Marentia Kotze
1. Kom vertel vir my 'n storie

2. (Hou die maan nog snags)

3. (Stowwerige klippe en warm sand)

4. (Ek probeer aan jou raak)

5. (Blomme op jou graf)

6. (Maanlignagte, maanligdae)

7. (In die hartjie van lente)



Kom vertel vir my 'n storie
Kom vertel vir my ‘n storie
van sandduine en kameeldoringbome
van die Kalaharie-son en diamant-hemel-nagte
van swaar-kry en lekker-kry
van kaalvoetspeletjies tot by die opsitkêrs.

Kom vertel vir my ‘n storie
dan skryf ons saam die slot.
Ons maak dit mooi met wit klippies van die soutkrans
en maak dit ‘n net-vir-ons-storie
sonder ‘n tot siens.

(terug)


(Hou die maan nog snags)

vir Brian
Hou die maan nog snags
die wag oor jou,
as ek
in stille afwesigheid
my hand oor joune vou?
Is dit reg,
mag dit wees,
hierdie seer verlange
om jou nog net vir een blye oomblik
weer te sien?
Ek was daar en
het gehoor toe hulle sê
‘...stof tot stof...’.
Nou vra ek jou,
mag ek nog wens...,
mag ek nog hoop?

(terug)


(Stowwerige klippe en warm sand)

vir Brian
Stowwerige klippe en warm sand
onder my voete
langs jou graf.
Fraai blomme op ‘n hopie grond,
‘n hopie sonder hoop
sonder toekoms
hard en koud-
hard en wreed soos die woestynson
op hierdie wrede, bitter dag.

(terug)


(Ek probeer aan jou raak)

vir Brian
Ek probeer aan jou raak,
jou vingers deur myne vleg,
jou hare deurmekaar vryf,
jou laat onthou
van Heroldsbaai se strand,
Magersfontein se loopgrawe,
die Kalahari se sandduine
en Puduhu se waterstrome.

Maar ek kan nie-
nie deur harde, koue glas!

Dan praat ek met jou
-deur harde, kou glas-
en jou oë sê;
jy glo in my,
jy wag vir my,
jy ís lief vir my.

(terug)


(Blomme op jou graf)

vir Brian
Blomme op jou graf
vars, vrolik en mooi,
‘n prettige bont kombers
wat jou weg vou van alle seer en pyn
wat steeds
elke dag, elke nag
my hartkamers binne breek.

(terug)


(Maanlignagte, maanligdae)

vir Brian
Maanlignagte, maanligdae
met skemer gestaltes-
donker skaduwees-
vae gedagtes-
honger verlange-
bitter woede, en
seer verwyte.

Seer sonder end
in maanlignagte en maanligdae.

(terug)


(In die hartjie van lente)

vir Brian
In die hartjie van lente-
binne skone natuurprag,
‘n lied van verligting-
‘n nuwe lewe
na koue, wrede winter,
gaan jy weg,
en los ons met blomme-
blomme van hartseer-
blomme van onthou.

My sonneblom kind,
Met altyd blink-ogies

(terug)