Wanda Thomas
1. Pyn

2. Lag Met ‘n Traan

3. Gepende Pyn



Pyn
Dis een hartseer solo in die nag,
en almal deel daarin,
dan beweeg die koor na 'n hoogtepunt.

Ek's lus en gooi my kop agteroor
en huil saam met die honde daar buite,
moeg,moeg vir die seer gevoel hier binne my...

Ek wil hardloop saam met die wind
en huil tot ek nie meer kan nie.
Ek wil opkrul in 'n bondel
en hiberneer tot die pyn weg is.

Ek wil migreer na my drome
daar waar jy ook is.
Ek wil jou vlerke beskermend om my voel,
ek wil wegsweef op die golwe van jou liefde.

Pyn is glo goed,
jy weet dan jy lewe.
Maar ek wil nie meer voel nie...

...vat die naald en spuit die vloeistof in my are, gee my die genadedood...

...asseblief laat my gaan...


(terug)


Lag Met ‘n Traan

Dis net soos fietsry, jy verleer dit nooit.
Net sodra jy dink jy’s gebreek en die
stukke lê wydverspreid op die vloer rondom jou,
dan trek jy jou asem in en ruk jou gedagtes saam.

Jou gesig verander van seer na in beheer,
die spore van min slaap word toegesmeer,
die mistigheid voor jou oë droog op
en jy’s weer jou ou self.

Jy’s in beheer en almal rondom jou
sien die glimlag op jou mond
en hoor die lag in jou stem.

Jy loop die hele dag met die koue sleutel
om jou nek teen jou bors.
En vanaand wanneer die sluiers van stilte
om jou trek, dan kom die pyn in vlae na vore.

Die snikke ruk rou uit jou bors
en die opgehoopte emosies vind hul uitgang
in die donker gange van jou siel.

Die sleutel werk net tussen ander mense en
wanneer jy die lig afskakel,
verdwaal jy weer in die spelonke van jou nagmerries.

Natgesweet en met ‘n vinnigkloppende lekkende hart
tas jy in die skemerlig weer na die sleutel.
Sluit dit weg en klim op jou fiets,
ry deur die strate van jou eensame lewe en vermaak die skare.

Ek die nar met die opgeverfde glimlag…
En jy die lag van herinnering wat deur my sny…

(terug)


Gepende Pyn

Snaaks hoe pyn die skrywer in jou wakker maak,
hoe woorde vorm kry in jou gedagtes.
Dit vloei deur die pen na die papier
en die leser heg sy eie daaraan.
Miskien is dit ‘n vorm van genesing,
miskien die instrument tot betekenis
gee aan ‘n ander se gedagtes.

Hoe voel dit om te weet dis jy
wat die ink deur my pen laat vloei,
dis jy wat die mes ingedruk en gedraai het?
Maak dit seer as jy tussen die lyne my
trane kan sien saamvloei
om my gesig te weerkaats?
Maar hierdie keer staar dooie oë na jou
en sien jy die naakte waarheid
ontbloot op ‘n stuk papier.

Jy het my seergemaak en jy weet dit…
en niks wat jy sê of doen
sal ooit weer die ink laat
terugvloei in die pen nie.
Die woorde staan swart op wit
voor jou en konfronteer jou
Ek die skrywer en jy die leser.

(terug)