Tommy van Staden
1. ARBEID ADEL

2. SONSTEEK

3. TEKENS VAN DIE TYE

4. ZOLDOL

5. AFRIKAHEKSE HOU FEES

6. TAMBOEKIEGRAS

7. PRENTJIEPERFEK: ’N VLEILANDSKAP

8. EKSPROPRIASIE AFRIKA

9. TREKVOëLS

10. VERKEERSKNOOP

11. Die Steendwerg

12. Bloedstreep bo die hoogwatermerk

13. Kleinvannag

14. ’n Kleurspel

15. Gesien vanuit jou tronksel-venster

16. ’k wonder oor jou Seun

17. Inktrane

18. ’N VEELSTEMMIGE SIMFONIE



ARBEID ADEL
ek staan op die onderste
draad, wat die konsertina-hek
en die karee-hoekpaal verbind:
kan skaars oor die tweede
doringdraad sien jy behendig
besig om draad te span ek vra
hoekom dit – hoekom dat
hier het jy my begin leer
van kwaliteit tydlose gereedskap van
vakmanskap werkstrots en veiligheid
twee maal meet, om net
een maal te saag om eers
’n nag oor ’n skynbaar
onoorkombare uitdaging
te slaap die bodemlose put
van skuld krag van
kontantkoop eerbied vir
die reg onkreukbaarheid
om net lief te wees vir
jou ma - al verstaan jy
haar nie aldag nie…
ons ingebore liefde
vir die grond die
knipmessie in my sak
Pa pêrels uit jou mond!
ek weet jy sou trots gewees
het vandag - want jy het die
woorde van ’n ander uitgeleef
wat sê …net hulle sterf werklik
wat nie geleer het om in ’n ander
op te gaan en so voort te leef nie

(terug)


SONSTEEK

ek is vies
en vererg
wrewelrig
teenoor dié
man wat
ek in die
oggende skeer
vrydagmiddag
en ek is
uitgesluit
my eie skuld:
draadtuinstoel
ongerieflik
herfswind soos
ek, beneuk
atmosfeer somber
’n onwillige
sonsitter in die
songloed van ’n
afnemende herfsson
sal iemand kom
oopsluit voor die
aand-donker
aangedrentel kom…
sit nog so en pieker
oor waar die son op
sy sirkel sal wees
voor familie ’n sel
antwoord,
toe ek deur die
windverwaaide
herfskleurige
fluitjiesriet ’n
hemelliggaam, ’n
makro-goud-oranje
krugerrand, omring
met vuurkoord op die
gesigseinder gewaar:
tydsaam versigtig soos
winter-harmansdrup
uurglas-presies, skuifel
die flou son-munt, afwaarts
todat die westerkim-spaarblik
dit heeltemal insuig, met ’n
goue-gloedgolf wat nog traag talm:
ongelooflik-hemels-goddelik
hoe kon ek iets so ooglopend
heeltyd miskyk, terwyl ek
oor ’n voordeursleutel bly tob
toe eers breek ek die kode hiervan…
’n hartseer-herfs-gewaarwording
die mens kan hom geheel en al
afsluit van sy omstandighede
en prikkels uit die omgewing
dié wete sif soos motreën neer
16 jaar se hand-oor-hand toename
in trauma, vrees en ontheemding
het my ook stelselmatig onbewus
afgestomp my laat laer-trek in my gedagtes…
ek besef toe ek is lankal inter-kontinentaal verplaas
stukkie vir stukkie het my siel ontsnap
ek’t reeds na immer-nimmerland geimmigreer,
net my liggaam het uitgerangeer, onbetrokke
in ’n klein enklave in my vaderland agtergebly

(terug)


TEKENS VAN DIE TYE

my hart popel
toe ’n poolvos
verskyn
oornag-verkleur
na blou-grys
so vir nuwe
seisoen getooi
o my nooi
die somer
en ysbreker
is op-pad…
die poolskip
terug sal ek
seën - hups
wuif vir die
aflos-rantsoen-ryer
repeteer op die
laaste skof met
vliegtuig-posryer:
voor jou deur sal
staan jou bebaarde
vryer blink-ring-boksie
in sy sak
rooiwyn rose en kers
met knieknak
jou liefdes-vers…
ons saam-seisoen
vrou uit ’n miljoen
’seblief sê ja
ouers kan ons
later vra

(terug)


ZOLDOL

in switserland
ingedruk
op voorstedelike trein
half-oorlaai met vogue
en ander voorblad-gesigte
persoonlike ruimte min
maar ek weier om te kla
sneeuwit-velle van
bietjies-bietjies-son
blousel-blou-oë soos
diep poele uit koue-woud
-dan in stokou
olie-bekolde
skouersak grou
’n blonde
beeldskone vrou
perfekte-wang-bene
met hemelse
lippe…
op haar skoot
met vuil onversorgde
naels om ’n mills-blikkie
skud sy sigaret-twak in
papiertjie, wat behendig
in sigaretmaker gerol
word tot zol
voor sy onvroulik
in-your-face
oopmond-snorkend
aan die
slaap raak:
skielik
verlang ek
na die skoon
-geskropte
lekker-ruik
nonnatjies
van my
suiderland
wat soos dié
mense lyk
maar nie is:
ruik ek in my
verbeelding
die parfuum
aan my
veiligheids
-gordel
as my eie
veerpootjie
my motor
gebruik het

(terug)


AFRIKAHEKSE HOU FEES

’n Helder en skerp oggendlig – skadu’s teen die muur.
Afrika-drogbeelde speel ritmies in die vlamvuur.
Wind wat takke liggies waai.
Sangoma wat beesstert swaai.
Onheilspellend soos Afrika-politiek van die uur.

(terug)


TAMBOEKIEGRAS

langs die slingerpad
het ons gestap
vra ek, wat doen
jy vir die res
van jou lewe
-jou innooi
antwoord
opgevolg
deur my:
wil jy dit nie
saam met mý
doen nie…
net daar
het jy
ingestem
om saam
met my
die res
van
die
pad
te stap:
aromatiese
lappe
tamboekiegras
wat die
paadjie omsoom
wieg toe
instemmend
stil-swaaiend
in die soel windjie

(terug)


PRENTJIEPERFEK: ’N VLEILANDSKAP

’n Flap het met fladderende bewegings aangekom.
Die werkliede sing liedere van tulpe en aandblom.
Water kabbel flink in die leikanaal.
Tevrede op ’n tak sit janfiskaal.
’n Boerenooi speel model in die goue sonneblom.

(terug)


EKSPROPRIASIE AFRIKA

afrika-olifante huil
hul kontinent word onteer
toe grootvoete nog geil
duits-wes-gras-panne had beheer
in getalle vervuil
traan hulle slegs om te wys hulle’s reg vir kopuleer
afrika-olifante huil
hul kontinent word onteer
etosha-studies wys nou, hul kan klank ultra-sonies peil
grootoor kan met mekaar oor baie myle kommunikeer
menslike natuur- en habitatverwoesting met venyn
word oor grasvlakte, soutpan en watergat geprojekteer
afrika-olifante huil
hul kontinent word onteer

(terug)


TREKVOëLS

migrerende geveerdes
in perfekte v-formasie
en sateliet-tegnologie-informasie
verstom geleerdes
optimaal benut
die geskepte swerm-sleurstroom:
die voëls hou mekaar in toom
kommunikasie onontbeerlik vir die swerm
te stadig agterstes wat snawelend kerm:
stresvolle take word gedeel
tydens insidente word gereeld roteer
in storms kry geharde vlieërs voor ‘n beurt
voorvlugposisies verander gereeld:
val een uit
sal ander dit probeer stuit
ons pikorde
en moderne bestuurshiërargie
sal by dié internasionale reisigers
lei tot anargie.

(terug)


VERKEERSKNOOP

ek sit soos i d du plessis se
maan in ’n mik gevang
op ’n vodjie papier skryf ek
want die verkeer hang:
skud af die kaapse tjalie
môremis hang knus
om groen skouers
van die magalies:
baie tyd om te kyk
na my groteske berg
na kabbelende
water, vloeiend in my
jeug-ontdekte-apies
na motors wat hang
op die nie-kuber-snelweg:
na bestuurders nukkerig
tik-tik-tik- sms
jadda-jadda
hul laat weet kantoor,
angstig-bang:
kleintyd dié berg
se koppe en forte verken
met sy granate moepels
en stamvrugte se sap
oor my ken
agter sy horisonne
nuwes leer ken
die dagbreek-mis
oor my swaar gemoed
lig erg-weerstandig-stadig
soos rawe in sterk wind,
geleidelik
as beelde van
my vrye-jeug
in fokus kom:
die verkeerstameletjie
prentjies verdwyn,
tydelik
alhoewel niks beweeg
tot tyd vir ’n gebed:
heer wens ons vind
mekaar in hierdie
bloeddorstige mooi
land met sy frappante
strome en berge,
uiteindelik

(terug)


Die Steendwerg

oorspanne ingesluimer
duidelik in my droom
’n Albatros wat draai
bo die oseaan se klipdepot
see-rotse finaal verslaan
ankertou het losgekom
aardplate het geskuif
nie een ongeskonde:
herskik en opgestapel
see-rotse verniel deur
kolkstroom-boor
en systroom-water-mes
wat heen-en-weer sny:
wind-erosie knak-verswak
maalgat en draaikolk
skeurgleuf waterpers
het harde rotskors tot
skulp-gruis verwerk:
misvormde rotsstapel
verlam deur mossel-parasiet
klip-ribbes duidelik sigbaar
onder ’n dun gepokte vel
met groeisels van plankton
wat uit skeurwonde opwel:
dring en beur die marmer-breker
see-rotse finaal verslaan

dan op die hoogste punt
verskyn in my droom
uit geskende rots
’n steendwerg
hoe lank staan hy al daar?
jou hopie rotse sê hy:
myne, vra ek verbaas
instemmend knik hy:
“ja, kasty-merke
van jou eie ego se
eb- en vloed gety
jou eende was altyd in ’n ry
- oorstuurs hakke ingeslaan
met vooropgestelde idees
subjektiewe konklusies
jou eie-illusies:
jou nooit laat vermaan:
wegkalwing van jou
eng sieninge
aanslae, teen jou
harde kop
al teen-die-stroom-op
jou selftevredenheid,
geen-feit-argumente
en altyd-reg-gevolgtrekkings
het jou uitterend gekwes”

in koue-sweet
skrik ek wakker
dankie tog dis
net ’n droom:
amper gedink
die fout lê by my
maar ek
was so
verkeerd

(terug)


Bloedstreep bo die hoogwatermerk


Sal vreemde digters ons verhaal (moet) vertel?
F W Reitz (1844-1934)

ons suiderland se moeders huil
gulsige grond slurp bloedtrane op
room van die oes soek oorsee hul heil
linies word opgestel – kop aan kop
vaders ontroosbaar, bloed op ’n byl
reënboognasie by ’n kruispad – nee ’n stop:
ons suiderland se moeders huil
gulsige grond slurp bloedtrane op
ongebreidelde haat spel weer onheil
alkante eis die kleurvyand se kop
bloed-sleepsel van ’n adder wat mensgif kwyl
gematigde leiers steek in godsnaam weer hand-op!
ons suiderland se moeders huil
gulsige grond slurp bloedtrane op

(terug)


Kleinvannag

onder
skugter-maan
en verpoeierde
sterrehemel
op ’n
plooi-yster
bankie
in die
katjie-piering
en poinsettia
tuin…
met ’n
lang-been
kiewiet wat
parmantig
oor sy
slaap-plek
kla:
sit twee
in-een
gestrengelde
verliefdes
en hoor
mekaar
woordeloos

(terug)


’n Kleurspel

by kloofsig, voor sportpark
stop ’n trein soggens
wat mense lek:
baie mense
mense wat werk by
artilleriepark
maar een vaal-grou-
reën-lek-oggend
het dit my geruk
eers ’n onaardse fluit
toe uit dieselfde trein lek
’n Japanese-reën-draak:
oor die lang perron
sigsag kronkelend
deur die hek
al langs die steil
slingerpad heen:
na die kanonfabriek
kleurvol seil hy flink
wiebel-wiegel-waggel
heen-en-weer
weer-en-weer:
’n kleurspel sambrele
gepresenteer
- ingespan
teen gure weer

(terug)


Gesien vanuit jou tronksel-venster

wat weet ek
wat kantoorknieë rek
- hortjiesgordyn
versnipper my horisonlyn;
’n sekuriteitsbeampte
wat verbystap
se foto-raampies-stippel-lyn
snap ek is ’n voorbeeld
van jou gesnoepde
beeld van alle buitelewe:
niks is voltooi:
gedeeltes van ’n boom
ogiesdraad-lig-kolletjies
-wat-poustert-swaai
skrefie van ’n dienspad
skadu-lig-sonkol
nog oop legkaartstukke
ligflits vanaf ’n kar:
hier-en-daar
’n besonde blaar
- terwyl ek opgeknipte
beelde van buite tot geheel
probeer staanmaak
my kop draai links
dan vinnig regs
angstig om net een iets vry
as geheel te rekonstrueer:
maar heellaas
die aftog geblaas
my teetyd is haas
verby:
van dit wat jy
as prisonier hieruit
ervaar - kon ek
geen geheelbeeld kry

(terug)


’k wonder oor jou Seun

koperbruin
kaal-bo-lyf
krul-blonde-kuif
koel-blousel-blou-oë
knap-gebleikte-kleef-jannas
kameelsigaret-advertensie-materiaal
kromstaan op bouperseel - hoek van
khumalo en du preez-
kontrakteur-bakkie-bouer – ’n
kontrak-hande-arbeider met
karaktervolle koloniale voorouers – nou ’n
klein-minderheid-ingelyfde
kontant- selfvertroue- en geleentheidgestrem
’k wonder oor jou kind
kan jy nog op jou ouers steun
kla jy saans
klas jy nog jouself aan die hand van jou voorsate
kelder black-economic-empowerment jou kontrakte
konstitusionele regsreëls
klassifiseer jou tog as post-apartheid-
kind - gebore na 1994
kantoormense se kinders
kyk neer op jou werk
kwel dit jou
kantoormense se kinders is egter
karweier-arbeiders op europese treklorries - vir groot
k en dik ponde per maand
kelners en au pairs aldaar - verdien nog meer
kantoormense se
kinders - na terugkeer na suid-afrika
kripeer eerder voor hulle dieselfde werk hier sal doen
kind verstaan jy
kerkmuisarmoede en klas in ons suiderland
ken geen velkleur meer
kind verstaan jy
kontrakwerk moet nie as benede gesien word
kind verstaan jy
kennis van handewerk
keer ontheemding koue en broodgebrek
’k wonder oor jou
kontrak-seun met die koninklike gelaatstrekke
’k wonder ook oor my as pennelekker se seun,
kliek hy en sy tydgenote dié realiteit kognitief

(terug)


Inktrane

die vrede sal erger wees as die bosoorlog
gedink dié uitspraak is bog – maar nou…?
’n plaaskind lê onteer oopgeskeur in varktrog
donker afwaartse spirale van haat – kop oopgevou
huisbediende roggel in eie bloed – skop haar nog
pappe -baba na huisroof op masjiene aan lewe gehou
die vrede sal erger wees as die bosoorlog
gedink dié uitspraak is bog – maar nou…?
aan die suid-afrikaanse –reënboog-nasie glo ek nog
ook in vreedsame naasbestaan en om saam op te bou
teen misdaad, korrupsie en uitbuiting die nuwe oorlog
idée dat dit nie sal werk- net te skrikwekkend en grou
die vrede sal erger wees as die bosoorlog
gedink dié uitspraak is bog – ook nou…!

(terug)


’N VEELSTEMMIGE SIMFONIE

Soos ’n middernagfees -
agteraf beplan.
Asof teaterligte deur verhoogdekor-vensters getoets word
so flits weerligseine uit die vêrte, nes ’n Heliograaf van ouds.

Hierop volg die mooiste musiekstuk vir vol orkes.
Reën sag op die dak, ritmies aanhoudend.
Die akkerboomtak wat in pas, egalig teen die nok skuur
verskaf foutlose perkussie van moeder natuur.

Die blaasinstrumente volg:
’n Afrika-nagvoël se hemelse roep
weet hy en sy kontinent ontvang voorkeur seën
daarom dat hy môre se mooi nou reeds uitbasuin.

Wie sou kon dink dié meester is plaaslik opgelei?
’n Diva volg, ’n roesbruin nagtegaal uit ons eie kontrei!
Nou onmiskenbaar die basviool,
as lug knaend deur baksteennoutes pers.

Dan dramaties!
Naby blitse - donderende slae en ’n kabbelende gerammel.
Dirigent snaarstyf, sy bewegings stokkerig.
Penorent, bring hy die dromme, tromme en die res van die slagorkes by.

Ligte flits skerp rondom die verhoog
klank voelbaar dan ongemaklik onheilspellend.
Saggies neul die wind, byna soos ’n klaende kind
dan hoorbaar penetrerend as natuurkrag potent.

Ewe skielik: ... grafstil.
Prominent die afwagting!
Sinergisties die geheel, in perfekte harmonie.
Die einde van die veelstemmige natuur-simfonie.

(terug)