![]() |
| Breyten Breytenbach |
|
1. Allerliefste, ek stuur vir jou 'n rooiborsduif
|
|
Allerliefste, ek stuur vir jou 'n rooiborsduif Allerliefste, ek stuur vir jou 'n rooiborsduif want niemand sal 'n boodskap wat rooi is skiet nie. Ek gooi my rooiborsduif hoog in die lug en ek weet al die jagters sal dink dis die son. Kyk, my duif kom op en my duif gaan onder en waar hy vlieg daar skitter oseane en bome word groen ek hy kleur my boodkap so bruin oor jou vel Want my liefde reis met jou mee, my liefde moet soos 'n engel by jou bly, soos vlerke, wit soos 'n engel. Jy moet van my liefde bly weet soos van vlerke waarmee jy nie kan vlieg nie (terug) (Jou brief is wonderlik) Jou brief is wonderlik, nog groter en ligter as die gedagte aan 'n blom wanneer die droom tuingrond is, jou brief gaan oop iets ontvou en van buite kom daar lug kom daar woorde kom ruimte, ek het in groen weivelde geslaap ek het op die rand van die dal van doodskaduwee in die laaste nagwaak gelê en luister hoe die veroordeeldes deur gange in die grond gelei word, hoe hulle sing met die asems in die monde soos inwoners wat op vertrek staan omdat die stad brand, hoe hulle sing met die asems soos boeie, hoe hulle sing, hulle wat van die donker in die lig gaan spring hulle wat gepos gaan word na 'n bestemminglose adres, en ek het die onheil gevrees die tafel voor my aangesig teenoor my teënstanders is leeg, ek het as op my hoof, my beker is leeg, en ek het na jou brief gevlug en gelees van die lemoenboompie oortrek van wit bloeisels wat oopgaan met die son, ek kon dit ruik op die balkon, ek kan jou ruik nog heerliker en ligter as die gedagte aan 'n blom in hierdie donker nag, ek sal aan jou woorde aan die lug hang, gee dat ek in jou brief mag woon in lengte van dae envoi, jou brief is wonderlik, nog groter en ligter as die gedagte aan 'n blom wanneer die droom tuingrond is, jou brief gaan oop iets ontvou en van buite kom daar lug kom daar woorde kom onthou, (terug) |
| © Kopiereg - Karel Ark, Alle regte voorbehou. Breyten Breytenbach hou die kopiereg van die gedigte op hierdie bladsy. |