D.J. Opperman
1. Vincent van Gogh

2. Man met flits

3. Dank



Vincent van Gogh
Jy het as ’n miskende
heilige vergeefs geveg teen die ellende
en die onreg in die krotte van die myn,
in agterbuurte en op landerye; slegs die pyn
en skriklike stryd van God
leer ken, wat mens en boom verknot
in Sy kramptrekke; maar eers toe jy die koringgerwe
in aanbidding van die son kon verwe,
boere, wasvrouens en gepynigde gesigte,
die kantelende landskap in die snelle ligte
geel en groen en blou – alles met koorsige gevlek
tot branding van die skone kon verwek,
toe is Sy hartstog eers in jou volbring
soos groen sipresse tot ’n vlam verwring.

(terug)


Man met flits

In die klein wit kol
van my wete stol

bruin en skerp 'n klip
soos 'n bok wat skrik,

staan, vinnig weghol
uit die klein wit kol.

Aan 'n takkie hang
twee ogies wat bang

uit die klein wit skyn
van my flits verdwyn.

Oor waters wat glip
soek ek klip na klip

maar 'n duister land
bedreig my alkant.

(terug)


Dank

Ek bring aan jou die eerste vrugte van die land
met ingehoue vreugde en met dankbaarheid:
‘n mieliekop, lemoen of roos op skurwe hand
gedra as nuwe huldes van seisoen en tyd;
jaarliks die eerste piesangros uit die vallei
waar gramadoelas was, omdat ek nou nog voel
sonder jou liefde is die graaf te swaar vir my
en val die geil reëns van die berge sonder doel

(terug)