonder smuk van krans of blom.

Onthou jy haar?... Sy was tingerig-fyn,
met vingers slank en lig, haar stem was sag,
en haar blou wonder-oë vreemd en rein.
Haar dood was vreedsaam, sonder rougeklag.

Ek mag nie om haar ween: haar stil vertrek
was beter as 'n kwynende bestaan
- maar, ag, ek wonder of jy ooit, soos ek,
'n oomblik by haar graf in mym'ring staan...

(terug)


Busrit in die Aand

Elk langs sy yl weerkaatsing in die ruit,
sit hulle suf, met monde moeg gesluit,
die werkers van die stad wat huis toe gaan.

Skaduwee-skimme gly verby...Dis laat,
en lang ligvaandels wapper oor die straat
soos oor ‘n dam die blinkpad na die maan.

Ons ploeg deur stormsee met ons kaperskuit:
die stuurman voor, die passasiers die buit
wat ons as slawe huis toe bring vanaand...

Die vaartuig waggel afdraand, om die draai
met skril gekners en skommelende swaai,
en hyg en skok en snork en swoeg opdraand,

terwyl ons, soos twee kinders opgetoë,
mekaar toelag met glinsterende oë...
Asof hul jammerlik hul lot kan raai,

sit hulle suf, met monde moeg gesluit,
elk langs sy yl weerkaatsing in die ruit,
die werkers van die stad wat huis toe gaan.

(terug)