![]() |
| AG Visser |
|
1. Nat en sap 2. Toe die wêreld nog jonk was 4. Prinses Lointaine (Prinses Van Verre)
|
|
Nat en sap Toe Noag strand teen Ararat, Die Ark begin in puin raak, Toe sê hy: "Aarde, maar dis nat! Mou kan 'n mens weer tuin maak! Het ek nie met die Ark geswoeg, Was ons ook in die pekel. Aan water het ek nou genoeg... 'n Lewenslange hekel. Kom, Sem en Gammie, maak nou gou Vir Pa mooi reguit slootjies; En Jaaf, my kind, kom plant jy nou Vir Pa die wingerdlootjies." Die kromhout groei, en Noag skink Sy sap 'n bietjie later: Daarin is sedert meer verdrink As in die Vloed se water! (terug) Toe die wêreld nog jonk was “In dié dae was die reuse op die aarde... die manne van naam.” Gen. 6:4. Kort anderkant Jerusalem daar het gewoon Metusalem, die man wat hul – dit sal jy sien – vermenigvuldig het by tien! Hy was g’n vier jaar in die land toe kry hy al sy eerste tand; by tien jaar kruip hy oral rond, ‘n flinke knapie en gesond: toe rol hy al, en val en woel en staan hy op teen elke stoel. Nog skaars was hy ‘n jaar of elf toe stap klein Lemmie al vanself. So groei hy op tot sestig jaar; die eerste wisseltand was daar; en volgens landswet ry “oom Kool” op ou Behémot na die skool, sy vaders trots, sy moeders vreugd’, Met Step by Step en Trap der Jeugd in Hoog-Galdeeus en Aramees, want almal moes tweetalig wees. ‘t Was goed en wel, maar alte vaak het dié twee “opgemix” geraak. Hy leer; en voor hy honderd was, staan hy al eerste in sy klas! Op honderd-sestig moes meneer sy melkbaard al begin te skeer; Tien jaar daarna al katkiseer en Hellembroek – die dubb’le – leer; nog tien jaar toe begin hy al ‘n mooi klein nooientje lastig val. Verniet dat Vader loop en brom: “Kniehalter-span sal ek vir hom! ’n Bog van honderd-tagtig jaar praat al van trou – so wrintie waar. Maar styf sal hy sy rieme loop – hy dink glo trou is kémel koop!” “Kind,”sê sy ma, “daar’s baie tyd – waarvoor die grote haastigheid?” Maar wat, die snuiter was getroud skaars honderd-ses-en-tagtig oud. En soos dit in die huwelik gaan, sy huisgesin groei stadigaan: So elke dertig, veertig jaar is weer ‘n nuwe outjie daar. So word met dat die eeue rol, ook mettertyd sy koker vol – ‘n pure man Metusalem, die Raadslid vir Jerusalem! Hy tem die woeste Dinosour en skiet die wolhaar –Brontosour; en van sy vel maak hy ‘n jassie vir klein Mahérskalálgasbassie. Maar klein Kedorlaomertjie en lief Kirjatjaromertjie,, Die tweelingboetie en sy sussie, kry elk ‘n hippopotamussie. Tiglatpileser, die parmant, Wil niks hê as ‘n olifant; maar Hammoerabie huil en sê hy wil ‘n wit harnoster hê. En klein Metusalem verlang Pa moet vir hom ‘n walvis vang. “Habbakukkiena, bly tog stil!” “Ag, Ma, hul vat my krokodil!” Maar Gog-Magog met breë bors Eet soet sy leviatanwors. Ja, glimlag moes die moeder wel by dié verteed’rend kinderspel: Hoedat – dis om jou hart te steel – die kleinspan met hul diertjies speel! So leef hy voort en doen sy plig tot sewehonderd-sewentig, Toe sê hy: “Kinders, nou gaan ek my aan die boerdery onttrek. Voor nog ‘n honderd jaar verloop, sal ek vir my ‘n bril moet koop. Die paar ou eeutjes wat ek nog hier op die aarde lewe mog, wil ek gaan rus van al my werk. My dorpshuis staan vlak by die kerk; die dokter en die predikant is albei sommer byderhand. Hou as ek weg van julle woon, my kinders, julle paadjies skoon: Pas op vir borgstaan en krediet, vir Israel- en Ismaeliet. Behou die grond, kaart en transport; betaal kontant: die lewe is kort, ’n droom – en voor ‘n mens gewaar, dan is die ouderdom reeds daar. My lewe is – so skyn dit my – soos ‘n gedagte snel verby! My dogters, luister tog vir Pa: Volg nie die nuwe modes na; ’t Word alles korter – liewe land! – die rok, die hare en verstand. Dit dans, dit rook – dis om te ween. In hemelsnaam! Waar moet dit heen! Ligsinnigheid wat my verstom – vanslewe was dit andersom.” En so verslyt Metusalem, sy ou-dag op Jerusalem, en drink en rook op sy gemak sy koffie en sy pyp tabak. So sit en peins hy menigmaal: “Die duisendtal sal ek nooit haal. Ek het ook soveel knoue weg in wilde-mens- en diergeveg, die sware koue in die nat vierhonderd jaar gelee gevat. ’k Onthou nog goed die groot kapok – die sneeu tot aan die huis se nok.” Op nege-sewentig min een, sy tydjie om, was hy daarheen; en niemand wis of dag daaraan ‘n wêreldrekord was geslaan. Die feit is daar: Van toe tot nou Hy het die langste aangehou! (terug) Die Ou Voortrekker My kinders om my bed geskaar Ek voel die lange tog is klaar, Die laaste uitspan daar, --- Dank Heer, dat U aan gindse kus Die moeë trekker gun sy rus, Na opdraans lank en swaar. Die ou familiebybel daar Moet julle meer as goud bewaar; Hy was deur al die swaar My raad en troos in tyd van nood, Nou in die ure van die dood My vaste steunpilaar. Daar aan die muur hang my geweer; Bewaar hom goed. Hoe menig’ keer By dreigende gevaar Was net sy snelle, wisse lood Ons een’ge redding van die dood Deur roofdier of barbaar! Majoebaberg die ken sy knal; Die grootwild het voor hom geval, En leeus die stof gebyt! Mag daar nooit iemand met my van, Wat nie kan skiet --- geen weerbaar’ man, --- Die lewe hulploos slyt. Besonders wil en julle vra: Hou vir gedagt’nis my ou wa; Wat het hy nie deurstaan? Hy was ons huis as onweer dreig, Ons vesting sterk in felle kryg Met Silkats en Dingaan! Hy kan getuig van moedermin: Die Lewe het in hom begin; Die kille Dood ken hy. Wat ‘n verhaal kon hy ontvou Van mannemoed en vrouetrou En eerste liefde bly! Gee aan ou Poon, my laaste perd, Genadebrood. Hy is dit werd. Vir hom is daar geen geld! Hoe dikwels het ons twee gedeel My laaste bietjie mieliemeel Daar buite op die veld! My kinders bly die grond behou; Onthou julle afkoms; wees getrou! Laat vreemde sedes staan! Al bars die swaarste onweerswolk Oor ons, tog bly ons nog ‘n volk En sal ons voortbestaan. Daar’s nog ‘n ou Transvaalse vlag --- Bewaar . . wie weet . . miskien . . een dag --- Ek sal daar nie meer wees ---, Maar mag ons eie vlag weer waai, Vat my geweer en skiet en laai --- En . . . Heer, ontvang my gees ! (terug) Prinses Lointaine (Prinses Van Verre) Was jy ’n rosebloesem En ek die roos se geur, Hoe heerlik deur die lewe Steeds rondom jou te swewe. Beswymend aan jou boesem, Betower deur jou kleur. Was jy ’n rosebloesem En ek die roos se geur. Was jy ’n lied se woorde En ek die melodie. Hoe sou die dag verheerlik Jou skoonheid so begeerlik; Die nag tril van akkoorde En soetste harmonie. Was jy ’n lied se woorde, En ek die melodie. Was jy die hoogste kranse, En ek die sonnegloed. Jou wange sou dan verwe En op jou lippe sterwe My eerste moreglanse En laaste awend-groet; Was jy die hoogste kranse En ek die sonnegloed Maar jy ’s Prinses van Verre En ek... ’n troebadoer; Al gloei ook my gesange Van liefde en verlange, - Die vuurvlieg vir die sterre - Wat my ten hemel voer; Jy bly Prinses van Verre En ek... ’n troebadoer. (terug) Amakeia In die skadu van die berge, bos-beskut aan alle kant, staan alleen die hartbeeshuisie op die grens van Kafferland. Saggies neurie Amakeia op die wal van Kei-rivier, tot hy slaap, die tere wiggie van die blanke pionier: "Stil maar, stil maar, stil Babani; kyk hoe blink die awendster. Niemand sal vir kindjie slaan nie - stil maar, al is Mammie ver." Amakeia had belowe toe haar nonna sterwend was, om die hulpelose kindjie tot hy groot was, op te pas. Liefd'ryk sorg sy vir die wit kind, tot vir hom die lewenslig straal uit aia Amakeia's vrind'lik-troue swart gesig. Onheilspellend sien sy tekens, oorlog kom daar in die land: Snel die inval, huis en hawe uitgemoor en afgebrand. Selfvergetend, doodveragtend, met die wit kind op haar rug, na die Amatola-berge het sy ylings heen gevlug. "Stil maar, stil maar, pikanienie; oor die bergtop rys die maan. Niemand sal vir ons hier sien nie; môre sal ons huis toe gaan." Ag, dat oë van verspieders ook haar skuilplaas moes ontdek! "Spaar hom, hy's so klein nog," smeek sy met die hande uitgestrek. Woedend tier die wilde bende: "Sterf of gee die wit kind hier!" "Oor my lewelose liggaam ..." antwoord Amakeia fier. "My belofte aan my nonna - beste wat daar ooit nog was - waar hy gaan, moet Amakeia saamgaan om hom op te pas." "Is jul lewend nie te skei nie, bly dan in die dood vereen - kort proses met haar, Maxosas, laat die blink asgaaie reën!" In die Amatola-klowe sing nog net die winterwind deur die riete in die maanskyn: "Tula - Tula - stil, my kind!" (terug) |
| © Kopiereg - Karel Ark, Alle regte voorbehou. AG Visser hou die kopiereg van die gedigte op hierdie bladsy. |