![]() |
| Rita Britz |
|
1. Krokodilgril
|
|
Krokodilgril *In eerbiedige erkenning aan Eugene Marais Gaan weg! Jy, jou growwe beskubde toongewebte gedoente! Jy, met jou grillerige gladde gemene glyende gedaante! Jy, wat boomstomponskuldig lê en wag En met jou green sickness carrion glimlag lag… Tussen die riete kom ‘n dors Dors, na die lewende water dors Mabalel onbewuste en totaal oblivious en ignorant dors Mabalel… Mabalel, Mabalel, laat ek jou vertel: “Dis die begin van ‘n eindlose hel!” *Wag, wag, Mabalel! Is daar niks wat jou vertel – Is daar niks wat deur die duister Bang en dringend in jou ore fluister Van die gevreesde gesel Wat jou vrolik’ lied beluister Wat jou spoor hou, Mabalel? Word jy niks gewaar Van ‘n dreigende gevaar? Voel jy nog nie, kil die snood, Om jou hart die handdruk van die dood?* Hy loer deur die verdrietriet met een bobbeloog, Sy knobbeloog knyp hy toe. Hy magneet haar nader en…. Eers slat hy haar met sy weerligstert: Dish! Dan gryp hy haar met sy cangereenstomp tande (Nee, nie seesoutgesteriliseerde haaitande nie, nee) Vrotgebroeide plaakbetaste, lykonbindende middeldeurbytende tande: njap! Dan dartel hy ballerinalig en skoffelskop modderwolkies saggies met sy spiesskerp toonnaels van die riviervloer op Dan dra hy haar vleis na die donkerste alleenste bamboestronk Met die son wat bedrieglik-hoopvolle ligstrale na die bodem lok Sodat sy daar kan lê en vrot en stink Tot hy haar sielsous met sy rasperlippe Van haar skelet afsuig Snjirp-snjirp (terug) Land Claim Eendag, as ek groot is, en ek dood is, gaan ek na die plaas van my geboorte terug. Dan lê ek in my skelet met die hoëveldgras in my gesig en die wind wat deur my ribbebene suis en fluit dan weer, oor my werwels, by my hol oogkaste uit. Die sand tussen my toonbeentjies, is koel Met die ryp op my skedel kan ek die bloekomblare met my benerige vingerpunte voel. Elke brakgat, draaipan, klipplaat en wilgerboom, sal ek groet. Ek sal liggies my voorvadergeeste by die kerkhof ontmoet. As die maan rooi opkom agter die sandmielieland en die spookstronkvuur angstig in die stil stoof spoeg, spitsel en skiet, hoor ek die sinkplate ritsel en sug: “Als is verniet..” En die tarentaal by die waenhuis skreeu: “Verdriet! Verrrrdrrriiiieeeet!!” (terug) Vroegoggend Soen my met my slaapspookasem En jou sluimerspoeg Verlei my met jou lenige luigelêde lyf Vry my met jou murgbelaaide pype Hou my vas en hou my styf Sien jy my slaapgesusde oë en my droomgevulde mond? My palm op jou rug se naat, jou kuit teen my sool se voet? Kyk my moeggesluimerde arms, my rusgekreukelde skouers Voel my gaapgeplooide, oggendgloeiende goed Plooitjies papille pupille spleetjies Holtetjies bultjies rondinkies Hobbeltjies halfmaantjies knobbeltjies Groefies skaniertjies skroefies maniertjies Buigies en voutjies grepies strepies Haartjies en aartjies en oksels en kuiltjies En are en lyne en kontoere en gladdes en skewes en soepel en sag En warm en lenig en… en…. En…. En… En… (terug) Biopsie tot Outopsie “Ons moet tog almal een of ander tyd doodgaan” sê sy Mens kan geskiet, gerape, geboelie, gebliksemd ook doodgaan Of miskien eet mens te veel kaas van die maan, verstaan? Mens word miskien deur ‘n groot rooi bus doodgery, Of miskien gaan mens dood van babatjies kry Mens kan aan ‘n pistachioneut verstik Of as ‘n slinkse slang jou pik Of as jy te lank lag van ‘n duisendpoot se kielie, Mens kan in ‘n grot wegkruip en just curl up and die Of van ‘n back flip op ‘n skoppelmaai Mens kan met ‘n pink Cadillac vrywillig by die Grand Canyon afry Of mens kan doodgaan van vry What a way to go! (terug) |
| © Kopiereg - Karel Ark, Alle regte voorbehou. Rita Britz hou die kopiereg van die gedigte op hierdie bladsy. |