Pieter Bonthuyzen
1. Griffelpen

2. My Tent

3. Hart se punt

4. Wie sê?

5. Boeretroos

6. Klaas Verlaat

7. Vergifenis

8. Skeur



Griffelpen
Griffelpen, griffelink,
Woord met geur, woord wat stink.
Pen wat op papier kan lek
Magtig is die woorde uit jou bek.

Swarte kol of die g se krul,
Woord van waarheid, woord wat kul.
Veerpen in die hand se mag,
Wie gaan huil en wie sal lag?

Vind jou weg op grys papier,
Lek jou woorde tog sekuur.

Pen van oordeel, pen van hoop
Kies wys die rigting wat jy loop.
Elke strepie los ‘n merk,
Raak die hart in die diepste plek.

Skryf dan gou jou laaste wens,
O, griffelpen van die hartseer mens.
Lek jou laaste woord van hoop
Voordat jou ink dalk uit sal loop.

Wie se hart sal jy dan raak,
Met die woorde wat jou inkbek maak?

(terug)


My Tent

My hart is my tent,
My tent is my huis.
Oral waar ek trek, of reis,
Dis hier waar ek mos bly.

My tent is maar eenvoudig,
‘n Lapkaia vir ‘n huis.
Na onrus dae en stormwind,
Kom voel ek veilig.
Tuis.

Soms is my tent verlig,
Ander dae bewolk en grys
Soms is my tent ook deurmekaar
Maar weet jy, dis my huis.

Daar woon kinders, hiér, in my huis
Hul skaterlag weergalm bly
Moddervoete of tranedal
Hier is my kinders tuis.

Wanneer alles dag-end rus
Steek ek wierook op in my huis
Die geur van genade, tevrendenheid,
Maak van my lappe-tent,
‘n Arm-mans paleis.

(terug)


Hart se punt

My hart se punt.
Hier sal jy prente vind.
Skaterlag in verf gekleur
Met tjoklithandjies
Teen my hart se deur.

Daar lê speelgoed
Op my hart se vloer.
Gesiggies wat van agter
Gordyne loer.

En vrae wat
In die gange hang
Hul grootword
Maak my skielik bang.

My hart se punt.
Hier sal jy my kinders vind
Grendelkluis, ‘n pa se hart
Skuilplek vir ‘n tweeling-hart

(terug)


Wie sê?

Wie sê ‘n man
mag nie huil nie?
Wie sê hy mag nie
in sy trane skuil nie?

Maar eers wanneer sy hart,
nat, oor sy wange rol
Word die hart weer skoon,
en sy beker vol.

(terug)


Boeretroos

Koffiekoppie, boeretroos
Sterk. Swart. Bodemloos
Boeredoepa as die moer so trek
Jy hou my wakker, jy maak my sterk.

O, boontjie-sap, jou wille ding
Dis oor jou dat ek nog ‘n slukkie skink
Roer jou soet, roer jou stout
Netnou, netnou, staan jy koud.

Oor jou bekerbek is veel gepraat
Van soggens vroeg tot sawens laat
O, koffiebeker, as jy kon praat
Deel met my jou wyse raad.

‘n Teugie aan die boontjiesap
Laat my bietjie in die tyd afstap.
Nostalgie en stowwerige gosie,
Verlore in my boeretrosie.

‘n Plaaskombuis met kolestoof.
Die eensaam lied van die ketel loof
die kosbare vrug, o koffieboon,
Wat ‘n boer vir sy dag se werk beloon.

Vereelte hand wat om die beker klou
Krampagtig aan dié troos vas hou.
Ja. Troos. Krag. Liefde.
Als lê daar in boeretroos.

(terug)


Klaas Verlaat

Op ‘n ou roes blik,
sit Klaas Verlaat.
‘n Alleen-geteug aan
sy twakpyp-speen.
En Klaas het g’n kind
of kraai of maat.

Voor sy kaia,
sit ou Klaas.
Sy gedagtes lê doer
op die horison.
Onder die Kalahari
bliksemson.

In Klaas se oë
kan jy die jare tel
Daar’s verhale in die
plooie op sy vel
Sy tuur is stip,
oor die boesman-veld.

Vir Klaas Verlaat
maak alles sin
Sy hoop is groot,
sy besittings min
Maar Klaas, ja…
Klaas se hart is skoon.

Klaas se genade kom van Bo,
Uit sy vertel kan jy maar glo,
“Daai Grootste Hand,my Kroon,
Dis Hy, wat ou Klaas so mooi beloon”

(terug)


Vergifenis

Dit weeg so swaar soos goud,
Sy gewig maak soveel mense oud,
‘n Bitter smaak draai in jou mond,
Dit vreet verbete aan die hart se wond.

Dit is eintlik relatief verniet,
As jy dit in iemand se hart uitgiet
Hardkoppigheid en trots raak suur
En die terughou daarvan so peperduur.

Onvergifenis bly nes kanker klou
Dit vreet jou siel en los jou rou.
Dit kom nie uit jou eie krag,
Op jou knieë sal jy vir God moet wag.

Vergewe mens, dit maak jou vry!

(terug)


Skeur

As liefde skeur…..

Ons staar na mekaar
Deur die trane deur
En staan tussen skerwe
wat flenters lê
Dis die stilte in die mond
wat alles sê.

Ons skuil dalk agter seer
In ons eie grot.
Maar ons bid vir krag
Van dieselfde God.
Wie was reg,
En wie verkeerd?
Sal God die meriete
In ons harte meet?

Maar ons, in ons flenter-tyd
Hou God tog albei van ons vas
Miskien, sal Hy tog verstaan
Dat ons harte, eenmaal, net nie pas.

(terug)