Renier Deysel
1. EENSAAMHEID VAN ‘N BEJAARDE



EENSAAMHEID VAN ‘N BEJAARDE
(Die agtergeblewene…)

Vir jare lank was jy soveel deel van my gewees,
Aan jou sy het ek die lewe nie gevrees…
Elke dag was vol van vreugde, soms ook pyn,
Agter elke wolk het daar vir my 'n son geskyn…
Daar was die herinneringe van angs en seer
Wat ons harte soms uitmekaar wou skeur…
Maar deur elke swaarkry en angs is ons gedra
Wanneer ons maar net op ons knieë om krag vra…

Jou alles het ek geken, tot in die fynste detail,
Die diep kyk in jou oë kon ek sonder meer peil…
Ek het verstaan wanneer jy moeg en afgemat was,
Kon sonder meer by jou gemoedstemming aanpas.
Ons het saam voor die Heer op ons knieë gestaan,
Met trane in ons oë in gebed na Hom gegaan…
Ons begeertes het ons na die Here gebring,
Sy Naam het ons met lof en eer need’rig besing…

Die Hemelse Vader het ons soveel jare saam gegee,
Ons vertroos, versterk, die trane van ons wange gevee,
Deur siekes en rampe was Hy altyd aan ons sy,
Met soveel gawes en seëninge ons harte verbly…
Maar na soveel jare saam, het jy weggegaan,
My alleen, verskrik en bang laat staan…
Jy móés gaan, my lief, ek weet dit was jou tyd,
Ek spreek uit verlange, nié uit verwyt…

My wêreld het meteens om my ineengestort,
Skielik weet ek nie meer, wat gaan van my word?
Die kinders is weg uit die huis, reeds getroud,
Ek het alleen hier agtergebly ,vervaard en benoud…
Uit my hart roep ek tot die Hemelse Heer,
Sien op my, U verlate en vereensaamde kind neer…
Ek het U nou nodiger as ooit, o Vader,
Ek bid dat U aan my sal staan, Heer, veel nader…

Versmagting na jou teenwoordigheid, my lief,
Noop my om aan jou te skryf woorde in 'n brief
Wat ek weet ek nooit sal kan aanstuur:
Ek kan hierdie eensaamheid nie langer meer verduur…
Ag, Here, hoor my gebed, ek vra dit
Met 'n hart wat pynvol in my keel sit…
Wil U my nie ook maar kom haal nie, Heer,
Om te kan wees aan die sy van my geliefde so teer…?

Trane rol ongehinderd oor my wange heen
Terwyl ek saggies oor jou sit en ween…
Maar… Wat was dit, hierdie sagte stem wat sê:
“In die holte van My hand mag jy maar lê…
Jou trane sien Ek raak, en Ek verstaan
Die emosies en hartseer waardeur jy nou gaan…
Ek sal hier aan jou sy wag, jou dra, My kind,
Tot ook jy jou pad na My en jou geliefde vind…

(terug)