![]() |
| Karla Kerfhout |
|
1. Gewoonte
|
11. Student
|
21. Onsekerheid
|
|
Gewoonte Soos alkohol het die gevoel verdamp, ‘n druppel ‘n dag. Vlugtig het dit tot niet gegaan, totdat niks die bodem beslaan. Was die inhoud ooit aanwesig, of het persepsie die spasie gevul? Was die houer ooit geseël, veroudering sy deel? Vas het ons gehou aan leegheid, iets geseël sonder inhoud. Die uiteinde is net sentiment, en ‘n datum 14–10–2000. (terug) Hortjiesvenster Hortjiesvenster, jy raam reëndruppels wat die maan blinkwit omlyn. Daarmee saam behou jy beloftes, gedeelde gedagtes verweef, ragfyn. Wanneer die druppels saamsmelt tussen die hoeke van jou bestaan, vervleg twee siele tot eenvoud en vind 'n rusplek in jou naam. Soos ek my opkrul teen sy lyf en liefde tasbaar werklik is, raam jy, ou hortjiesvenster, ons weerkaatsing in jou gesig. (terug) Wees-hart Hierdie hart is gekerf uit omgee, en leef om lief te kan hê. Sy polslag ken die ritme, in genade en hoop het hy belê. Die jaarringe in die kern is tydlyne van onthou. Op soek na die ander helfte, wat sonder die ander sal rou. Woorde kan 'n hart verwoes, en 'n weeshuiskamer koop, eensaamheid vir 'n kosbare skat, dis nie werd om hierdie pad te loop. (terug) Meraai 30 Jan ‘73 – 06 Okt ‘08 Hier naby in die grasveld, troon ses groen boompies saam. ‘n Familie in hegte eenheid, wat in die skadu’s van mekaar kan staan. Toe kom ‘n stootskraper eendag en ontwortel die middelste een. Geen meer skadu vir die kleintjies, wat nou bid vir sagte reën. Die drywer word gestenig! “Hoe kon jy wees so wreed, om liefs die boompie te laat lewe wat om verlossing smeek?“ Daar’s rede, onverstaanbaar, al sluk die leegheid ons in, Al veg ons met ons Here, en al maak Hy glad nie sin. (terug) Wrede Besef Hoe begryp 'n mens die wese van 'n ander siel? die baie deure in die gange die donkerte in elke hoek Die vrae, duisend vrae en die soektog na 'n stukkie son is daar 'n leidraad, 'n flikkering wat ek in die toekoms kan vertrou om my te lei na waarheid te gaan wys wat in jou hart lê... al staan daar op die binne blad dat dit nie ek is wat jy wil hê. ek soek 'n rusplek in jou skoot 'n arm om my te omhels 'n kus wat alles gesond maak en iets wat my hart aanraak 'n woord vergesel deur liefde 'n blik wat beloftes inhou Hoe wreed die besef dat jou kind se onskuldige liefde dit driedubbeld omvat wanneer sy snags se: "Mamma lê by my" en dan aan die slaap raak met haar neus in jou kuiltjie (terug) Genoeg Trane Beloftes, drome, liefde, wense alles saamgevat in 'n traan wat oor jou wang rol en soutspoor in jou hart Weeg emosie, nadenking en hoop 'n enkel druppel 'n ton uit 'n bloue, gryse, groen of grou om die gewig buite jou hart te hou Gekompakteer oor jare die put oorlopens toe vol die wal se krake wys dat die trane moet verhuis (terug) 'n Skadu (12 Mei 08) vir Nicola Bewaar hierdie kosbaarheid in 'n tere kokon toegespin en streng bewaak 'n skat wat die lewe draagbaar maak Gepluk 'n blaartjie, 'n druppel dou om die blomkelk te laat ontvou in die skadu van die eikeboom vergestalt die wese uit ons droom In hoop en liefde toevertrou die bome het ophou rou die witste lelie die mooiste blom die rykste grond laat die woud verstom (terug) Gewaarwording Koop leefstyl vir ‘n uur met goud wat ‘n lewe bestuur Gee prys die waarde in jou siel Voor tyd en doel het jy kom kniel Besef die eenvoud van ‘n mens bestaan dat jou liggaam ook eendag sal vergaan Leef jou hartklop, jou wensgedig dis ‘n lantern in jou lewe, jou enigste lig (terug) Wedloop teen Tyd Versnel jou pas, jaag die res maar redelik vaag Jou doel, jou enigste merk kyk hoe vinnig kan jy vertrek Jou skatte ‘n eensaam hopie maar jy gaan hulle ook nie verkoop nie Hopelik bly hulle daar lê totdat jy eendag vir hulle kan sê "Ek leef vir julle, my liefde is groot” “onthou julle ek was saam by die doop?” “Nee, wie is jy hierdie vreemde mens, wat bly aan die anderkant van die grens?” Bo wondere hoop ek die besef is gou dat jou woorde nie heet “dit wat ek wou” (terug) Blomtuin 'n Stem fluister sag... dis Vroegmore-dou se helder lag Blink druppels stry teen gravitasie en skitter tussen son se strale-spasies In die delikate vou van die blom se mooi is 'n goudgeel verfpot omgegooi Gogga-spoortjies tot by die bruin van sonneblom se saadfontein Die steel 'n leertjie vir mier se loop Die blomme in my tuin is nie te koop dis vir jou met liefde in seisoen geplant vir vroegmore koffie aan die noorde-kant (terug) Student Goeiemore almal ek is sus en so Jy begin met jou lesing Die eerste stap hierbo Voor in die klas my stoel Jou aanslag professioneel Kennis my doel Ons het mekaar voorgestel Vandag is jy my beste pel (terug) My Verlore Skerf Toegestoot Maar jy't ingeloop Jou tapyt kom lê By my hart se stoep Jou naam gekerf Die "Verlore Skerf" (terug) Donderweer Reën masjeer suutjies opsoek na grond 'n stem roep bulderend vanaf die front Hy hou sy pas en rol maar voort Iewers sterf hy 'n stadige dood Neonlig flits blitsvinnig en helder Vanaf die stoep tot by die grafkelder Reën masjeer al vinniger nader 'n Lafende seën van Onse Vader (terug) Gejaag na wind Opstaan en wakker word Jy't e-mailens om uit te sort 'n voorlegging om 11 'n onderhoud om 12 Drukkers toe om 1 Jy't jou hart en siel vervreem Dryfkrag het jou lewe geneem (terug) Heidi Zet jou naam, Alf is ek gedoop Op blink skoolstoepe het ons ons skoensole gestroop Poetse gebak, erstig studeer Lewenslesse het ons saam geleer In kleur het jy my tyd omring En jou lag elke dag saamgebring Verdwaal het jy eendag Weggekruip Soekend agter elke kluit Jou dogter gevind wat pas 10 sou merk Jou siel by haar op dieselfde plek Ek hoor jou giggel Ek sien jou oë Ek hoor jou stem gereeld van Bo Hoe mis ek jou vanaand vriendin Ek het jou gees en siel bemin (terug) Nicola My oë sluit en moeg wanneer prentjies kom vertoef haar bestaan weergalm sag In my hart skuil haar kinder-lag Haar trippe-toonjies trippel En onderteken my hoop se gang in die uurglas sonder sand weerkaats 'n prentjie uit feetjieland Haar hartjie roep Mamma waar is jy? Het jy my kom haal of het jou en pappa se drome verdwaal? Ogies vaag Het twyfel verjaag in waarheid is jy ons droom het ons die kleinste siel verloon? (terug) My Beste Pel Op my skoolbank uigekerf Staan jou naam in hout geverf Jou ponytail hang op my boek Waar die son 'n sagte rusplek soek Die klok lui hard Ek gryp jou hand ons hardloop vir die hek ons wil die tyd vir ewig rek Kruisbene, toebies deel onder ons boom geheime geruil en saam gedroom By die hek het ek jou soggens gekry Beste pelle Ek en jy (terug) Verdwaald Verdwaald... My eie stem ego... in leë spasies keer sy terug die akoestiek wil my verwurg Wie... steel 'n glimlag? uit 'n sonneblomtuin gevat jou ysvingers verniel die skat Opsoek... na Loerie en Vink 'n lowergroen bos het jy hulle buite in die koue gelos? Iewers... In 'n donker hoek 'n galgtou waar ek antwoorde soek 'n loergaatjie soos 'n diamant se punt die enigste uitweg - dit laat ons blind Weg... is storieboek-drome, of is dit nie? Gevee tot by die rant of dalk die bladsy se anderkant? Om self te val na benede Om toe te laat - wat is die rede? (terug) Tyd in Woorde 'n Gedagte bind jy vas in 'n jaar vergaan hy nooit in woorde oorhandig jy jou tyd in filosofiee en wysheid Stories geskryf Gedigte ontdek In seisoene gemonteer By ons uitgekerfde rusplek 'n Houtmens-hart vind 'n ander Ons praat ons moedertaal Die rooiblink van die son is joune - nie 'n stuk beton Drome vasgepen op blaaie in eens stofbesaaide laaie Jy kom vir my die sterre wys en die maan se krater-grys Tyd... ek wens jy't stil gestaan om ons denke te vermaan Die laaie se sleutels le op die kas Onthou-woorde veruil, vir tyd se pas (terug) Karah Ek plant 'n soen op jou baba-wang my vingers kielie-gogga gaan jou vang Jy plooi jou neusie soos 'n chappie geplak en blaas soos 'n eendjie daar op jou sitvlak Jou oker-mos-ogies blink in die son en giggel-lag lekker jy kan maar kom Jou tongetjie steek jy tot by jou kennebak jou klokkie-bek ek gaan hom vat My Onderstebo'tjie my Spook-stert-kind Jy's my klim-wouter-apie My hart se punt (terug) Onsekerheid Verlore is my hart se gang Waarom word ek vir liefde bang? ‘n stukkie gegee ‘n belofte gesmee Hoe verduidelik ek my hart se wee? My hart vra vrae My kop verweer Die yskoue, genadelose seer Bang slaan ek die hekke toe Die spoke dryf my in ‘n hoek Ek staan versteen Tot ek verneem Jy is die hoeksteen waarteen my hart nou leun (terug) Ontblote Hart Oopgewaai... tot op die middelblaai Daar, lê my hart ontbloot Oopgespêr ,in liefde se skoot ‘n Verborge plek nou oopgevlek Vir druppels modder en wind spore wat hulle weg kom vind Maar die laaste blad Behou die grootste skat My boek was gelees Getiteld “Liefde sonder Vrees” (terug) Opgewondenheid Opgewondenheid – jou klawer-kind Jy vind ‘n rusplek in my siel Jy speel die note wat ‘n traan verslind en nooit die gemoed verniel Jou vingerafdrukke definieer Die dimpeltjies van jou lag Jou oogknip konsolideer Die helder prenjies van vandag Jou gedrag ‘n goue ster Wat jy in my boek kom plak Jou giggel nie ‘n dagreis ver Net in die spens gepak (terug) Geraas in my Hart Dromme weerklink in die stille na-nag Simbale oorverdowend – knaend Geraas in my hart se rustige gang Skril note gaan my in die paadjie vang Waar ‘n rustige wind in die nag moes wees Het geraas ontaard in my grootste vrees Klassieke musiek het jy kom speel Die rustigheid is nou weggesteel ‘n Stem so sag, om liefde te kweek Dwing my op my kniee -en ek smeek Vir die wind om sy pad terug te vind Geraas iewers elders vas te bind (terug) Jou Boekrak Astronomies die omvang die boekrak van jou hart Rugkante gelyk, in duisende gepak, Alfabeties op die donkerhout rak Jy pluk die woorde van ‘n sin En oorhandig dit aan my ‘n wese wat ‘n siel bemin die gedagte laat jou vry In jou wereld maak jy my tuis boeke wyd oor die mat verspreid Sprokiesverhale uit jou huis Ek wil vir jou die heelal wys Toe ek vandag na jou boekrak kyk Was alles teruggepak Dit het so perfek gelyk Maar die woorde het jy weggevat (terug) Pitkos Jou woorde, die bankie in my park Jou liefde, die herfsblare - nadergehark Afpluk-briefies uit jou hart gepos in die kleure van duisende kosmos My adres: h/v Parklaan en Droom Dis die pitkos hierbo wat my hier wil laat woon In drukskrif - gedigte uit jou boek onbekende passie al jare op soek Toe word die bome gesloop en al die bankies verkoop...vir 'n "Convenience Store" - I say no more - My spoedige vertrek na 'n pit-kos-plek teenoor my hart genadig my siel, onversadig (terug) |
| © Kopiereg - Karel Ark, Alle regte voorbehou. Karla Kerfhout hou die kopiereg van die gedigte op hierdie bladsy. |