![]() |
| Tommy van Staden |
|
1. ARBEID ADEL 7. PRENTJIEPERFEK: ’N VLEILANDSKAP
|
11. Die Steendwerg 12. Bloedstreep bo die hoogwatermerk 15. Gesien vanuit jou tronksel-venster
|
|
ARBEID ADEL ek staan op die onderste draad, wat die konsertina-hek en die karee-hoekpaal verbind: kan skaars oor die tweede doringdraad sien jy behendig besig om draad te span ek vra hoekom dit – hoekom dat hier het jy my begin leer van kwaliteit tydlose gereedskap van vakmanskap werkstrots en veiligheid twee maal meet, om net een maal te saag om eers ’n nag oor ’n skynbaar onoorkombare uitdaging te slaap die bodemlose put van skuld krag van kontantkoop eerbied vir die reg onkreukbaarheid om net lief te wees vir jou ma - al verstaan jy haar nie aldag nie… ons ingebore liefde vir die grond die knipmessie in my sak Pa pêrels uit jou mond! ek weet jy sou trots gewees het vandag - want jy het die woorde van ’n ander uitgeleef wat sê …net hulle sterf werklik wat nie geleer het om in ’n ander op te gaan en so voort te leef nie (terug) SONSTEEK ek is vies en vererg wrewelrig teenoor dié man wat ek in die oggende skeer vrydagmiddag en ek is uitgesluit my eie skuld: draadtuinstoel ongerieflik herfswind soos ek, beneuk atmosfeer somber ’n onwillige sonsitter in die songloed van ’n afnemende herfsson sal iemand kom oopsluit voor die aand-donker aangedrentel kom… sit nog so en pieker oor waar die son op sy sirkel sal wees voor familie ’n sel antwoord, toe ek deur die windverwaaide herfskleurige fluitjiesriet ’n hemelliggaam, ’n makro-goud-oranje krugerrand, omring met vuurkoord op die gesigseinder gewaar: tydsaam versigtig soos winter-harmansdrup uurglas-presies, skuifel die flou son-munt, afwaarts todat die westerkim-spaarblik dit heeltemal insuig, met ’n goue-gloedgolf wat nog traag talm: ongelooflik-hemels-goddelik hoe kon ek iets so ooglopend heeltyd miskyk, terwyl ek oor ’n voordeursleutel bly tob toe eers breek ek die kode hiervan… ’n hartseer-herfs-gewaarwording die mens kan hom geheel en al afsluit van sy omstandighede en prikkels uit die omgewing dié wete sif soos motreën neer 16 jaar se hand-oor-hand toename in trauma, vrees en ontheemding het my ook stelselmatig onbewus afgestomp my laat laer-trek in my gedagtes… ek besef toe ek is lankal inter-kontinentaal verplaas stukkie vir stukkie het my siel ontsnap ek’t reeds na immer-nimmerland geimmigreer, net my liggaam het uitgerangeer, onbetrokke in ’n klein enklave in my vaderland agtergebly (terug) TEKENS VAN DIE TYE my hart popel toe ’n poolvos verskyn oornag-verkleur na blou-grys so vir nuwe seisoen getooi o my nooi die somer en ysbreker is op-pad… die poolskip terug sal ek seën - hups wuif vir die aflos-rantsoen-ryer repeteer op die laaste skof met vliegtuig-posryer: voor jou deur sal staan jou bebaarde vryer blink-ring-boksie in sy sak rooiwyn rose en kers met knieknak jou liefdes-vers… ons saam-seisoen vrou uit ’n miljoen ’seblief sê ja ouers kan ons later vra (terug) ZOLDOL in switserland ingedruk op voorstedelike trein half-oorlaai met vogue en ander voorblad-gesigte persoonlike ruimte min maar ek weier om te kla sneeuwit-velle van bietjies-bietjies-son blousel-blou-oë soos diep poele uit koue-woud -dan in stokou olie-bekolde skouersak grou ’n blonde beeldskone vrou perfekte-wang-bene met hemelse lippe… op haar skoot met vuil onversorgde naels om ’n mills-blikkie skud sy sigaret-twak in papiertjie, wat behendig in sigaretmaker gerol word tot zol voor sy onvroulik in-your-face oopmond-snorkend aan die slaap raak: skielik verlang ek na die skoon -geskropte lekker-ruik nonnatjies van my suiderland wat soos dié mense lyk maar nie is: ruik ek in my verbeelding die parfuum aan my veiligheids -gordel as my eie veerpootjie my motor gebruik het (terug) AFRIKAHEKSE HOU FEES ’n Helder en skerp oggendlig – skadu’s teen die muur. Afrika-drogbeelde speel ritmies in die vlamvuur. Wind wat takke liggies waai. Sangoma wat beesstert swaai. Onheilspellend soos Afrika-politiek van die uur. (terug) TAMBOEKIEGRAS langs die slingerpad het ons gestap vra ek, wat doen jy vir die res van jou lewe -jou innooi antwoord opgevolg deur my: wil jy dit nie saam met mý doen nie… net daar het jy ingestem om saam met my die res van die pad te stap: aromatiese lappe tamboekiegras wat die paadjie omsoom wieg toe instemmend stil-swaaiend in die soel windjie (terug) PRENTJIEPERFEK: ’N VLEILANDSKAP ’n Flap het met fladderende bewegings aangekom. Die werkliede sing liedere van tulpe en aandblom. Water kabbel flink in die leikanaal. Tevrede op ’n tak sit janfiskaal. ’n Boerenooi speel model in die goue sonneblom. (terug) EKSPROPRIASIE AFRIKA afrika-olifante huil hul kontinent word onteer toe grootvoete nog geil duits-wes-gras-panne had beheer in getalle vervuil traan hulle slegs om te wys hulle’s reg vir kopuleer afrika-olifante huil hul kontinent word onteer etosha-studies wys nou, hul kan klank ultra-sonies peil grootoor kan met mekaar oor baie myle kommunikeer menslike natuur- en habitatverwoesting met venyn word oor grasvlakte, soutpan en watergat geprojekteer afrika-olifante huil hul kontinent word onteer (terug) TREKVOëLS migrerende geveerdes in perfekte v-formasie en sateliet-tegnologie-informasie verstom geleerdes optimaal benut die geskepte swerm-sleurstroom: die voëls hou mekaar in toom kommunikasie onontbeerlik vir die swerm te stadig agterstes wat snawelend kerm: stresvolle take word gedeel tydens insidente word gereeld roteer in storms kry geharde vlieërs voor ‘n beurt voorvlugposisies verander gereeld: val een uit sal ander dit probeer stuit ons pikorde en moderne bestuurshiërargie sal by dié internasionale reisigers lei tot anargie. (terug) VERKEERSKNOOP ek sit soos i d du plessis se maan in ’n mik gevang op ’n vodjie papier skryf ek want die verkeer hang: skud af die kaapse tjalie môremis hang knus om groen skouers van die magalies: baie tyd om te kyk na my groteske berg na kabbelende water, vloeiend in my jeug-ontdekte-apies na motors wat hang op die nie-kuber-snelweg: na bestuurders nukkerig tik-tik-tik- sms jadda-jadda hul laat weet kantoor, angstig-bang: kleintyd dié berg se koppe en forte verken met sy granate moepels en stamvrugte se sap oor my ken agter sy horisonne nuwes leer ken die dagbreek-mis oor my swaar gemoed lig erg-weerstandig-stadig soos rawe in sterk wind, geleidelik as beelde van my vrye-jeug in fokus kom: die verkeerstameletjie prentjies verdwyn, tydelik alhoewel niks beweeg tot tyd vir ’n gebed: heer wens ons vind mekaar in hierdie bloeddorstige mooi land met sy frappante strome en berge, uiteindelik (terug) Die Steendwerg oorspanne ingesluimer duidelik in my droom ’n Albatros wat draai bo die oseaan se klipdepot see-rotse finaal verslaan ankertou het losgekom aardplate het geskuif nie een ongeskonde: herskik en opgestapel see-rotse verniel deur kolkstroom-boor en systroom-water-mes wat heen-en-weer sny: wind-erosie knak-verswak maalgat en draaikolk skeurgleuf waterpers het harde rotskors tot skulp-gruis verwerk: misvormde rotsstapel verlam deur mossel-parasiet klip-ribbes duidelik sigbaar onder ’n dun gepokte vel met groeisels van plankton wat uit skeurwonde opwel: dring en beur die marmer-breker see-rotse finaal verslaan dan op die hoogste punt verskyn in my droom uit geskende rots ’n steendwerg hoe lank staan hy al daar? jou hopie rotse sê hy: myne, vra ek verbaas instemmend knik hy: “ja, kasty-merke van jou eie ego se eb- en vloed gety jou eende was altyd in ’n ry - oorstuurs hakke ingeslaan met vooropgestelde idees subjektiewe konklusies jou eie-illusies: jou nooit laat vermaan: wegkalwing van jou eng sieninge aanslae, teen jou harde kop al teen-die-stroom-op jou selftevredenheid, geen-feit-argumente en altyd-reg-gevolgtrekkings het jou uitterend gekwes” in koue-sweet skrik ek wakker dankie tog dis net ’n droom: amper gedink die fout lê by my maar ek was so verkeerd (terug) Bloedstreep bo die hoogwatermerk Sal vreemde digters ons verhaal (moet) vertel? F W Reitz (1844-1934) ons suiderland se moeders huil gulsige grond slurp bloedtrane op room van die oes soek oorsee hul heil linies word opgestel – kop aan kop vaders ontroosbaar, bloed op ’n byl reënboognasie by ’n kruispad – nee ’n stop: ons suiderland se moeders huil gulsige grond slurp bloedtrane op ongebreidelde haat spel weer onheil alkante eis die kleurvyand se kop bloed-sleepsel van ’n adder wat mensgif kwyl gematigde leiers steek in godsnaam weer hand-op! ons suiderland se moeders huil gulsige grond slurp bloedtrane op (terug) Kleinvannag onder skugter-maan en verpoeierde sterrehemel op ’n plooi-yster bankie in die katjie-piering en poinsettia tuin… met ’n lang-been kiewiet wat parmantig oor sy slaap-plek kla: sit twee in-een gestrengelde verliefdes en hoor mekaar woordeloos (terug) ’n Kleurspel by kloofsig, voor sportpark stop ’n trein soggens wat mense lek: baie mense mense wat werk by artilleriepark maar een vaal-grou- reën-lek-oggend het dit my geruk eers ’n onaardse fluit toe uit dieselfde trein lek ’n Japanese-reën-draak: oor die lang perron sigsag kronkelend deur die hek al langs die steil slingerpad heen: na die kanonfabriek kleurvol seil hy flink wiebel-wiegel-waggel heen-en-weer weer-en-weer: ’n kleurspel sambrele gepresenteer - ingespan teen gure weer (terug) Gesien vanuit jou tronksel-venster wat weet ek wat kantoorknieë rek - hortjiesgordyn versnipper my horisonlyn; ’n sekuriteitsbeampte wat verbystap se foto-raampies-stippel-lyn snap ek is ’n voorbeeld van jou gesnoepde beeld van alle buitelewe: niks is voltooi: gedeeltes van ’n boom ogiesdraad-lig-kolletjies -wat-poustert-swaai skrefie van ’n dienspad skadu-lig-sonkol nog oop legkaartstukke ligflits vanaf ’n kar: hier-en-daar ’n besonde blaar - terwyl ek opgeknipte beelde van buite tot geheel probeer staanmaak my kop draai links dan vinnig regs angstig om net een iets vry as geheel te rekonstrueer: maar heellaas die aftog geblaas my teetyd is haas verby: van dit wat jy as prisonier hieruit ervaar - kon ek geen geheelbeeld kry (terug) ’k wonder oor jou Seun koperbruin kaal-bo-lyf krul-blonde-kuif koel-blousel-blou-oë knap-gebleikte-kleef-jannas kameelsigaret-advertensie-materiaal kromstaan op bouperseel - hoek van khumalo en du preez- kontrakteur-bakkie-bouer – ’n kontrak-hande-arbeider met karaktervolle koloniale voorouers – nou ’n klein-minderheid-ingelyfde kontant- selfvertroue- en geleentheidgestrem ’k wonder oor jou kind kan jy nog op jou ouers steun kla jy saans klas jy nog jouself aan die hand van jou voorsate kelder black-economic-empowerment jou kontrakte konstitusionele regsreëls klassifiseer jou tog as post-apartheid- kind - gebore na 1994 kantoormense se kinders kyk neer op jou werk kwel dit jou kantoormense se kinders is egter karweier-arbeiders op europese treklorries - vir groot k en dik ponde per maand kelners en au pairs aldaar - verdien nog meer kantoormense se kinders - na terugkeer na suid-afrika kripeer eerder voor hulle dieselfde werk hier sal doen kind verstaan jy kerkmuisarmoede en klas in ons suiderland ken geen velkleur meer kind verstaan jy kontrakwerk moet nie as benede gesien word kind verstaan jy kennis van handewerk keer ontheemding koue en broodgebrek ’k wonder oor jou kontrak-seun met die koninklike gelaatstrekke ’k wonder ook oor my as pennelekker se seun, kliek hy en sy tydgenote dié realiteit kognitief (terug) Inktrane die vrede sal erger wees as die bosoorlog gedink dié uitspraak is bog – maar nou…? ’n plaaskind lê onteer oopgeskeur in varktrog donker afwaartse spirale van haat – kop oopgevou huisbediende roggel in eie bloed – skop haar nog pappe -baba na huisroof op masjiene aan lewe gehou die vrede sal erger wees as die bosoorlog gedink dié uitspraak is bog – maar nou…? aan die suid-afrikaanse –reënboog-nasie glo ek nog ook in vreedsame naasbestaan en om saam op te bou teen misdaad, korrupsie en uitbuiting die nuwe oorlog idée dat dit nie sal werk- net te skrikwekkend en grou die vrede sal erger wees as die bosoorlog gedink dié uitspraak is bog – ook nou…! (terug) ’N VEELSTEMMIGE SIMFONIE Soos ’n middernagfees - agteraf beplan. Asof teaterligte deur verhoogdekor-vensters getoets word so flits weerligseine uit die vêrte, nes ’n Heliograaf van ouds. Hierop volg die mooiste musiekstuk vir vol orkes. Reën sag op die dak, ritmies aanhoudend. Die akkerboomtak wat in pas, egalig teen die nok skuur verskaf foutlose perkussie van moeder natuur. Die blaasinstrumente volg: ’n Afrika-nagvoël se hemelse roep weet hy en sy kontinent ontvang voorkeur seën daarom dat hy môre se mooi nou reeds uitbasuin. Wie sou kon dink dié meester is plaaslik opgelei? ’n Diva volg, ’n roesbruin nagtegaal uit ons eie kontrei! Nou onmiskenbaar die basviool, as lug knaend deur baksteennoutes pers. Dan dramaties! Naby blitse - donderende slae en ’n kabbelende gerammel. Dirigent snaarstyf, sy bewegings stokkerig. Penorent, bring hy die dromme, tromme en die res van die slagorkes by. Ligte flits skerp rondom die verhoog klank voelbaar dan ongemaklik onheilspellend. Saggies neul die wind, byna soos ’n klaende kind dan hoorbaar penetrerend as natuurkrag potent. Ewe skielik: ... grafstil. Prominent die afwagting! Sinergisties die geheel, in perfekte harmonie. Die einde van die veelstemmige natuur-simfonie. (terug) |
| © Kopiereg - Karel Ark, Alle regte voorbehou. Tommy van Staden hou die kopiereg van die gedigte op hierdie bladsy. |