![]() |
| C Louis Leipoldt |
|
1. Die dwergies
|
|
Die dwergies In 'n gat daar onder die sukkeldoring Het 'n dwergieman sy huis. Die mure daarvan is goudgeel klei, En die vloer van silwergruis. En die lampe is klein vuurvliegies, Wat skitter soos sonneskyn As die groen van die skemeraand val En die son se glans verdwyn. Die stoele is bergkristalle, Wat onder die liggies blink; Die tafel 'n groot wit paddastoel, Met sy steel in die gruis gesink. Die kussings is fynste wit kapok Uit tinktinkie-nes gesteel; En die deurgordyn is 'n mierkatvel, So sag soos sagte ferweel. Hier lewe die dwergie die jare deur Waar niemand hom ooit sal stoor; En hy en sy vrou kom net maar uit Om water te haal uit die voor. (terug) Wys My Die Plek Wys my die plek waar ons saam gestaan het, Eens, toe jy myne was - Vroeër, voor jou liefde vir my getaan het, Vroeër, toe jy myne was. Kyk, dis dieselfde; die silwer see Blink in die sonskyn, soos lang verlee Dit eenmaal geblink het, 'n welkomsgroet Vir ons liefde wat uithou en alles vergoed. Wys my die plek waar ons saam gekniel het, Eens, toe jy myne was - Vroeër, toe een siel vir ons saam besiel het, Vroeër, toe jy myne was. Kyk, dis dieselfde; die hemel, blou, Lag soos voorheen op my en op jou; Dit skitter nog altyd 'n welkomsgroet Vir ons liefde wat uithou en alles vergoed. Wys my die plek waar ons saam geloop het, Eens, toe jy myne was - Vroeër, toe ons harte so veel gehoop het, Vroeër, toe jy myne was. Kyk, dis dieselfde! Net jy nie. Vra, Wie van ons twee moet die meeste dra? Jy wat vergeet het - of ek wat boet Vir my liefde wat uithou en alles vergoed? (terug) |
| © Kopiereg - Karel Ark, Alle regte voorbehou. C Louis Leipoldt hou die kopiereg van die gedigte op hierdie bladsy. |