Rita Britz
1. Krokodilgril

2. Land Claim

3. Vroegoggend

4. Biopsie tot Outopsie



Krokodilgril
*In eerbiedige erkenning aan Eugene Marais

Gaan weg!
Jy, jou growwe beskubde toongewebte gedoente!
Jy, met jou grillerige gladde gemene glyende gedaante!
Jy, wat boomstomponskuldig lê en wag
En met jou green sickness carrion glimlag lag…

Tussen die riete kom ‘n dors
Dors, na die lewende water
dors Mabalel
onbewuste en totaal oblivious en ignorant
dors Mabalel…

Mabalel, Mabalel, laat ek jou vertel:
“Dis die begin van ‘n eindlose hel!”

*Wag, wag, Mabalel!
Is daar niks wat jou vertel –
Is daar niks wat deur die duister
Bang en dringend in jou ore fluister
Van die gevreesde gesel
Wat jou vrolik’ lied beluister
Wat jou spoor hou, Mabalel?
Word jy niks gewaar
Van ‘n dreigende gevaar?
Voel jy nog nie, kil die snood,
Om jou hart die handdruk van die dood?*

Hy loer deur die verdrietriet met een bobbeloog,
Sy knobbeloog knyp hy toe.
Hy magneet haar nader en….
Eers slat hy haar met sy weerligstert:
Dish!

Dan gryp hy haar met sy cangereenstomp tande
(Nee, nie seesoutgesteriliseerde haaitande nie, nee)
Vrotgebroeide plaakbetaste, lykonbindende middeldeurbytende tande:
njap!

Dan dartel hy ballerinalig en
skoffelskop modderwolkies saggies
met sy spiesskerp toonnaels van die riviervloer op

Dan dra hy haar vleis na die donkerste alleenste bamboestronk
Met die son wat bedrieglik-hoopvolle
ligstrale na die bodem lok
Sodat sy daar kan lê en vrot en stink
Tot hy haar sielsous met sy rasperlippe
Van haar skelet afsuig
Snjirp-snjirp

(terug)


Land Claim

Eendag, as ek groot is,
en ek dood is,
gaan ek na die plaas van my geboorte terug.

Dan lê ek in my skelet met die hoëveldgras in my gesig en die wind wat deur my ribbebene suis en fluit
dan weer, oor my werwels, by my hol oogkaste uit.

Die sand tussen my toonbeentjies, is koel
Met die ryp op my skedel kan ek die bloekomblare met my benerige vingerpunte voel.

Elke brakgat, draaipan, klipplaat en wilgerboom, sal ek groet.
Ek sal liggies my voorvadergeeste by die kerkhof ontmoet.

As die maan rooi opkom agter die sandmielieland en die spookstronkvuur angstig in die stil stoof spoeg, spitsel en skiet,
hoor ek die sinkplate ritsel en sug: “Als is verniet..”
En die tarentaal by die waenhuis skreeu: “Verdriet! Verrrrdrrriiiieeeet!!”

(terug)


Vroegoggend

Soen my met my slaapspookasem
En jou sluimerspoeg
Verlei my met jou lenige luigelêde lyf
Vry my met jou murgbelaaide pype
Hou my vas en hou my styf

Sien jy my slaapgesusde oë en my droomgevulde mond?
My palm op jou rug se naat, jou kuit teen my sool se voet?
Kyk my moeggesluimerde arms, my rusgekreukelde skouers
Voel my gaapgeplooide, oggendgloeiende goed

Plooitjies papille pupille spleetjies
Holtetjies bultjies rondinkies
Hobbeltjies halfmaantjies knobbeltjies
Groefies skaniertjies skroefies maniertjies
Buigies en voutjies grepies strepies
Haartjies en aartjies en oksels en kuiltjies
En are en lyne en kontoere en gladdes en skewes en soepel en sag
En warm en lenig en… en…. En…. En…
En…

(terug)


Biopsie tot Outopsie

“Ons moet tog almal een of ander tyd doodgaan” sê sy

Mens kan geskiet, gerape,
geboelie, gebliksemd
ook doodgaan
Of miskien eet mens te veel kaas van die maan, verstaan?
Mens word miskien deur ‘n groot rooi bus doodgery,
Of miskien gaan mens dood van babatjies kry
Mens kan aan ‘n pistachioneut verstik
Of as ‘n slinkse slang jou pik
Of as jy te lank lag van ‘n duisendpoot se kielie,
Mens kan in ‘n grot wegkruip en just curl up and die
Of van ‘n back flip op ‘n skoppelmaai
Mens kan met ‘n pink Cadillac vrywillig by die
Grand Canyon afry

Of mens kan doodgaan van vry

What a way to go!

(terug)