![]() |
| Marentia Kotze |
|
1. Kom vertel vir my 'n storie 3. (Stowwerige klippe en warm sand)
|
|
Kom vertel vir my 'n storie Kom vertel vir my ‘n storie van sandduine en kameeldoringbome van die Kalaharie-son en diamant-hemel-nagte van swaar-kry en lekker-kry van kaalvoetspeletjies tot by die opsitkêrs. Kom vertel vir my ‘n storie dan skryf ons saam die slot. Ons maak dit mooi met wit klippies van die soutkrans en maak dit ‘n net-vir-ons-storie sonder ‘n tot siens. (terug) (Hou die maan nog snags) vir Brian Hou die maan nog snags die wag oor jou, as ek in stille afwesigheid my hand oor joune vou? Is dit reg, mag dit wees, hierdie seer verlange om jou nog net vir een blye oomblik weer te sien? Ek was daar en het gehoor toe hulle sê ‘...stof tot stof...’. Nou vra ek jou, mag ek nog wens..., mag ek nog hoop? (terug) (Stowwerige klippe en warm sand) vir Brian Stowwerige klippe en warm sand onder my voete langs jou graf. Fraai blomme op ‘n hopie grond, ‘n hopie sonder hoop sonder toekoms hard en koud- hard en wreed soos die woestynson op hierdie wrede, bitter dag. (terug) (Ek probeer aan jou raak) vir Brian Ek probeer aan jou raak, jou vingers deur myne vleg, jou hare deurmekaar vryf, jou laat onthou van Heroldsbaai se strand, Magersfontein se loopgrawe, die Kalahari se sandduine en Puduhu se waterstrome. Maar ek kan nie- nie deur harde, koue glas! Dan praat ek met jou -deur harde, kou glas- en jou oë sê; jy glo in my, jy wag vir my, jy ís lief vir my. (terug) (Blomme op jou graf) vir Brian Blomme op jou graf vars, vrolik en mooi, ‘n prettige bont kombers wat jou weg vou van alle seer en pyn wat steeds elke dag, elke nag my hartkamers binne breek. (terug) (Maanlignagte, maanligdae) vir Brian Maanlignagte, maanligdae met skemer gestaltes- donker skaduwees- vae gedagtes- honger verlange- bitter woede, en seer verwyte. Seer sonder end in maanlignagte en maanligdae. (terug) (In die hartjie van lente) vir Brian In die hartjie van lente- binne skone natuurprag, ‘n lied van verligting- ‘n nuwe lewe na koue, wrede winter, gaan jy weg, en los ons met blomme- blomme van hartseer- blomme van onthou. My sonneblom kind, Met altyd blink-ogies (terug) |
| © Kopiereg - Karel Ark, Alle regte voorbehou. Marentia Kotze hou die kopiereg van die gedigte op hierdie bladsy. |