![]() |
| Louisa |
|
1. Tafelberg 5. Ek skryf vir jou ‘n liefdesbrief 7. (Ek moet ophou vir jou skryf) 8. (Ek het besluit om jou te gaan soek)
|
11. (Ek het besluit...) 16. (wie het jou lag gesteel?)
|
|
Tafelberg Ek het ‘n opgewonde oproep van jou gekry, Ek sien die berg my lief sê jy... Die hartseer het skielik in my keel kom sit Dit was ons berg my lief, ons see my lief ons en nog ons altyd... jonk en vry... ek en jy (terug) Verlange Deur die donker strate, deur die doolhowe van verlore siele, Het ek gery, Ek het na ‘n warm bybelverhaal en milo en ouerhande wat omgee verlang, En ek het verlang na jou. (terug) Beperkende Ruimte Die beperkende ruimte versmoor my; Die engheid van julle denke bedreig my; Ek is vasgevang in julle hier en nou; Maar my siel het vryheid geeis; Bo die denke van die armsaliges; Bo norm en menslike standaard (terug) Ek wou Ek wou so graag vinnig in jou siel probeer inkruip, Ek wou so graag glo Ek wou so graag omgee op jou hart skryf Maar ek is ‘n vrou En jy is ‘n man Ek wou spontaan vir jou vertel van my Oorborrel , impulsief miskien selfs ‘n bietjie laf wees Maar ek is ‘n vrou En jy is ‘n man Ek wou vir jou ‘n rots gaan wys, hoe vas ‘n rots kan staan, Tussen branders en malende waters Ek wou hè jy moet verstaan, Maar ons tyd het uitgeloop … so vinnig Die rots staan nog steeds, Maar ek is ‘n vrou En jy is ‘n man. (terug) Ek skryf vir jou ‘n liefdesbrief Ek skryf vir jou ‘n liefdesbrief met die hoop dat my woorde sal vlerke kry en jou bereik, woorde van omgee en teerheid, sodat dit vry kan opstyg ver van hierdie wêreld se boosheid. Ek skryf vir jou ‘n liefdesbrief van hoop en van vergifnis en suiwer omgee. Maar ek is jaloers oor die inhoud en moet seker maak dat net jy dit kan lees. net jy, met jou sagte oë en mooi siel. Ek skryf vir jou ‘n liefdesbrief… (terug) (Die Deur) Tog interessant die groewe op die ou verweerde groenhout deur, Die deur is toe, hou my weggesluit van jou en jou wêreld. Ook reg so, ek verdien nie ‘n deel van jou wêreld nie, Tog as ek jou gesig nog net een keer kan sien Miskien net my oë kan rus op jou gesig se bekende lyne, Wat eens myne was. Ek sou weer veilig voel, soos toe ... My wese sou die ou bekendheid verwelkom het. Maar nou kyk ek vas in die groewe van ‘n ou verweerde groen hout deur … (terug) (Ek moet ophou vir jou skryf) Ek moet ophou vir jou skryf want die herinneringe raak te pynlik, Ek moet my verskans van die pyn, Die dun grens van my siel; my hele menswees kan breek Ontbloot en naak… Ek soek jou nog steeds, jou bekende profiel Tussen die massas Ek soek jou in die newels van bedwelmdheid Ek soek jou in die raar oomblikke as ek ‘n mooi sonsondegaan naby my toelaat Klein brokkies van lèèf wat somtyds deurskemer (terug) (Ek het besluit om jou te gaan soek) Ek het besluit om jou te gaan soek, Ek wou jou siel bind met myne Sodat daar ‘n woord soos ewigheid kan bestaan, Maar ek het verdwaal; ‘n afdraaipad gemis. Jy het jou siel weg verskans van my En ek het vereensaam weggedraai… (terug) (ek verlang na jou) Ek verlang na jou, soos gister en eergister en miskien ‘n leeftyd terug, Ek verlang na jou oë en hande. Na die manier waarop jy na my kyk. Ek verlang na jou liggaam, na die manier waarop jy ruik Ek wil by jou wees, altyd … Daar is nie rasionaliteit Daar is geen rede Daar is net ‘n onverklaarbare ewigheidsdimensie wat geen sin maak nie Geen verduideliking geen gevolg Net ‘n hier en nou Die onverklaarbare euforie voor die pyn wat My liggaam stelselmatig gaan verteer Totdat net die donker donker sal oorbly (terug) Nooit Gevind Ek wonder oor jou... Soos gister en eergister en miskien ‘n leeftyd terug Ek soek jou in elke Lavender reuk Ek soek jou in die sterre Ek soek jou in elke sonsondergang Ek soek jou laataand in my onrustige drome Ek sal jou nooit vind nie Want jy is net ‘n skim…’n illusie (terug) (Ek het besluit...) Ek het besluit om die nag agter te laat, so asof dit my keuse kan wees, in die menswees verstrengel, in die “uit” hokkie geplaas. Ek het sin gemaak, afgewit en skoon. dit was maklik dit was norm, dit was tydelik… (terug) Ek Soek Ek soek dieper in jou siel, dieper en dieper Ek wil gretig elke faset in jou kamer van menswees gaan opsoek En myne maak Ek wil jou verower, ek wil jou voel soos sagte reëndruppels Wat onbeskonke op my gesig val, ek wil weer glo in kindwees, alles oorheersend mèns al is dit net tydelik... (terug) Tyd Die tyd stap aan… Ek mag maar oor jou menswees loop, Vergruis in woord en daad Dit is my reg, daar is nog tyd ‘n Ewigheid in eiewaan. Dis ek, dis ek, kyk na my, Die grootste egois, Daar is nog tyd, daar is nog tyd, Regmaak is om die draai … Jou tas gepak, jou hart gesluit My tyd is nou verby… (terug) Pieter My liefde vir jou was suiwer, skoon; kleindogtertjie skoon. Die oproep het ‘n seerkol op my maag kom maak; Diep in die nag; vroegoggend … miskien na drie Wat het jy op daardie pad gemaak? Hoe kon ek jou pyn vir jou wegvat, hoe kon ek help? Altyd soekend nooit gevind, en ek; onbeholpe Grootmens word het tussen ons kom staan Soveel dinge ongesê, Ek verlang na jou, ek sal altyd, Wag vir my… (terug) Baba gebed vir my seun Jy pluk vir my met lomp vingetjies ‘n Oupa-se-hoed blommetjie. Ek ruik jou son gevangde baba lyf teen my eie, Ek verstom my aan jou perfekte baba voete, wat sag in my hart kom trap Ek wonder oor jou volmaaktheid, en die bang wat vlak kom lê. Here, gaan met hom, beskerm hom van skurwe hakskene en ‘n skewe lewe, laat hy altyd die son op hom voel, moenie die nag te donker maak nie. Laat hy U ken in al U groot genade, laat hy skuiling kom soek by U kleed. Die baba laggie weerklink tussen vlinders en blomme; En ek weet my lewe is volmaak. (terug) (wie het jou lag gesteel?) Ek het lank na jou foto gestaar, baie lank, En ek het gewonder … wie het jou lag gesteel? Jy kon altyd so onbevange lag. Die kilheid van menswees het vlak in jou oë gelê. En ek het gewonder of jy nog kan onthou… Daar was ‘n ander plek en ‘n ander tyd en net ek en jy en die lewe en die liefde en uitbundigheid... ons het die lewe met albei hande aangegryp en nog geglo… so sê my… wie het jou lag gesteel? (terug) |
| © Kopiereg - Karel Ark, Alle regte voorbehou. Louisa hou die kopiereg van die gedigte op hierdie bladsy. |