Tertius Fourie
1. In Skerwe

2. Oop

3. Oor alles

4. liefdesgedig sonder titel

5. Obscurus

6. Tussen Sand en Son en Grafte

7. Verlange na iemand Onbekend

8. Aap, Hofnar en Hond

9. Afdrukke en Letsels in Middagson

10. Die Pes van Binne

11. Dorre Landskap met Verdroogde Are

12. Drenkeling op Droë Land

13. Drome en ambisies geanker, verstewig



In Skerwe
mildelik protesterend
teen verlore saak
wanneer ons salig onbewus
in nanag rondtas op soek na
iets onbeskore vir ons siele
besef: niks is verniet
vir stomme siele
wat swygsaam staar na verlore
drome wat in skerwe in duister verdwyn

^Ontwortel
verstrengeld
in die onkruid van jou sieletuin
’n boodskap word gestuur
al jou hoop
op ’n blink toekoms vervaag

dolwe diep ondergronds
ontwortel die kwaad
wat soos onkruid uit die siel
na vore kom
ontwortel, verbrand en lewe
in vrede

(terug)


Oop

gedagtes verdiep
in swart op wit
dwaal na ’n wêreld
ver van hier, fisies onbereikbaar

om in mistigheid
op vlaktes rond dwaal
oral na verdieping soek
gedagtes wissel

(terug)


Oor alles

die as het verkrummel
tussen groenigheid
en herfsblare

iewers is smart gebore
maar so ook geluk
vrede

delf
soek na iets onbekend
ontbloot begeertes
vegtend - hoop gevestig

(terug)


liefdesgedig sonder titel

verstrengel my in die kettings
van jou liefde
en werp my in 'n see van geluk
sodat ek kan verdrink
en weer nuutgebore kan uitspoel
op die strand van jou liggaam
en die vrugte van jou vrouwees

laat ek nog net eenkeer
myself openbaar
en voor jou staan
om in jou gedagtes te verdwaal

(terug)


Obscurus

wees stil, het ek geseg
want die woord wat dit ontwaak
mag nie oor jou lippe kom

stil en styf van spanning
benoud en verward
het ek dan gelê
oë stokstyf in my kop

nou en dan, dan en wan
starend na die donker hoekie
waar ek geglo het dat dit gaan ontwaak
nou weet ek daar is niks

niks in die duister wat die nag omkrap

(terug)


Tussen Sand en Son en Grafte

ek tuur deur die mure van my glaskas
en strek my arms om by iets te kom
iets buite my bereik
so naby, so ver

met ope arms van afsydigheid
word ek verwelkom
wanneer ek deur die mure breek
en myself verlos

met hul skoene van yster
vertrap hul die drenkeling
op droeë land
ongevraagd en onbeskof

breek die ruggraat
hoor die werwels kraak
en spuug in my gesig
en op my graf

(terug)


Verlange na iemand Onbekend

volg my treurlied oor die see
antwoord my roepstem
wanneer ek in eensaamheid
na jou smag en jou gesig wil sien

deur diepe waters van depressie
het ons gespartel
om dit te ontdek en te bewaar wat
ons s’n is
waarop ons beslag lê in ons drome
en vir ewig onder ons kussings bewaar

in my swaar gemoed draal ’n eensame siel
en in verdriet en pyn is daar net ’n paar
sake wat vir my sin maak en my vertroos
God is naby en jy is ver
ek smag daarna om net weer jou stem te hoor
fluister in my oor en vertel vir my dat alles
pluis is, want woorde van swaarkry en verdriet
is te algemeen en te wyd versprei oor onse
lewens

stuur vir my ’n spierwit duif oor die see
met ’n boodskappie toegedraai in ’n lint
hy sal veilig land en die roofdiere sal hom
nie verslind
ek stuur my liefde oor die see
en van jou kom…

…geen respons

(terug)


Aap, Hofnar en Hond

op die rand van ’n afgrond
bou ek voort op my waaghalsigheid
en trap ek suutjies sodat die skerp
rand van die objek my nie in twee
sal sny en die wêreld nie my siel
in stukke sal skeur

want hulle bid dat ek moet val
sodat die sirkus kan aangaan
of ek nou bloei of nie
hul selfsug kry altyd die oorhand
en ek moet altyd kruip
hulle vind my lewe amusant
hulle wil sien hoe ek faal

(terug)


Afdrukke en Letsels in Middagson

vasgevang in die sement
wat bloedig in die middagson
onder my voetsole brand
is daar dalk iets of iemand
wat iets of niks begryp

die siel van ’n gestorwe enkeling
wat ewig deur die lewe sweef
en die verdukker verag en veg vir niks
vir ’n verlore saak wat niemand
begryp of doelbewus ignoreer

ek vou my hande toe om die benerige vingers
ek tel die vertrapte geraamte op en kou saam
harde klippe en ons trane vloei voort in die
strome van verlore anti-helde en vegters

dames en here,
’n volledige analise van skelet en vlees
are en bloed
sal later afgehandel word sodat u eers u hande
omhoog kan hou en my kan peper met vrae

(vrae van afkeuring wat soos sweepslae in my
ore klap en ewige letsels op my onskuldige vlees laat)

(terug)


Die Pes van Binne

in my innnerlike knaag ’n parasiet
my bloed stroom in ’n rivier deur Afrika
en word vermeng met die smart van soveel
ander wesens

aan mekaar is ons tog onbekend
maar ons deel alles
en ons opinies is soos kaf in die wind
want niemand sien dit tog raak
hou dit maar vir jouself
want die grootkoppe gee nie om
nie vir my, nie vir jou

selfsug en ongeduld
is elke dag te bespeur
’n parasiet vreet deur die nasie se vlees
en op die ou end vergader ons in geraamte
en gees

op die plein van die dood
buite die stad
in gebied onbekend
want die parasiet van selfsug
en aardse verdriet regeer ons lewens
en ons kan nie verby die duisternis kyk nie

mag die Here ons genadig wees
want ons is geestelik verblind
en het in hoogmoed verval
’n engel stort ’n traan
die duiwel lag
die mensdom krepeer

(terug)


Dorre Landskap met Verdroogde Are

ver, baie ver en wyd
strek die landskap van dorre grond
en opgedroogde are ondergronds
so ver as wat die oog kan sien
sal niks na vore kom in die nag
wat ons onverwags sal betrap en martel nie

want ons voer ’n sukkel bestaan
met graaf, pik, skoffel, trekker en ploeg
veg teen droogte, son, sand, trane en verdrukking
ver weg versprei oor die hele land sal daar ewig geraamtes bly
in die nanag, vroegdag, vroegaand, laataand en somerson

koue winters van snerpende koue wind
sal weer deur ons vlees sny soos ’n lem, soos ’n koue stuk staal
wat die vlees vermink en bloed mors op kosbare tapyte van rykes
en armes oor landskap heen

bid, waak en veg in die laatnag
bid vir genade
waak teen vyand
en veg teen pyn

(terug)


Drenkeling op Droë Land

’n vrotvel lê eenkant, verlate
koorsig opsoek na ’n pynpil
vir die kloppende pyn
wat die wêreld in my are graveer
dit pomp soos ’n gif
deur my bloedstroom, ewig polsend

genade is nie by hul te vind
en ek is die verlate siel
wat droogbek eenkant sit
en asem ophou vir beledigings
maar die kyke is genoeg
die kyke, die blik op my
met afgryse gevul, ewig verdoemend

ek kyk verby dit alles
en strewe na iets hoër en beter

ek, drenkeling

(terug)


Drome en ambisies geanker, verstewig

ek wou teen mure uitklim
en my lepel in die dak steek
en my tranedal stort oor die vloer

ek wou my gebeentes herbegrawe
in ’n kerkhof in die Kaap of Parys
en die eenvoud van ’n huwelik
sonder komplikasies geniet

ek wou my bruid gaan oplaai
iewers ver oor die waters
maar toe trap ander weer op my droom
en ek staan huilend eenkant
en dink aan die onreg

maar hoekom sal ek toelaat
dat my drome in skerwe gebreek word
hoekom sal ek toelaat dat my ambisie
in ’n rookkolom verdwyn
daarom stry ek en maak ek my opinie duidelik
nou swyg die morone en laat my met rus

(terug)