![]() |
| D.J. Opperman |
|
1. Vincent van Gogh
|
|
Vincent van Gogh Jy het as ’n miskende heilige vergeefs geveg teen die ellende en die onreg in die krotte van die myn, in agterbuurte en op landerye; slegs die pyn en skriklike stryd van God leer ken, wat mens en boom verknot in Sy kramptrekke; maar eers toe jy die koringgerwe in aanbidding van die son kon verwe, boere, wasvrouens en gepynigde gesigte, die kantelende landskap in die snelle ligte geel en groen en blou – alles met koorsige gevlek tot branding van die skone kon verwek, toe is Sy hartstog eers in jou volbring soos groen sipresse tot ’n vlam verwring. (terug) Man met flits In die klein wit kol van my wete stol bruin en skerp 'n klip soos 'n bok wat skrik, staan, vinnig weghol uit die klein wit kol. Aan 'n takkie hang twee ogies wat bang uit die klein wit skyn van my flits verdwyn. Oor waters wat glip soek ek klip na klip maar 'n duister land bedreig my alkant. (terug) Dank Ek bring aan jou die eerste vrugte van die land met ingehoue vreugde en met dankbaarheid: ‘n mieliekop, lemoen of roos op skurwe hand gedra as nuwe huldes van seisoen en tyd; jaarliks die eerste piesangros uit die vallei waar gramadoelas was, omdat ek nou nog voel sonder jou liefde is die graaf te swaar vir my en val die geil reëns van die berge sonder doel (terug) |
| © Kopiereg - Karel Ark, Alle regte voorbehou. D.J. Opperman hou die kopiereg van die gedigte op hierdie bladsy. |