![]() |
| Antjie Krog |
|
1. Wiskunde
|
|
Wiskunde Elke dag sterf ek 35 minute lank vasgetangens in my bank en voor die bord boer 'n iemand wat my wiskunde voer. Gevra: Trek lyk AB en vind dan C. Bewys: Ek trek AB Ek konstrueer 'n middelloodlyn op... verby die sterre en vind C alleen. Op Pythagoras sit hy kruisbeen en ween, en ween so hél alleen. (terug) Wetenskapmannetjies Julle sit onder swart teleskope en kyk na die son tot julle besef dat julle nooit daar sal km. Pateties bepaal julle dan ligjare en vertel dat die son as't ware inkrimp en eendag gaan verdwyn. Ons sit maar hoog op die windpomp en kyk hoe die son sy kop stamp teen die rant hoe hy bloei hoe die vaal lug gloei hoe die bome tot silhoeëte verskroei. Daarom liewe menere teken ek klawertjies tussen my huiswerk, kry en 26% want ek luister eerder na die verdwaalde korhaan tussen die bossies by die tennisbaan ek kwadreer liewer my vreugdes en vidn dan die logaritmes van my hartseer want syfers bring 'n eensaamheid wat geen mens kan keer. (terug) Jy raak my nie meer Jy raak my nie meer die haartjies op jou wange die bitterwit huisies van jou mond die warm holte van jou hand die soet lepel van jou tong die droë distel van jou liefde roer my nie meer jy het glansloos geword soos dié om jou. En nou eers na al die baie stil dae kan ek sonder hartseer aan jou dink en bly wees oor jy nie weet hoe my lekhart leegbloei in my oë. (terug) digter wordende om op 'n oggend wakker te word binne-in klank met vokaal en klinker en diftong as voelspriet om met aarselende sorg die effensste roerings van lig en verlies in klank te kalibreer om jouself meteens gekniel te vind bo-oor die hoorbaar kloppende wand van 'n woord - soekend na daardie presiese moment wat 'n versreël volloop in klank wanneer die betekenis van 'n woord swig, begin gly en hom eindelik oorgee aan geluid van dan af smag die bloed na die inkantasie van taal - die enigste waarheid staan gevél in klank die digter dig met haar tong sy haal asem - ja, diep uit haar oor (terug) Ma Ma, ek skryf vir jou 'n gedig sonder fênsie leesekens sonder woorde wat rym sonder bywoorde net sommer 'n kaalvoet gedig - want jy maak my groot in jou krom klein handjies jy beitel my met jou swart oë en spits woorde jy draai jou leiklipkop jy lag en breek my tente op maar jy offer my elke aand vir jou Here God. jou moesie-oor is my enigste telefoon jou huis my enigste bybel jou naam my breekwater teen die lewe ek is so jammer ma dat ek nie is wat ek graag vir jou wil wees nie. (terug) |
| © Kopiereg - Karel Ark, Alle regte voorbehou. Antjie Krog hou die kopiereg van die gedigte op hierdie bladsy. |