![]() |
| Robert Janse van Vuuren |
|
GEBED VIR MY GELIEFDE Liewe Jesus, ek kniel voor U met ‘n seer hart. Ek kan dit nie vir U wegsteek nie. My geliefde het oud en swak geword- Tyd en ruimte het vir haar geen betekenis meer nie. Sy leef in ‘n wêreld waarin ek nie kan deel nie, Ek kan haar nie daar bereik nie. Ek is vir haar dieselfde as ‘n vreemdeling. Ons kan nie meer ‘n gedagte deel nie Voorheen toe sy vir my gekyk het, het ek liefde in haar oë gesien Nou sien sy my, as die enigste anker met die lewe die hand wat haar moet lei. Maar dit voel asof ek haar bring waar sy nie wil wees nie. Sy wil huis toe gaan terwyl sy in haar huis is. Elke week gaan nog ‘n stukkie van haar verstand deur ‘n poort, En ek kan dit nie keer nie. Ek kan haar nie daarin bereik nie. Here help my om dit te aanvaar. Help my om te verstaan wat ek kan doen en te berus in wat ek nie kan nie. Dankie dat U ook daar met haar is. Dankie vir die jare wat ons saam gehad het. Dankie dat al die gedagtes wat ek van haar het, mooi is. Dankie vir alles wat sy vir my gedoen het, van my verdra het. Dankie vir die mooi kinders wat u deur haar vir my gegee het. Dankie dat almal van hulle die regte pad soos sy dit geloop het vandag nog met lus en liefde volg. Ek bid Here om dankie te sê dat U haar liefdevol versorg. Help my, om die sorg wat U vir haar bedoel het, te kan volbring. Ek bid dan Here, sê vir haar dat ek vir haar lief is. Dankie dat sy en ek in U nog saam is. AMEN. NS. Oorspronklike skrywer onbekend. Herskryf en aangepas by ons omstandighede (terug) TROUDAG HERDENKING Ek het die mooiste meisie in die wêreld getrou, vir haar geneem as my enigste vrou. Vir Jesus gevra of ek haar mag hê. En “laat dit wees soos jou hart aan jou sê”. Ek het haar om haar hand gevra. En byna was sy te skaam om te sê, ja. Maar die begeerte en liefde het in haar oë geskyn Al my twyfel het uit my hart verdwyn. Ons troue was ‘n geestelike droom. Ek het geweet dat Jesus by ons kom woon. En voor die kansel, so pragtig in wit geklee, het sy plegtig belowe, dat ons saam sal wandel op Sy weë. Met dankbaarheid het my hart in vreugde betuig, in die Here my God het my hart gejuig. Is daar iets na wat ‘n mens meer kan verlang, as dat Jesus by ons was, in ons samesang. Vandag is ons agt-en-veertig jaar saam, ‘n vol lewe gewy in Sy heilige naam. Maar vier jaar gelede het die Doods Engel kom sê, dat hy van haar gedagtes gereeld ‘n stukkie wou hê. Soos ‘n wurm op ‘n blaar gereeld sy stukkie kom eet het sy elke dag ‘n gedeelte vergeet Selfs haar kinders se name en ook vir my En daar is niks wat hierdie verdriet kan vermy Tot my skok vind ek soms dat ek na haar soek In elke kamer, om elke draai, in elke hoek En al wat ek vind is ‘n eensame hart Waarvan trane drup in verdrietige smart Alleen in die versorgings oord Sit sy saam met haar eie soort En lag en gesels hul almal saam In ‘n taal wat nie een kan verstaan En wanneer ek daar kom dan bloei my hart, stewig in my arms in ‘n geveg teen smart. Haar armpies krampagtig om my rug geklou asof dit haar kan terugbring uit ‘n wêreld van rou En toe die twee groot blou poele later opkyk na my, sien ek deur die jare voor die kansel, haar aan my sy. Dan probeer ek maar net om nog dankie te sê, dat ek darem haar glimlag nog by my kan hê. Ken iemand die verdriet van die een, wat weet sy is op pad na ‘n wêreld alleen. En gereeld skielik bitterlik begin huil, asof alleen en verlate in haar eensame kuil. (terug) GEE JOU BLOMME SOLANK DAAR TYD IS Wanneer die glimlag om die mond, tot ‘n plooi vervou, wanneer die aanloklike lippe tot ‘n afsku vernou. Wanneer die skree van ‘n besie in die ore bly hang, wanneer skrik en vrees vir als word bang. Die tyd op ‘n horlosie het geen waarde meer, die dag, die week, die maand net nog ‘n keer. Alles rondom word in oorlas vervaag, alles, selfs slaap en eet kan nie meer behaag. En nou net sit met kop vooroor gebuk, en dink aan sinlose onmoontlike geluk. Soos drome droom in fantasie geleë, soos in die Grootboek aan ou manne toegegee. Om weemoedig te staar na hande wat beef, om darem te wys dat iets nog leef. Was Leentjie vandag al hier by my, of wat is my kind se naam .... ? EER JOU VADER EN JOU MOEDER EN BESOEK HUL SOLANK HUL NOG DAAR IS. DALK IS JY MôRE NIE MEER DAAR OM HUL TE BESOEK NIE. DALK SIT JY EERSDAAGS EN KYK NA HANDE WAT BEEF. (terug) NET VIR ‘n TYD Nou sit ek maar hier op die plaas alleen, met net die skapies en beeste om my heen. Darem is daar soggens vroeg ‘n haan wat kraai, asof hy die koms van die dag met vreugde verraai. Ook mossies wat sing in hul vriende kring, in vreugdevolle note verkondig, die dag wat die nag verdring Bytjies wat by blommetjies vergaar, asof hul koop by ‘n nektar basaar. Ek moet maar op, en my koffietjie gaan maak, alleen op die stoep my bekertjie smaak. Niemand om later my bordjie pap te deel, die dag voor my is reeds leeg gesteel. En waar ek hier sit, voor op die stoep, waar die sonnetjie ons elke môre groet, en ek uit gewoonte dan haar hand sou vat, slaan, om alleen te wees, weer met ‘n harde lat. Ons was so gewoon om dan die seën te vra, om ons die heel dag deur te dra. maar nou sit ek hier, ‘n geknakte riet, in die verlies aan haar, lei ek verdriet. O dalk is dit beter om glad nie eers ‘n vrou te hê, die gemis agterna sou dan niks kon sê. Die gevoel van verlatenheid in eensaamheid alleen, Is asof jy sit in ‘n graf, met net geween om jou heen. Maar dan al die jare van liefde en vreug, hoe sag en warm was die eerste soen vroeg in ons jeug. Blosend en skaam het sy haar ken gelig, verlangend in haar oë die liefdes lig. As alles saam tel word ek dan seker, dat soos Jesus gereel het is veel beter. Ons het tog toe al geweet dat die tyd sou kom, wat die doods engel sou sê, jul tyd is om. (terug) SAL DIT WEER VOLMAAK WEES Lewenslustig.... vol plesier Alles verdra ... elke gier Gehuil... saam met... elke kind Wanneer... pyn ... liggaam vind. Maar nou..... die sewende.. dag Het.. stadig... opgehou die ... lag. Nou dat... rustigheid..... moes ontspan Is nie ... wat voorheen.. kan. Vroeër .. saam.... ‘n lied gesing Elke dag .. in liefde .. met vreugd volbring Nou... elke dag... bietjie vir bietjie sing.... die dood.. ‘n afskeids liedjie. Langsaam ... die brein... al leër Gedagtes... een vir een... gegaan Sal die .. mens .. wat so... gebreek het Eenmaal weer... volmaak bestaan? Dink terug.... aan liefdes glimlag Blywees .. spontane... omhelsing elke dag Nou... elke liefdes daad Word ... traan ook ... agterlaat. moeilikste... verstaan, waarom.. so moet gaan. Altyd.. sag, vol.. liefde gepraat Nooit geskinder, raas .. of vloek gelaat. Miskien... dit beter so Beplan... vooraf gereel... van bo Betyds.. gewaarsku... deel mee gee kans... blomme gee Leer dan... Heer .... berus in raad, sonder dink... verkeerd.. praat oor kwelling... soeke... vrae wat dag en nag... gedagtes klae. (terug) WAT BLY OOR Liewe Jesus Ek voel siek en swak en uitgeteer, ek voel leeg en kan nie meer. Die pyn wat steek hier in my hart, voel, soos ‘n sindroom van smart. My hart se klep wil nie behoorlik sluit my liefste lek al verder daaruit. Kan ek nie ‘n siffie aan die klep vasbind, om te keer dat my liefste haar weg daar vind. Om in die môre vroeg wakker te raak, in die bed langs my het niemand geslaap. niemand om saam ‘n bietjie koffie te smaak, ook die meel van die pap moet ek net helfte maak. By geleentheid weer deur die blomtuin gestap, alles verdroog en heeltemal slap. Selfs die rose se blare was bruin en verdroog Die nood vir bietjie water was baie hoog. Blits vinnig het ek na die tuinslang gegryp, En my gehaas na die kraan van die lange pyp. Maar net toe my hand aan die kraan kon raak, Het die onsinnigheid van alles my weer leeg gemaak. Saans wanneer die skemerte om my daal, sit ek maar alleen daar buite, tot die vaak my kom haal. Maar eens in die bed rol ek vir ure heen en weer, wyl die verskriklikste gedagtes my brein regeer. Ag Here, kan ek nie by U ‘n voorskrif kry, om die verlange-sindroom mee te bestry. Is daar nie ‘n apteek daarbo met ‘n pil of twee wat genesing kan bring vir die smartlike weë Ek wil haar so graag omarm en sag met haar praat, maar ek staan met af- arms in ‘n doodloop straat. Haar gees het deur ‘n klep gegaan dis nog net haar liggaam wat in die siffie staan. (terug) HERE EK LAAT MY IN U HANDE Liewe Here Jesus - ek kniel voor U in vrees en bewing, ek voel verlore in hierdie omgewing. In ouderdom kan ek nie meer vinnig dink, haal ek nie in wat verder aan wink. Dit voel of ek op ‘n verkeerde pad stap, ek raak bang vir elk volgende trap. Dit voel of ek kom waar ek nie wil wees, gewone dinge om my laat my skrik en vrees. Vir baie jare .. het ek net gestreef om in die hoogste snel te leef om tot die hoogste top te styg na aansien, roem en eer gehyg. Ek was te besig - met myself gewees om tyd te maak - vir siel en gees. Selfs my kinders moes daar onder ly Nooit was daar ‘n dag om heel by hul te bly Aan begeertes wat reg gelyk het vas gebind Het ek geen rus en vrede aan die einde gevind. Vandag is ek ‘n geknakte riet, deur my eie versuim, ly ek verdriet. En nou Here, is ek met ‘n harde ruk uit my dwalings baan gepluk. wat ek gebou het, gedoen het - of verwerwe Als wat ek vermag het - lê aan skerwe Dis asof my lewe, ‘n droom paleis, gebou was slegs uit sand en ys. En nou dat die ouderdom daar teen kom waai het, het ek geoes wat ek gesaai het. Liewe Here Jesus Kan ek nog wat ek verloor het Uit die ruïnes van my lewe red Kan ek dalk die mens vergoed Wat in my ywer daarvoor moes boet. En helder kom die antwoord deur Dat niemand ooit die verlede steur Nooit kan jy uit die Grootboek vryf Dit wat jou lewe daarin skryf. Nee My kind, maar dis nooit te laat, kom na My dat ons oor jou toekoms praat. Kom sê vir My dat jy My sal volg, en Ek sal daarna vir die res goed sorg. (terug) DIE KERSGESKENK Klein Sannie sit wydsbeen op die mat, en vou goue blink papier, en bind ‘n tou rondom ‘n gehawende skoenedoos, sorgvuldig presies, geduld eindeloos. Haar pa, sien die blink van die goue papier die klein handjies se vermorsing, oombliklik tier sy ongeduld, en vaar teen haar uit, sy rede verstomp en verstand afgesluit. Koue vrees slaan teen die verskrikte gesiggie, maar in die ogies klein skyn skelm ‘n liggie. “Sien Pappie dis Kersfees, en die geskenk is vir jou daarom moet ek dit, in die beste papier vou” Effe verleë stap die vader stug aan, en laat die dogtertjie, verwonderd daar staan. Dit ontstel hom heelwat, die onverwagse gevoel Gaan als hier om ‘n ander doel? Met oukersaand en gesiggie wat straal, haar mooiste rokkie uit die kassie gehaal, kom staan voor haar pa, regop en fier “kyk tog lief pappie, kyk wat het ek hier.” Versigtig, om die papier te spaar, en al die strikkies op te gaar, slaan hy stadig die deksel om, en staar verbysterd heel verstom. “Die dosie is dan heeltemal leeg, vermetele grap wat jy hier pleeg. Dan is my beste papier ook daarmee heen. lyk my, jy wou my stilweg seën.” Is nie lief pappie, dit is vol geprop al my liefde is daarin gestop. Gisteraand toe pappie na die bed toe haas, het ek heelnag daarin lief soentjies geblaas. Al val die dosie ook hoeveelkeer om Die soentjies kan nie vanself daaruit kom. Maar vir die res van Pappie se lewe, kan net Pappie alleen Elke dag Pappie se hand insteek, en een daaruit neem. En ‘n jaar daarna was die huis heel leeg doelloos en soekend het die vader beweeg. Dit is tog nie moontlik, dit is tog nie waar sy moet nog hier êrens, iewers baljaar. Hoe kon ‘n mensie so dierbaar soos sy, so wreed en stil uit sy lewe gly. Sy kon nie eers ‘n afskeid woordjie sê met keeltjie wit verstop, net stil gelê. Haar kissie versigtig en netjies toegedraai en kwistig oral oor met strikkies besaai. Hy het die blinkste rol papier gaan haal, en so sy skuld probeer betaal. Met sy oë gesluit, net sy lippe wat bid, Het hy in skemerte alleen op sy bed gesit. Hy probeer keer op keer om haar weer te sien lag Maar al wat opduik is die pyn in haar oë, en die dood wat wag En vandag nog, allenig in die oue tehuis, met slegs die wind wat teen die geute ruis, Steek die vader ‘n vereelte en benerige hand, nog versigtig en stadig oor die doos se rant. (terug) DIE EERSTE WONDER O die rug gee my weer ekstra las, of ek nou sit of staan of lê, so asof duisend spelde my betas, en almal hul sê wil sê. Dan raak die mense stroom ook meer, en nog kom van oral aan. Klop aan die voordeur weer en weer, al my kamers is gedaan. “Kom kyk ma, kom kyk hier gou” Klein krullebol klink aangedaan. “Hierbo, reg bo ons gebou, het die groot ster stil gaan staan” Maar toe ek uitkyk, reg voor my plek, klink barensweë in skrille gil. Die weg van vroue staan vir haar gedek, die tyd kom sonder eie wil. Die jong vroutjie het stil gestaan, sy kon nie verder loop. Sou ek haar op haar weg laat gaan? Maar my kamers is uitverkoop! Die donkie stal is al genade nou, is darem warm en beskut Sal tog gaan vra vir die lydend vrou, miskien aanvaar sy dit. Effe later bietjie kos geneem, waar sy oor die kindjie waak. En skielik was my rugpyn daarmee heen, toe my hand aan hare raak. (terug) ‘n PRESENTJIE VIR GOD Wanneer jy weet die tyd kom nader Waar jy met die afgestorwenes gaan vergader Wanneer jy voel jou kers word kort En die vlam eersdaag ineen gaan stort Van al die skatte so om jou heen Wat gaan jy vat om saam te neem Waarmee sou jy in God se guns kan kom Wanneer die Doodsengel sê “jou tyd is om”. Soos jy uit die skoot van jou moeder uitgegaan het, Gaan jy naak weer heen soos jy gekom het. Jy sal vir jou moeitevolle arbeid niks saam dra Om daarmee God se guns te vra. Maar tog kan jy vooraf jou verblyf daar betaal ‘n Belegging in die hemel wat jou rente haal. Wanneer, sonder om enige iets terug te wil hê Jy in stilte, aan ‘n behoeftige gee soos jou hart jou sê. Want soveel keer as wat jy ongesiens dit aan ander doen Het jy eintlik jou met God versoen En so ‘n belegging in die hemel gemaak Waar mot en roes nie daaraan raak. (terug) IS ALLES TEVERGEEFS Om sommer net, op die lewenspad Sonder om te kyk op wie jy trap Sonder om enigsins om te gee Wie of wat jy uit jou pad uit vee. En so in jou haas om voort te beur Let jy nie op dat daar ‘n deur By die einde wag waar jy moet stop En verplig sal wees om aan te klop. Tot heelwat later ‘n vreemde stem, Vra “wat het jy met al die drif gewen Toe ek geval het heeltemal plat, Het jy met jou stewel op my kop getrap. Toe ek dors was met ‘n keel wat pyn, Het jy jou dik gesuip aan warm wyn. Toe ek verkluim was buite in die kou, het jy jou vir my gesmeek, doof gehou Toe ek nakend was, byna ontbloot, Het jy, uitgedos my weggestoot Ek was honger, my maag, plat en dun, Selfs ‘n krummeltjie brood, kon jy my nie gun. Ek ken jou nie, gaan weg van my, Vir die res van tyd sal jy oorkant bly. (terug) D I E S P Y K E R Die Bode van die Hof het na my huis gegaan, en met ‘n spyker ‘n skuldbrief teen die deur geslaan. ‘n Klagte teen my uitgebring, en sterk op betaling aangedring. Kon ek die skuld dan nie betaal, sou die Gereg my gou inhaal, sou ek in die tronk beland, toegesluit aan die verkeerde kant. O waarmee gaan ek my skuld betaal, Al verder in donkerte bly ek dwaal. Liewe Jesus! Ek het in die skuld beland my gewete jaag my van hoek tot kant help my Heer ek word verswelg hoe kan ek my skuld verdelg Nakend kom ek voor U staan, bring net ‘n spyker met my saam, en slaan ook nou my skuldelas, teen Golgota se Kruishout vas. (terug) DIE EERSTE KWAS Die Lam is geslag, gebreek is geen been. Wees waaksaam, bid en God sal jou seën. Trek skoene aan jou voete, jou staf in jou hand, maak gereed vir die Hemel jou beloofde land. Pyn en vernedering en Bloed wreed gestort, gehoorsaam verduur, dat jy vergewe kan word. stryk aan die deurposte en aan die drumpel bo die deur van jou hart, dat almal sien dat jy glo. Die Bloed het so vrylik vir jou lewe gevloei, Stryk dit aan jou hart as ‘n ewige boei. Dit dien as ‘n teken om jou ewig te maan, dat wanneer Jesus kom Hy nie verby sal gaan. Breek jou brood, drink jou wyn, die Lig sal kom en die newels verdwyn. kniel voor God in stewige band, net met ‘n takkie hisop alleen in jou hand. (terug) HOE GROOT IS U O Grote en Almagtige God Die hemel, kan U nie bevat nie U kry dit reg om in my hart in te pas U wat hemel liggame skep en rondskuif U wat hul laat lewe of vernietig U buk af om vir my te dra Alles buig voor U wil vrees en bewing verskyn voor U U wens is, dat ek in vreugd moet juig U het die aarde geskep, dat ek daarop kan loop U het water gegee, dat my dors kan wyk U voorsien manna, dat ek kan eet. U het my geklee, toe ek naak was U beskerm my teen die slang se pik U gee my slaap dat ek kan rus ek armsalige wurmpie U het my lief. Dankie Amen (terug) OOR ‘n JAAR VANAF NOU Waar wil jy wees oor ‘n jaar vanaf nou dalk nog besig met vandag se gebrou wil jy nie vorentoe, ‘n trappie ‘n tree of hou die genot van vandag jou teë Lê jou lande nog braak, sonder saad nakend van oes sonder enige waad?. Die beker wat jy oor ‘n jaar gaan drink sal smaak na dit wat jy vandag gaan skink. Die pad wat jy dan mee voort sal stap sal begin met die tree wat jy vandag gaan trap. Die oes wat jy dan gaan hê om te maai, sal wees van die saad wat jy vandag gaan saai. Dink dan my kind aan wat God jou gebied “in die sweet van jou aanskyn sal jy jou brood geniet” maar om dinge vir jou moontlik te maak het hy jou lewe gegee om oor te waak. Met sy Woord as jou ploeg en sy seëning as saad, en wilskrag as osse beurend teen distels en kwaad en sy Seun self in die touleier se plek om jou te rig na die veilige Hek. Sodat wanneer jy oor ‘n jaar van nou terugkyk oor die jaar se gebak en gebrou kyk dan in die beker wat jy self het geskink of jy heuning of dalk asyn moet drink. (terug) LEEF JOU VOORNEME O! Die jare van verkwisting, kon ek hulle weer deurleef. Ek sou hul my Heiland toewy, na sy eer gedurig streef. Gebruik dan nou die jaar wat voorlê, asof jy laas jaar weer deurleef. Want hoe jy die jaar ook graag wil hê, jy kan nooit laas jaar self herleef. Wy dan jou jare sonder verkwisting toe aan die Heiland, gee Hom die eer. Streef na God in blye verwagting elke jaar, elke dag weer en weer. Van jou jare wat verstryk is, sal jy nooit ‘n uur weer kry. Van jou afgelegde togte, nooit ‘n enkele skof weer ry. Met erkenning aan; Hal. 234 en CJ Langenhoven (terug) ‘n ENKEL TREE O tragies die trap van verkeerde tree, Wie wandel die weg van afdwaal weë Soekend, tastend in duister verdwaal, knersende tande waar oordeel inhaal. Gryp terug die woord te vinnig gespreek, byt af die tong, wat vuur aansteek. Sluk terug die braaksel van die hart, wat uit die mond uit opkom, stig smart. Saadjies van Satan, ontkiem in die dink, gedagtes geskep soos liggies wat wink. Keer die gedagte wat denke verkrag, bevrugting baar wense van duiwelsdrek mag. Al die smarte is alles tevergeefs, Die reguit pad sou makliker wees. ‘n Sagte woord sou wondere wek, laat gedagtes van liefde die wêreld bedek. (terug) GEE AAN DIE KEISER Skrifgeleerd in taal en wet, probeer met elke woord en set die man wat hul nie kan verdra, uit te vang en vas te vra. Spioene pas Hom op tot nou, elke daad word dopgehou. Sien of hul Hom vas kan trek, op ‘n woordjie, uit sy plek. Owerpriesters Herodiaan, voel vernederd, afgetaan, deur die man wat so maklik praat, met almal buite op die straat. Onderling, bespreek, besin, hoe om aksie te begin, nie die volk in harnas ja, ook die Keiser mag nie kla. Fariseër, Herodiaan, word gemonster, span toe saam, om ‘n vraag aan hom te stel, waar ja en nee, dieselfde tel. Met lis erken hul eers Sy leer, streel die ego oor en weer, Glo dat lof Hom kan laat swik, om vas te trek in woorde strik. “Sê ons, Meester, of ons moet, belasting aan die Keiser boet moet ons, ons suurverdiende geld, afgee aan die tol geweld.” Maar Hy bemerk hul lis en haat, na-ywer wat die kwaad laat praat sien dat hul Hom wil versoek, vaskeer in verstrikte hoek. “Gee aan my 'n stukkie geld. ‘wie se beeld word daar vermeld.’ Sou ons hom dan nie wil eer, met die deel wat hy begeer? Kom getrou die wette na. doen wat hy van julle vra. Hy is die hoof van hierdie staat, betaal belasting volgens maat. Onthou ook net van die gebod, daar gestel deur onse God, om met al jou verstand en mag, Hom lief te hê met al jou krag. Kom dan nou sy opdrag na, om evangelie uit te dra. Verkondig aan die wêreld wyd, dat liefde beter is as nyd. Betaal dan aan die Keiser trou, wyl jy Gods gebooie hou” (terug) VERLORE EN GEVIND ‘n Vader en sy seuns het saam gebly hul lewe geheel aan mekaar gewy Die oudste was op die Vader se hand gewerk in die tuin en ver op die land Dis jammer die ander was nie soos sy broer wou net daar sit, nie ‘n vinger verroer tot eendag die Duiwel kom klop aan die deur ‘n dag wat die jongste nog lank gaan betreur. Die dag besluit hy dat hy daar wou weg en saam met hom neem sy geboorte se reg miskien is die wêreld wat so vir jou wink beter as hier, het hy toe gedink. “Gee my wat my toekom,” vra hy toe sy pa die wou eers weifel, se later tog ja gewonder wat sou van sy jongeling word wat was verkeerd, wat sou tog skort?. Nie baie later maak hy bymekaar, die helfte van als wat sy pa het vergaar die deel wat hom toekom, sy geboorte se reg met mening en mag wou hy net daar weg. Na ver verre lande het hy afgereis hy sou die wêreld ‘n ding of twee wys ‘n wêreld wat lokkend en blink vir jou lag uitbundige plesier vir jou lê en wag. Maters was volop en maklik te kry solank as die geld deur sy vingers kon gly meisies en drank, niks het geskort alles was volop, die dae te kort. Toe kom daar droogte in die verre land en ook ‘n tekort aan sy sak se kant die vriende wat hy net met geld kon koop sit toe nog almal ook boonop op loop Deur honger en nood word hy toe verplig om voor ‘n vreemde neer te swig. die vuilste werk glo vir my is al wat hy te doen kon kry. “gaan pas die varke vir my op en sorg daar vir die hele trop kyk dat hul die peule vreet werk daar tot jou hande sweet.”. Hy sit daar met ‘n honger maag met krampe wat aan sy liggaam knaag as hy selfs net ‘n peul kon kry in stede van so honger ly. “Selfs ‘n huurling van my pa hoef nie soos ek om brood te vra hul leef in oorvloed welgedaan wyl ek van hongerte vergaan”. “Ek sal van hier af op moet staan om na my vader terug te gaan geen mens kan ly wat ek hier ly hier wil ek nie langer bly”. “Waarom” dink hy “sal ek nog twyfel aan my vader tog as ek om sy vergifnis vra sou hy my nie wil verdra” “Ek sal voor my vader prewel voor u en voor die Hemel ek het gesondig vergewe my maak my ‘n huurling aan u sy. Maar toe , van veraf sien sy vader hom al met die reguit pad langs kom sien sy klere, vuil, verskeur sien sy hart die terugtog beur. En in hom wel die trane op die blydskap wat sy hart laat klop hy gaan hom halfpad tegemoet om hom te soen, om hom te groet. “Vader” bid die seun hom aan “Ek het gesondig, en sal voortaan ‘n huurling wees, wat aan u sy vir u wil dien en by u bly “Bring die beste wat daar is sit aan hom voor ‘n lekker dis jul moet die vetgemaakte kalf ook slag dit is ‘n grote blye dag” “Gee ‘n kleed van die fynste kant sit ‘n ring aan sy regterhand trek skoene aan sy voete gou doen als waarvan hy die meeste hou” En in die veld alleen en sterk is die ouer broer nog aan die werk getrou aan wat sy pa verlang vereelte hande aan die gang. Terug na huis op sy wandelgang hoor hy reeds die beurt gesang musiek, jolyt, ‘n grote fees wat kan tog die rede wees “Jou broer is terug” word aan hom gesê selfs die vetgemaakte moes gaan lê jou vader is uitbundig bly gesond het hy hom terug gekry”. Stil staan die broer daar op die werf harde lyne uitgekerf weier beslis om in te gaan mee te doen aan hierdie waan. Die vader gaan toe by hom smeek “Weet jy wat maak my hart week jou broer wat weg was is gevind hy bly tog steeds nog maar my kind”. “Kyk ek dien u al so lank en wat het ek gekry as dank selfs ‘n boklam kon u my nie spaar om met my vriende te baljaar”. “Maar hierdie seun van u kom nou na hy hoeveel het verbrou na verkwisting van sy half slag u selfs die vetste kalf “En nooit was daar ‘n fees gehou om dank te sê vir al my trou dit klink so onregverdig skeef en laat my hart van woede beef”. “Sou jy as jou broer gevaal het hom uit die modder wou gehaal het of sou jy met ‘n harde hak sy kop daar onder in wou trap?” “Wanneer jy in ‘n vuilste sloot verval het in ‘n sonde dood wanneer ek sien jou diepste smart sou ek nog my hart verhard ?”. “Jou Vader in die Hemel leer dat sewentig maal sewe keer jy jou broer vergewe sal al het hy ook hoe ver geval” Laat ons dan nou vrolik juig en ons dankbaarheid betuig jou broer wat dood was, lewe weer wat weg was, het weer terug gekeer”. (terug) OOK VAN DIE SONDAG Of sou jy dit dalk anders wou hê, dat Ek op Sondag op my rug bly lê, dat net vir een sekond Ek nie aandag sou gee, aan die mens se behoefte, sy wel en weë. Soos die uitspansel daarbo so groot is my hand, Gelaai met seëning, van hoek tot kant. Ek is ook Heer van die Sondag en sal seën wanneer ek wil Laat jou lewe en denke nie van myne verskil Maar op ‘n Sondag maak jy ‘n braaivleis vuur, Suip glad te veel op die middag uur, Sport en drank en TV, my naam misbruik, Ook op ‘n Sondag sal niks jou stuit. Veertien keer per minuut trek jy suurstof in, Ook op ‘n Sondag is daar nooit te min Of jy min het of baie, jy het altyd genoeg Selfs wanneer jy oud is of in die soekeboeg. Ek het Sondag geskep dat jy kan rus van jou werk. Kom liewer en luister na my in die kerk. Daar doseer ek al my skapies en sien, ook op ‘n Sondag wil ek jou dien. (terug) SOEK DIE WYSHEID OP DIE REGTE PLEK Studie gee jou kennis. Ondervinding vermeerder dit. Wêreld kennis verdubbel tans elke elf dae. Maar met al die kennis van die wêreld, Het jy nog nie wysheid nie. Jy kan vlie tot by die verste ster, jy kan ‘n tonnel deur die aarde maak. Jy kan die see gaan leegskep, jy sal daar nie wysheid vind nie. In die verstand wat nie besoedel is nie, waar distels en dorings nie op droë rotse blom nie. Maar, waar liefde, vrede en verdraagsaamheid rus, gaan soek daar. Nie noodwendig by ‘n oue van dae nie, nie by alle volwassenes nie. Maar onbesoedel, soos by ‘n suigling, daar sal jy wysheid vind. God gee dit .. aan die wie Hy liefhet. Die aan wie Hy sy Gees gee, en oor wie Hy sy asem blaas. Die wie in Hom en sy Seun glo, wie in sy voetspore volg. Die’ het wysheid gevind. (terug) JOB 3 en uit “DIE JOBSBEPROEWINGE VAN JULIA VERMAAK” O! mag die dag van my geboorte geheel vergaan. Die nag wat gesê het, dat ek bestaan. Mag die son die dag - glad nie skyn, Mag die lig van die dag - geheel verdwyn. Ek ken nie sulke smart en pyn. Die lig het uit my lewe verdwyn. My siel in stukke opgekerf, die toekoms verduister, swart geverf. Kon ek maar betyds gesterf het, voor my moeder my verwerf het. Kon ek maar die laaste asem blaas toe ek my uit na die lig toe haas. Waarom wou borste my dan voed. Sou ek vandag nog daarvoor boet? Waarom wou hul heuning skink as ek vandag asyn moet drink? Waarom - behoort ek aan die Lig as my weg verborge is? Waarom sukkel ek deur ‘n lewe wat so vol sorge is? Want - wat ek vrees, dit kom my oor, waarvoor ek bang is lê my voor. Kalmte - het my ontgaan. Rus - hou op bestaan. Onrus -- jaag my na. Waar -- kan ek gaan kla? by Jesus by Jesus (terug) DIE EIENAAR SE SEUN Ek het in die tuin van die Verhuurder gebly, sorgelose lang luilekker dae gekry. Later vergeet om die huur te betaal, tot Hy my streng oor die kole haal. Toe fluks gehoorsaam ‘n paar dae lank, wyl als weer welig om my rank. So lekker dat ek weer sy reëls verbreek, en Hy my nogeens kwaai moes spreek. So het ek meer en meer teen Hom gefaal, en Hy sy Seun stuur om die huur te haal. Wie vriendelik en saggies praat met my, en sê “Ek skêld My pa se huur jou vry” “Glo net ek is Sy kind, dan sal Hy jou met liefde duld, en vergeet van al die huurgeld wat jy skuld. Dan kan jy vir ewig saam met my, gelukkig in my Vader se huis gaan bly”. Maar nee, ek spyker Hom aan ‘n kruishout vas, om ontslae te raak van die huurgeld las. Dis toe net daar wat verdriet en sukkel begin, met dorings en distels en vele onmin. Die vriendelike kind met die sagte stem, het so hard probeer om my liefde te wen. Was dit wat Hy vra, dan te veel om te doen, hoe kon ek liefde met distels versoen? Hou tog my hand Kind, hou dit styf en stewig, dat ek saam met U kan bly vir ewig. Dit het die vriendelike kind se lewe gekos, om my van sonde te verlos. (terug) DIE RYKDOM VAN GOD Lank gelede op ‘n skoletoer, was geleentheid gegun om na goud te loer. O! om ‘n staaf so koud in jou hand te hou waarop die wêreld so wreed, sy rykdom bou. Tot een aand ek let op die westerkim, waar die goud van God al hoër klim. ruim kwistig maar met kunstige kwas, elk donker wolk met goud betas. Sy gloriekleed lê wyd en breed opgestapel sonder mate, sonder meet die rykdom in grootheid so sierlik vermag, ‘n kunswerk, geskep deur God se krag. Na die son agter die horison verdwyn, verdiep, asof gelouter die goud se skyn, waar Meestershand, sterk in rooi kragtig die heelal tint en tooi. Nog later toe alles in skemer vervaal, bly die sien van sy krag in my gedagte dwaal die glorie, die goud wat so helder kon skyn, O God, laat u Lig in my nooit verdwyn. (terug) GEDAGTE OM TE HOU Aan die einde van jou dag sal jy altyd vind, dat die waarheid die beste is my kind. Onthou tog ook, om nie by te las, om stertjies te maak, soos dit jou pas. Om dinge te verdoesel, of dit te verberg, is ook ‘n leuen, is net so erg. Wanneer jy praat oor iets wat jy niks van weet, het die Leuen Satan jou aan die stertkant beet. Oorhaastige woorde voor jy die Waarheid ken, is waar die leuen die slagveld teen jou wen. Moet nooit in jou lewe op ‘n leuen vertrou, reg van die begin is dit een groot gebrou. Net soos ‘n kind wat kom - sal ‘n leuen ook groei, soos die sonde van die leuen al groter broei. ‘n Klein wit leuentjie kry so maklik plek, en ‘n grote is nodig, om die kleintjie te bedek. ‘n Leuen word bevrug deur sonde se krag, word versorg en gevoed deur skuld se mag Keer dan die leuen, nog voor dit ontstaan, laat die Waarheid liewer voor jou uit gaan. Vertel jou ma altyd alles, word dringend gebied, ‘n kort skande is beter as ‘n lang verdriet. (terug) VERGEWE JOU BROER As jou broer teen jou oortree, en nydig teen jou bedrog sou smee. As sy vingers veels te lank, vlytig reik tot in jou bank. En eendag teen die land se wet, luidrugtig dwars, hom sou verset. Die gemeenskap eendragtig hom verdoem, en skreeu, kyk wat het jou broer gedoen. Sou jy hom aan sy lot oorlaat, hom uitskop tot buite in die straat? Laat die skare hom vertrap, en jy lekker lag oor hierdie grap. Nee, nee neem hom met jou sterke hand, trek hom uit die sloot se rant. Druk hom teen jou boesem vas, laat hom voel dat hy daar pas. Gaan vra by God ‘n Peul vir hom Nooi hom om na Sy huis te kom Was sy voete, gee hom ‘n soen, dit is wat God wil hê wat jy moet doen (terug) DIE MINDERE EEN Indien ons ooit van mekaar verskil, en woorde val oor ei’re wil. Sou ‘n vallei ontstaan in een van gees, en vriendskap swig oor meer wil wees, neem tog my hand en hou dit vas, laat my voete in jou skoene pas. Sodat, as liefde nie optel tot dieselfde som, gee tog o Heer, dat die groter liefde, van my af kom. (terug) H E R E G O D ‘N DUISEND JAAR IS VIR U SOOS EEN DAG, SOOS GISTER, WAT VERBY IS, SOOS EEN ENKELE WAGBEURT IN DIE NAG. EN EEN DAG IS VIR U, SOOS ‘N DUISEND JAAR. IN DIE ALMAG VAN U TYD, IS ONS SOOS ‘N VERSKIETTENDE VONKIE, DIT DOOF BAIE GOU UIT. ONS KOM, EN ONS GAAN, EN WORD BAIE GOU VERGEET. DIE BRANDERS VAN DIE TYD SPOEL ONS VOETSPOOR VINNIG UIT. MAAR ONS IS GETROOS MET DIE WETE, ‘n DUISEND JAAR HET GEKOM EN ‘n DUISEND JAAR HET GEGAAN, MAAR U WOORD BLY VIR EWIG STAAN. (terug) 2008 Die begin van ‘n nuwe jaar is hier, En hoe! het jy sy koms gevier. Gekyk wie die meeste bier kan drink, voor jy sugtend af na die grond toe sink. En wyl jy daar in beswyming lê, nie in staat om nee te sê, toe kon jy nie die gevolge sien, van die sonde wat jou liggaam daar bedien. Dink dan my kind, voor jy die glasie lig, jou wil verdwyn in drank se sig. Skink liewer jou beker uit die Bron se vloed, van liefde en lewe uit Jesus se bloed. (terug) DIE REIER Eenkant, alleen op die wal van ‘n sloot, staan ‘n reier en droom, op net een poot. En soos die dag daal, en die hemel vervaal, dank hy sy God vir die padda se faal. Daar is van Sy kinders wat nie hoef te saai, en tog sorg Hy voorts dat hul mildelik maai. Hul lippies is nie verfraai met rooi, maar met grysheid, is hy in prag getooi. Daar is so min wat hy van die lewe vra, ‘n padda per dag, is sy Gena. Heeldag sal hy soek tot hy een vind, en dan sy maal met lus verslind. En jy my kind, is jy tevrede, met jou padda per dag op hierdie hede. Of wil jy graag nog poeding ook hê, en dan vergeet om dankie te sê. (terug) IS ‘N MOOI DAG Is die dag nie pragtig skoon, die wêreld lieflik om in te woon. Hoog in die takke se boonste lower, Glimlag die son, waar hy prentjies tower. Agter die lower, die hemelse blou, wat suiwer en helder die daeraad ontvou. ‘n Swaeltjie, in vrye vlug sweef hoog, wyl bytjie reeds aan nektar soog. Amandel bloeisels aan elke tak, druppeltjies dou aan spinnerak. Windjie sukkel om voort te beur, belaai met vrag van rosegeur. Die prag van groen en geel en rooi. van blomme wat my tuintjie tooi. Dit voel, of ek aan die hemel raak, so mooi, het God dit als gemaak. (terug) SKITTER MY KIND Dis koud, gevries, en wit geryp, Toevoer water gevries in pyp. Bome, van blaar gestroop, staan swart, Met punte wit waar ryp hul tart. Die lewe lyk soms net so vaal, geen gedagte wat kleur uitstraal. Gestroop van krag en moeg en leeg, Verduister, verdwaal in doodloop steeg. Maar kyk, die son kom op, hou maar net die hemel dop. Daar is geen rede vir die bestaan, om vas te vries in doodloop baan. Die wit van ryp op die tak van ‘n boom. vergrys soos dit smelt waar lig omsoom Op die punt van die tak se verste rant, bewe ‘n druppel voor dit stort oor die kant. Die son breek doudruppel tot blouwit glans, flikker helder, ‘n ster aan die hemeltrans. Skitter so, my kind, wanneer die Lig jou raak, Die Lig van jou Vader, wat steeds oor jou waak. Jou ryp laat smelt met Sy liefde so warm, Jou dra deur die sneeu op Sy sterke arm. (terug) OPGEDRA AAN SUSAN Die stoel staan koud, nog op haar plek, bord en lepel, ongedek. Haar porsie word nie uitgeweeg. Aan tafel, is haar plek nou leeg. Die kleinste kamer uitgesoek, agter die huis in ‘n buite hoek. Geduikte bed, ‘n halwe kas tevree gewees met elke las. Oorskiet krummeltjies wat somtyds val, het sy dankbaar opgetel. Wat ouer sussie nie meer wou, in haar laaitjie toegevou. En tog, kon sy gedurig lag, ‘n nuwe lied sing elke dag, asof ‘n engeltjie, ‘n soet geheim vertel het aan haar hartjie rein. Dankbaar kan ons wees vandag, as ons sien wat sy vermag. Uit die lelik eendjie klein, het ‘n pragtig swaan verskyn. Maar nou is vlerkies oopgesprei, ‘n nuwe lewe ingewy. Uit kragte diep en sterk en stil, beplan haar eie lewenswil. Sy weet presies wat sy wil hê, en sê ook saggies soms haar sê. Stil en sterk haar plek volstaan, vas en veilig op die regte baan Haar skat is op ‘n ander plek, waar mot en roes nie kan betrek. (terug) OPGEDRA AAN OUMA Koppie grys, skouers krom, oë glasig, skyn dof en dom. Geknopte vingers vol van jig, voel soekend oor die geel gesig. Rimpels op ‘n hoop gevou, gesiggie klein en afgeknou. Al opgehou om pruik te dra, hoe dit lyk gaan nie meer na. Voete koud, en hande beef, oud en siek en afgeleef. Al lank vergeet om af te sluk, pypie deur die neus gedruk. Die maag kramp rou van bietjie soet, suur kook op, van wat nie moet. Verkalkte are versper die dink, geen gedagte wat lokkend wink. Die laai is leeg en omgekeer, geen hede of toekoms, geen verlede meer. So daal die lig van ouma neer, die dag het na sy ent gekeer. Die kers is kort, die skyn is flou, dit sukkel maar, om aan te hou. O kan mens nie die horlosie draai, Om ‘n einde te bring aan wat so verwoesting saai. (terug) |
| © Kopiereg - Karel Ark, Alle regte voorbehou. Robert Janse van Vuuren hou die kopiereg van die gedigte op hierdie bladsy. |